Local newsNews

Toenemende geweldsmisdade in Hercules plaas inwoners onder beleg

Die GPF is teleurgesteld in onverwesenlikte beloftes van die SAPD om geweldsmisdade te bekamp nadat 'n vergadering met hoë-vlak amptenare deur die polisie gekanselleer is.

Die gemeenskap in al vier sektore van die Hercules GPF voel onder beleg weens toenemende geweldsmisdade.

Die voorsitter van al vier sektore van die forum, Johan van Staden, het bevestig misdaad in die gebied neem ernstig toe.

“Mense lewe in vrees. Hulle kan nie saans uitgaan nie. Die bendes sit en wag vir hulle,” vertel Van Staden ontsteld.

Aandag is op die toenemende aantal geweldsmidaadvoorvalle gevestig toe die Venter-gesin van Andeon op 6 Januarie deur drie mans aangeval is.

Drie lede van die gesin is met ernstige messteekwonde in die Kalafong-hospitaal opgeneem, maar is sedertdien ontslaan.

Geen verdagtes is nog gearresteer nie.

Van Staden beklemtoon die area wat die forum bedien is groot met Sektor 4 wat uitstaan as die area wat die meeste deur geweldsmisdade geraak word.

“Die inwoners is baie kwaad, moedeloos en bang,” sê Van Staden.

“Die plotte word geterroriseer deur booswigte. Elke tweede of derde aand is daar ’n gewapende rooftog. Elke tweede aanval is gewelddadig,” verduidelik hy.

Hy verwys na drie ernstige misdaadgevalle binne 16 dae in die Sektor 4-omgewing in Desember.

Op 12 Desember is ’n geliefde inwoner, oom Rassie Smith, in sy kop geskiet en het ’n week later aan sy beserings beswyk.

’n Sekuriteitswag is op die 13 Januarie in die bolyf geskiet en is nou verlam aangesien die koeël vassit in sy ruggraat.

Op 27 Desember is ’n 17-jarige seun in sy nek geskiet en die koeël sit naby sy hart vas.

Van Staden sê provinsiale polisiebestuur het na ’n vergadering op 8 Desember verskerpte optrede teen misdadigers in die vier sektore belowe met onder meer die openbare orde polisie-eenheid wat dag en nag sigbaar sou gewees het.

’n Tweede opvolgvergadering op 22 Desember met polisiebestuur op die hoogste vlak, is egter die nag voor die vergadering deur die polisie gekanselleer.

Van Staden is teleurgesteld hieroor. “Daar is baie beloftes en geen aksie nie,” sê hy.

Hy glo alhoewel sulke sigbare polisiëring help, moet dit nie die enigste oplossing wees nie.

Boonop is daar volgens hom vir die vier sektore in Hercules net een klagtevoertuig beskikbaar by die Hercules-polisiestasie.

Hierdie gebrek aan voertuie beperk volgens Van Staden die polisie se uitvoering van hul pligte.

Hy sê polisiebeamptes kan as gevolg hiervan nie sigbaar wees sowel as hul werk doen nie.

“Ons het gereelde intensiewe polisiepatrollies, beter beligting in die omgewing en meer kameras veral in Sektor 4 nodig om bewegings van die voornemende misdadigers te monitor. Dit sal ook help as die gras en bosse langs die pad nie so lank is dat misdadigers nie net sommer kan verdwyn nie.”

Nico van Vuuren, voorsitter van die Sektor 4 forum, sê die Venter-voorval is ’n aanduiding van hoe geweldsmisdaad in hul sektor toeneem.

Volgens hom is die polisie wel besig met ekstra operasies, maar dit is nie genoeg nie.

“Ons is in ’n landelike area en val onder die Landelike Veiligheidswet. Beloftes van addisionele hulp is gemaak, maar nie als het realiseer nie,” sê Van Vuuren.

Adjudant-offisier Johan van Dyk, polisiewoordvoerder, het aan Rekord bevestig daar is ’n toename met huisbrake en aanvalle in die omgewing.

“Ek mag ongelukkig nie statisiek bekendmaak nie,” sê Van Dyk.

Hy het bevestig opdrag is gegee sodat meer patrollies gery word in die omgewing waar die toename in geweldsmisdade is.

“Daar moet ook volgens polisiebestuur se instruksies misdaadoperasies sowel as dag-tot-dag operasies gedoen word,” sê Van Dyk.

Volgens hom is die polisie se afdeling vir misdaad-intelligensie ook betrek.

“Hulle help met die ondersoeke om misdaadinligting in te samel en die verdagtes te identifiseer,” sê Van Dyk.

Lees: Pretoria oos se graadeens ywerig om hul skoolloopbaan af te skop

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button