Die Brug se Tina vertel van haar lewensbrûe
'n Centurion-ma van drie het nie gekeer dat tragiese verliese in haar lewe haar terughou om die lewe met al sy struikelblokke te omhels nie.
Centurion-sakekonsultant en ma van drie, Tina Linder, (45) is eerlik oor die rede hoekom sy vir die kykNET-werklikheidsreeks Die Brug ingeskryf het.
“Ek het tans baie finansiële druk. Ek het die R1-miljoen prysgeld gesien en gedink ek kan ’n paar gaatjies daarmee toesteek. Ek het gedink ek kan van die geld gebruik om my een dogter verder te laat studeer en my ander twee kinders se skoolgeld te betaal,” vertel die blondekop openhartig.
Die deelnemers is gekies uit avontuurlustige inskrywers wat vroeër vanjaar gevra is of hulle aan ’n opwindende nuwe realiteits-TV-kompetisie wil deelneem.
Die Brug bring ’n groep vreemdelinge byeen in ’n afgeleë, onherbergsame gebied waar hulle ’n epiese uitdaging moet voltooi wat hul fisieke krag, uithouvermoë en vindingrykheid tot die uiterste toets.
Deelnemers moet saamwerk om ’n enorme brug na ’n eiland te bou om die kontantprys van R1-miljoen te wen. Slegs een deelnemer wen egter die prys en moet dan besluit of die prysgeld gedeel gaan word.
Linder is ’n enkelma nadat sy haar eggenoot onder tragiese omstandighede verloor het. Morné Linder is in 2017 ernstig beseer toe iemand hom in ’n kroeg geslaan het en is gou daarna oorlede.

Linder kén tragiese verlies en komplekse rou.
“Ek kry myself nie jammer nie. Ek het net vir ’n lang ruk gedink die lewe is só onregverdig, maar dit bring jou nêrens nie,” glo sy nou.
Sy moes ook die dood van haar pa, wat sy lewe geneem het ’n paar jaar vantevore, sowel as haar ma Marina Rossouw se onlangse dood as gevolg van longversaking, verwerk.
Die dag toe sy moes vertrek om die werklikheidsreeks naby die dorpie Buffeljags naby Swellendam in die Wes-Kaap op te neem, is haar ma gehospitaliseer.
Sy het toe reeds ’n geruime tyd by Linder gewoon en was ernstig siek.
“My ma het voor die verfilming baie agteruit gegaan. Ek sou vir drie weke weg wees en was bekommerd oor my kinders. Ek kon nie van haar verwag om na hulle te kyk nie. En ek was so bang sy gaan dood as ek weg is,” vertel sy aangedaan.

By die hospitaal voor haar vertrek na Buffelsjags het Linder en haar ma belowe om mekaar weer te sien.
“Sy het my maak belowe as iets intussen met haar gebeur, sou niemand my bel nie. Sy wou hê ek moet in vrede kan klaar maak. Ek het ingestem, maar geglo niks gaan gebeur nie,” beklemtoon sy.
Dit was ’n blye weersiens toe sy wel haar ma kon sien toe sy terug gekom het nadat die reeks vroeër vanjaar voltooi is.
Die reeks word tans uitgesaai met die laaste episode wat op 4 Januarie 2024 op die lug sal wees.
“Ek is vas oortuig dat sy aan die lewe vasgeklou het as gevolg van ons wedersydse belofte,” meen Linder.
“Ek is dankbaar vir die tyd wat ons wel nog saam kon gehad het. Ek kan vir niemand verduidelik hoe swaar dit is nie. Sy is die eerste persoon met wie ek na geboorte oogkontak gemaak het. Dit was so moeilik om die jolige vrou so agter uit te sien gaan. Sy was liefdevol en het my altyd Nooientjie genoem.”
Volgens Linder help haar eie lewensuitkyk haar deur hierdie moeilike tyd na die verfilming en haar ma se afsterwe.
Dieselfde uitkyk het ook bygedra om haar kop trots omhoog te hou toe sy vroeër vanjaar aangewys is as ’n semi-finalis in die Mrs Universe South Africa-kompetisie.
“Ek het ’n sterk wil om te lewe. Die lewe is lekker met struikelblokke en al. Ek is so dankbaar dat ek nog mense het wat vir my lief is en vir wie ek kan lief wees,” verduidelik sy haar motivering om elke oggend op te staan.
“Ek is gebore om ’n ma te wees en dis vir my die grootste voorreg dat my kinders Tayla (18), Owen (16) en Alec (12) aan my toevertrou is. Ek wil hê hulle moet trots wees op my,” sê sy.
Indien sy na al haar lewenstoetse en onlangse programuitdagings een boodskap kan aangee, glo sy haar gedagtes sal rondom die rol van kommunikasie gaan.
“Ek moes leer en leer steeds, praat met jouself en praat met jou vriende. Hoe meer jy praat, hoe beter voel jy.”
– Kliek hier om meer van Linder in die program te sien:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
