Local newsNews

Aggressiewe kredietbeheer en verhoogde tariewe deel van regrukplanne

Tshwane beoog verskeie regrukaksies om uit die rooi te kom in 2024, onder meer aggressiewe kredietbeheer. Daar is moelike besluite om geneem te word, meen die nuwe burgemeesterskomiteelid vir finansies.

’n Moontlike styging in elektrisiteitstariewe as gevolg van verhoogde Eskom-heffings aan Tshwane, ’n aggressiewe kredietbeheerbeleid, voltooiing van die 2022/2023 kapitaalprojekte en stappe om die munisipale waardasierol vir publikasie in 2025 te publiseer.

Hierdie is maar ’n paar planne wat die nuwe burgemeesterskomiteelid vir Finansies van Tshwane, Jacqui Uys beoog om die stad uit die rooi te kry.

Die moontlike tariefverhogings vir elektrisiteit word tans in die konsepbegrotingsvergaderings bespreek.

Die konsepbegroting sal teen einde van Maart vir publieke kommentaar voorgelê word.

Vir dié gekwalifiseerde kommunikasie-spesialis, met ’n agtergrond in die advertensie- sowel as bankbedryf, is die verandering van ’n kultuur van nie-betaling van munisipale gelde ’n prioriteit.

“Die stad moet egter ook sy verantwoordelikheid nakom deur waarde-vir-geld dienste te voorsien,” vertel Uys.

Sy het aansienlike ervaring met veranderingsbestuur in organisasies.

“Ons moet seker maak planne is in plek om die regte dinge reg te doen. Ons moet ook die moeilike besluite rondom kredietbeheer kan maak. Inwoners mag dalk kwaad wees oor harde besluite rondom die afsit van krag en water, maar hierdie besluite moet in werking gestel word,” sê Uys.

Een van die bronne vir riglyne om die stadsraad se benarde finansiële posisie reg te stel, sal die aanbevelings van die ouditeur-generaal se verslag oor die stadsraad se 2021/2022 finansiële verslag wees.

Die raad het toestemming verkry om die verslag voor te lê en het dit reeds ingedien.

“Ons verwag nie ’n skoon oudit nie, maar het wel reeds voorstelle vir die ouditeur-generaal gedoen oor hoe ons beplan om regstellings te maak,” bevestig Uys.

Die raad se kontantvloeiprobleme is ’n kopseer vir Uys.

“Ons het ongelooflike probleme met kontantvloei. Net deur jou hand elke dag op inkomste en uitgawes te hou, gaan ons die uitdagings baasraak,” glo Uys.

Sy glo moeilike besluite oor die afsny van krag en water moet gemaak en uitgevoer word.

“Ons sal voet by stuk moet hou met volhoubare, doeltreffende kredietbestuur,” hou Uys vol.

Volgens haar moet die stadsbestuur en -raad wel deurlopend en nougeset toesien dat inwoners se geld reg spandeer word.

“My houding is die stad opsigself het nie fondse nie. Dit is en bly belastingbetalergeld waarmee ons werk,” verduidelik Uys haar bestuursfilosofie.

Om aan haar praktiese benadering uitvoering te gee, kry sy soggens ’n opgawe van al die inkomstes van die vorige dag, sowel as die uitgawes.

Uys is vol vertroue dat die skuldbetalingsooreenkoms met Eskom tans op die letter nagekom word.

Daarvolgens word weeklikse betalings gemaak. Die mees onlangse betaling is op 5 Januarie gemaak.

“Ons het Eskom egter gewaarsku gedurende wintermaande met hoër verbruik, sal die terugbetalings oor onderhandel moet word. Ons is egter vasbeslote om nie einde 2024 op dieselfde plek as in November vanjaar met betalings aan Eskom te wees nie.”

Jacqui Uys Foto: Elize Parker

Tans is daar van Tshwane ’n aansoek by die Nasionale Tesourie om die stad se Eskom-skuld af te skryf.

Uys beklemtoon die versoek is nog nie deur die Tesourie afgehandel nie.

“Indien ons die skuldverligting kan kry, sal dit ons help om vinniger vorentoe te kan beweeg,” meen sy.

Sy dien al sedert 2016 op die finansieskomitee en meen die agt jaar in diepte-ervaring aan die hand van die vorige burgermeesterskomiteelid vir Finansies Peter Sutton gee haar perspektief om veral probleme te identifiseer en oplossings in plek te stel.

Volgens Uys is ’n styging in erfbelastingtariewe moontlik na die publikasie van die munisipale waardasierol in 2025.

Prosesse om die rol te finaliseer word tans in plek geplaas.

Uys doen ’n beroep om eienaars van eiedomme om later vanjaar en volgende jaar deel te neem aan openbare platforms hierrondom om hulself van die veranderinge en redes daarvoor te vergewis.

“Daar is gewoonlik talle navrae nadat die waardasierol deur die stadsraad goedgekeur is, maar ons wil graag vooraf die publiek goed genoeg ingelig hou om hierdie navrae te beperk,” verduidelik sy.

Sy het alreeds aan die werk gespring om toe te sien dat departementshoofde uitvoering gee aan projekte van die bykans R2-biljoen kapitaalbegroting vir 2022/2023.

“Talle projekte is nog onvoltooid as gevolg van onder meer die staking. Hierdie projekte is geïdentifiseer en ons fokus daarop,” benadruk Uys.

Haar uitgangspunt is egter dat kapitaalprojekte ook inkomste vir die raad moet kan genereer,

Uys is ’n gesoute politikus en sedert 2016 wyksraadslid van wyk 85 in Equestria, Wapadrand en die Wilgers.

Juis hierdie ervaring kan haar handig te pas kom, voel sy, wanneer foute van die verlede reggestel moet word.

Sy is ook voorsitter van die DA-koukus en koalisie wat die stadsraad tans beheer en stuur.

“Die koalisie is nou op die mees stabiele vlak vandat dit gevorm is,” voel Uys.

Lees: Opknapping van miljoene rande by Pretoria-dieretuin aangebring

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button