Local newsNews

Twee topskole in die ooste van Pretoria het beide ‘n 100%-slaagsyfer

Twee topskole in die ooste van Pretoria het beide 'n 100%-slaagsyfer en sit met die matriekuitslae talle trotse tradisies Voort.

“Ek dink haar jare wat sy skaak gespeel het, het veel te make met vandag se mooi prestasie.”

So sê ’n trotse Annemie van Heerden van Centurion nadat haar dogter, Mia, nege onderskeidings in matriek aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria behaal het.

Mia is al 12 keer gekies vir die Tshwane-skaakspan en het ook al SA-kleure in skaak verwerf.

Sy beoog om aan ’n Amerikaanse universiteit ’n graad in mediese ingenieurswese te behaal.

Van Heerden is een van meer 200 oudleerders van die skool wat die matriekeksamen laas jaar afgelê het.

Die skool het vir die 38ste jaar ’n 100%-slaagsyfer in die eindeksamen behaal.

“Dis vir ons ’n riem onder die hart,” sê Marna Jordaan, die skoolhoof. “Ons is opgewonde vir die geleenthede wat vir die oudleerders voorlê.”

Annalette du Plessis slaag met 11 A’s plus een A vir Alpha Wiskunde.

Laurien Kemp, ma van Anke sê hulle het ’n spesiale band met die meisieskool omdat hulle reg oorkant die skool woon.

Anke het vier onderskeidings behaal en is ‘n perderuiter wat nou in haar oorbruggingsjaar met Lippizanerperde gaan werk.

Die Kemps se verbintenis met die skool kom egter nie hiermee tot ’n einde nie aangesien die legendariese gemmer skoolkat, Matewis, aan hulle behoort. Dié rondloper het ’n Instagram-rekening oor sy kattekwaad by die skool.

Die Hoërskool Menlopark se adjunkhoof, Nico Erasmus, is trots daarop dat die skool se matrieks van 2023 ’n 100%- slaagsyfer het.

Uit die aantal leerders sal 98.2% universiteit toe kan gaan. In die skool se geskiedenis is hierdie persentsie die hoogste ooit.

Die 2023-matriekleerders het altesaam 746 onderskeidings en ’n gemiddeld van 73%.

Erasmus is verheug oor die oudleerders se prestasies.

“Ons is opgewonde oor hierdie resultate en die geleenthede wat dit kan oopsluit.”

Hierdie skool het ’n sonderlinge prestasie behaal aangesien beide hoofleiers, Sheliza de Wet en Dannhauser van der Merwe, uitsonderlik presteer het.

De Wet het ’n gemiddeld van 94.9% met 99% vir Rekeningkunde en 98% vir Engels FAL (First Additional Language) verwerf. Sy het agt onderskeidings (insluitend Alpha Wiskunde) verwerf.

Van der Merwe het ’n gemiddeld van 93.9%, met nege onderskeidings (insluitend Alpha Wiskunde). Hy het 98% vir Wiskunde gekry.

De Wet gaan medies studeer aan Tukkies en Van der Merwe data-ingenieurswese by Maties.

De Wet sê goeie beplanning en harde werk is deel van haar suksesresep.

“Ek het vroeg in die jaar as hoofdogter geleer jy kan nie alles self doen nie. Ongelooflik toegewyde onderwysers het gesorg dat ek dit maak. En dan moet ek ook noem, kondensmelkkoffie is ’n goeie motiveerder,” verduidelik sy.

Van der Merwe voel sy suksesresep is harde werk. “My pa het van kleins af gesê, ‘bid asof jy nie werk nie en werk asof jy nie bid nie’. Mens moet elke dag in die klas jou beste gee.”

Kliek hier om na Kiana von Holtzhausen van Die Hoërskool Menlopark oor haar matriekuitslae te luister:

 

Laurien Kemp, ma van Anke Kemp, gesels oor haar matriekuitslae:

Die matriekklasonderwyseresse van die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria het tydens die bekendstellingsdag van die matriekuitslae die uitslae aan oudleerders uitgedeel. Voor: Marie Bromfield en Martie Davel. Agter: Karen Furstenburg, Mariette van Niekerk, Annemarie Wentzel, Marie Wolhuter en Barbara Wiese.
Oudleerders van Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria, Lane Janse van Rensburg (links) en Danielle le Roux (regs) het ‘n draai by die skool gaan maak om hul matriekuitslae te ontvang en ‘n glasie op die uitslae te klink. Foto: Elize Parker
Twee adjunkhoofde van Die Hoërskool Menlopark, Ermyntrude Foord (links) en Johan Grové (regs) het oudleerder Danique da Sousa met haar matriekuitslae gelukgewens. Foto: Elize Parker.
Van Die Hoërskool Menlopark se oudleerlinge nadat hulle hul matriekuitslae ontvang het: Christiaan Putter, Milan Lemmer, Christiaan van Greunen, Divan Viljoen en Wiehann Badenhorst. Foto: Elize Parker.
Die vrolike vyf oudleerders van Die Hoërskool Menlopark nadat hul matriekuitslae uitgedeel is: Mia Theron, Mia Uys, Janike Joubert, Nienke Hennop en Liané NIeuwoudt. Foto: Elize Parker
Die Hoërskool Menlopark se oudleerders het in groot getalle hul matriekuitslae by die skool kom afhaal. Foto: Elize Parker.
Oudleerder van Die Hoërskool Menlopark, Luan Fourie, het sy uitslae van die adjunkhoof, Hans Moolman, ontvang. Foto: Elize Parker.
Trotse pa Juan Els saam met oudleerder van Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria, Charmoné Els. Foto: Elize Parker
Mia van Heerden van Centurion (agter) van die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria het nege onderskeidings behaal en is ‘n voornemende student in mediese ingenieurswese. Haar ma, Annemie (voor), het die vrystellingsdag van die matriekuitslae by die skool bygewoon. Foto: Elize Parker.
Oud-hoofmeisie van Die Hoërskool Menlopark, Sheliza de Wet, het agt onderskeidings verwerf. Haar rekeningkunde-onderwyser, Breggie Lubbe, was by die vrystelling van die uitslae om haar geluk te wens. Foto: Elize Parker.

 

Lees ook: Pretoria oos se graadeens ywerig om hul skoolloopbaan af te skop

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button