Local newsNews

Twee sangers in harmonie met liefdesduette vir Bella Musica

Die opvolg musiekvertoning van die vorige Jakkie Louw-vertoning, Jakkals en Leo, is propvol sielvolle duette tussen Louw en Charlize Berg.

Daar word dikwels vertel dat indien jy nie jou voete by ’n Jakkie Louw-vertoning ritmies getik het nie, jy dalk nie meer ’n polsslag het nie.

So was dit ook met sy optrede saam met Charlize Berg in die vertoning getitel Bella Musica onlangs by die Atterbury-teater.

Die boorling van Oudtshoorn met sy pet, onnutsige vonkel in sy blik en seunsskaam glimlag, het saam met Berg die gehoor op ’n musikale reis geneem.

Die staanplekke op die reis sluit liedjies in van Anton Goosen tot by Andrea Bocelli se vertolkings van klassieke liedjies,

Die vertoning is ingelui deur Berg se tweelingboetie, Jake Berg.

Jake Berg. Foto:Elize Parker

Die sjarmante sanger met sy Derek Shepherd-voorkoms, soos die bekende dr. McDreamy in Grey’s Anatomy, en sy jazzerige stem, bring reeds ’n romantiese kleurtjie aan die aand.

Louw en Berg werk om ’n enkelsnit om en by Valentynsdag te laat verskyn.

Van die materiaal geskiet tydens die vertoning sal vir die video van die nuwe liedjie gebruik word.

Soos hy self spot, is die vertoning eintlik saamgestel met liefdesliedjies vir 50 eerste afsprake.

Die vertoning se multimedia-aanbieding met kleintydfoto’s kleur die sagte stemming van die aand in.

Louw en Berg harmoniseer in hul duette, met die stem van die SAMA-, Ghoema- en Huisgenoot Tempo-genomineerde Berg internasionaal en uniek.

Met haar rasperige en sielvolle stem neem sy gereeld die leiding in die duette.

Berg het veral met haar vertolking van Anton Goosen se “Beste Henry” vir hoendervleisoomblikke gesorg.

Sy verstaan hoe om die musikaliteit van ’n liedjie te ontgin.

Haar ligte liriese sopraanstem het nostalgiese oomblikke in die lirieke belig.

Die Liedjieboer se liedjie gaan aan ’n goeie vriend van sy seun met die titelrefrein: “Ek ken jou pa”.

Louw het vantevore saam met Kevin Leo in ’n voorloper van die konsert, Jakkals en Leo, opgetree.

Leo is nou in Panama en het daarvandaan ’n boodskap per video met goeie wense aan die twee sangers vir die vertoning gestuur.

Vir Berg is dit “steeds ‘unreal’ om saam met iemand soos Jakkie op te tree!”

Die trefferparadeprinses met bekende liedjies soos “Braaf” en “Yster in die Vuur” hoef geensins vir die veteraan Afrikaanse sanger agteruit te tree nie.

Louw erken ook haar talent op ’n respekvolle manier op die verhoog: “Ek is bevoorreg om saam met so ’n talentvolle sangeres te kan sing.”

Een van die liedjies waarmee beide die sangers hul beste gee is die ikoniese stemmingsvolle Jannie du Toit liedjie, “Liedjie vir jou”.

Die duetverwerking slaag daarin om beide se stemme glad soos warm stroop inmekaar te laat vloei.

Berg is beeldskoon. Met haar unieke profiel en wippende poniestert sorg sy in ’n silwer-en-swart korsetvoorkoms vir glans.

Louw is net homself soos sy aanhangers hom nou al ken vir die 27 jaar wat hy op die verhoog is: Met ’n pet laag oor die oë, pittige kwinkslae en ’n vonkel in die oog.

Charlize Berg Foto:Elize Parker

Die teenstelling tussen die twee individue werk sag op die oog.

Die vertoning word ingekleur deur Louw se natuurlike spitsvondigheid waarmee hy tussenin nostalgiese anekdotes vertel.

Die storie oor sy pa, ds. Nico Louw van die Oudtshoorn-distrik, en hoe hy sy sin vir humor by hom aangeleer het, is aandoenlik.

Louw vertel ook van Covid-19-tye toe hy vir sy pa ’n hartseermooi liedjie, “Staan by my”, kon skryf en sing dit dan aandoenlik mooi.

In die twee medleys in die program kom Berg se stem tot sy reg soos met “My heart will go on” van Celine Dion, terwyl Louw as romantiese troebadoer weer nuwe klanke gee aan Bryan Adams se temaliedjie uit Prince of thieves, “Everything I do” en Kenny Rogers se “My Love”.

Beide vertel dan ook so ’n anekdoot of twee uit hul eie huwelike en filosofeer oor die liefde.

Heel gepas met ’n Valentynsliedjie aan die kom.

“Ja, die huwelik leer mens maar die krag van stilbly,” sê Louw wat getroud is met die regisseur van die program Anél Louw.

Sy help hom ook met die skryf van sy liedjies.

“Ek het die een liedjie 24 keer oorgeskryf en toe kom sy by met raad en als val skielik in plek,” vertel hy gedurende die vertoning.

’n Louw-konsert sal natuurlik onvolledig wees sonder sy bekendste liedjie, “Drie Pikkewyne”, waarvan almal in die gehoor elke woord geken het.

Louw spot dat aangesien hy nie meer CD’s kan verkoop nie, hy nou ook ’n jenewer gaan maak wat tydens vertonings verkoop sal word.

Hy het die gehoor se hart gesteel toe hy vir drie woorde vir ’n verjaarsdagmeisie gevra het uit die gehoor wat haar beskryf en spontaan ’n liedjie vir haar gekomponeer het.

Voorwaar is Louw almal se liefling. Almal se pêl.

Aan die einde van die vertoning kom die meer gewigtige liedjies waarmee die tema van Bella Musica, oftewel die “pragtige musiek”, vertolk word as Berg haar warm en ryk veelsydige stemomvang ontplooi.

Jakkie Louw. Foto: Elize Parker

Die temaliedjie draai rondom die aard van die liefde en musiek.

Louw is ook die liedjieskrywer hiervan.

Soos Berg tereg sê na die sing van die liedjie: “Musiek kan medisyne vir jou siel wees.”

Die vertoning sluit op ’n nostalgiese noot af met Frank Sinatra se “My Way”.

Berg het op die ouderdom van 16 die eerste keer die liedjie saam met Louw en Leo in hul produksie Jakkals en Leo gesing.

Hoe mooi die volle kringloop vir Berg, wat nou ’n 31-jarige ma is en met Skouspel 2009 naam begin maak het.

Die vertoning is goedgekeur om by 2024 se Klein Karoo Nasionale Kunstefees op die program wees.

Kry gerus vir jouself ’n dosis Bella Musica-medisyne.

– Luister na “Beste Henry” soos vantevore vertolk deur Louw en Berg:

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button