Eerste skooldag: Vasbyt, geen trane nie
Leerders van twee laerskole in die Moot en Pretoria Noord se eerste skooldag is makliker gemaak deur 'n “mooi juffrou”, pouse en 'n tweelingsussie.
Die eerste skooldag vandag vir nuutjies in graad 1 in die Moot en Pretoria Noord was vir menige ’n toets in vasberadenheid.
Die voorneme van vele was om die dag net sonder ’n huilbui deur te sien.
Lippies is vasgebyt en trane is teruggebyt, maar huil sou hulle nie huil nie.
Tog, ’n verlangende blik het menige mamma en pappa by die deur uitgevolg.
By die Laerskool Stephanus Roos in Montana is die nuwelinge met ’n seremonie verwelkom.


Elke leerder moes aan die klokseremonie deelneem om sy skooldag mee te begin.
Eers moes die kleingoed op die Spore-van-Hoop-paadjie loop, daarna die skoolklok lui en dan ontvangs neem van ’n eerste skryfboekie en potlood van die skoolleiers.
Die graad 1-groep het twee stelle tweelinge ingesluit wat hand aan hand die eerste dag trotseer het.
Vir die De Jong sussie en boetie, sowel as die Keele-tweelingsussies, was die eerste skooldag dalk makliker juis omdat hulle ’n bekende gesig in hul omgewing gehad het.
“My sussie is my beste maatjie,” sê Devaughn de Jong van sy tweelingsussie, Annemé.
Die skool het ook ’n nuwe skoolhoof, Johan van Rooyen, verwelkom.
Leerders het gespog in die skool se splinternuwe skooldrag.


By Laerskool Villieria in die Moot het skoolhoof Dawid Haasbroek die volle skool se meer as 1 220 leerders verwelkom.

Hieronder was vyf graad 1-klasse met ongeveer 30 leerders in elke klas.
Juffrou Monique Bodenstein se gr.1-klas het hulle vroeg al tuis gemaak in die vrolike en kleurvolle klaskamer.
“Ons is so opgewonde oor die nuwe inname en om die leerders vandag tuis te laat voel,” sê Bodenstein.



Die leerders is gou voorgestel aan die geliefde “tannie met die pleisters”, Li Bruwer.
Vir die sesjarige Amelia Nimmo was die eerstedag-oomblik effe te groot, maar daar was darem ’n troos: “My juffrou is vir my baie mooi”.
Luan Janse van Rensburg se gedagtes was meer by sy kosblik: “Ek wil hê dit moet pouse wees”.
Kliek hier om meer van die klokseremonie by Laerskool Stephanus Roos te sien:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.