Paul Kruger-standbeeld kry splinterskoon nuwe baadjie
Sakkie du Plooy is 'n man met 'n droom in sy hart: Om Kerkplein weer die spilpunt van toerisme in die middestad van Pretoria te maak. Stadig maar seker, stap vir stap en met vele samewerking word hierdie droom dalk eersdaags waar.
’n Skoonmaak-aksie om Paul Kruger se standbeeld op Kerkplein blink te poets, is vanjaar die vertrekpunt om die ikoniese landmerk weer die spilpunt van toerisme in die middestad te maak.
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het reeds vroeg in Januarie weggespring om vir “Oom Paul” ’n nuwe baadjie vir die jaar aan te trek.
Hul skoonmaakdag is een van verskeie nuwe verwikkelinge in en om Kerkplein om hierdie area as toeriste-aantreklikheid te bevorder.
Die voorsitter van die stadsraad se komiteevoorsitters, Sakkie du Plooy, meen aksies soos hierdie sterk raadslede en metro-amptenare se hande om Kerkplein weer een van die bestemmings in Pretoria te maak waar busse stop én toeriste uitklim.
“Dit het te dikwels in die verlede gebeur dat die toeristebusse net rondom die plein ry en dan terugkeer na Johannesburg,” verduidelik hy.
Hy het die FAK-span bedank vir hul toewyding.
“Hulle beskik oor die nodige kundigheid. Nie enige mens kan sommer net inspring en standbeelde met skottelgoedwasseep was nie. Ons weet hulle doen dit met die nodige expertise,” verduidelik Du Plooy.
Volgens hom het besoekersgetalle aan Kerkplein gestyg vandat die metro en ander toerisme-rolspelers teen die einde van verlede jaar weer die middestad as ’n voorkeur toeriste-bestemming begin bemark het.
Du Plooy en sy span van die metro het in 2023 met talle gidse, metro-amptenare sowel as eiendomsmaatskappye met middestadbelange hande geneem om nuwe lewe in die middestad te blaas.
Die positiewe Du Plooy is verheug in die eindresultaat.
Sy droom dat toeristebusse weer by die Kerkplein stop én toeriste uitklim om op dié plein te stap, word tans verwesenlik.
“My visioen vir die plein is vir gidse om met vertroue die plein aan toeriste te wys,” verduidelik Du Plooy.
Hy glo twee faktore moet hiervoor in plek kom en volhoubaar in plek bly.
“Vuil en onveilige stadspleine lok niemand nie,” merk Du Plooy waarskuwend op.
Hy werk tans saam met werkgroepe om juis toe te sien dat skoonmaakspanne dag en nag werk om die plein skoon te hou.
Reëlings kan ook deur gidse en toergroepe getref word om met metropolisiebegeleiding die plein te besoek.
“Die voete op Kerkplein tel op vandat ons begin ingryp het. Dis natuurlik ’n voltydse werk om die plein skoon te hou en ons waardeer die samewerking van rolspelers soos die FAK met hul kundigheid sowel as City Property met hul verfraaiingspanne,” verduidelik Du Plooy.

Hy vind soms maak ’n klein aanpassing ’n groot verskil.
“Ons het die strepe weer gaan duidelik verf waar die toeristebusse kan stop by die plein en hulle maak toenemend daarvan gebruik,” vertel Du Plooy.
Die metro beplan om eersdaags ’n konferensie aan te pak om gidse van nuwe verwikkelings rondom middestadtoerisme in te lig.
Planne van die metro oor vernuwing in die binnestad is ook tydens ’n toerismeberaad van Tshwane Tourism Association met bemarkingsaksies bevorder.
Du Plooy spring ook met pleinbesoeke self in om meer aantreklikhede vir toeriste rondom die plein te vestig.
“Ek het van die informele handwerkkunstenaars rondom die plein genader om naby daaraan van hul werk in hul stalletjies te gaan uitstal,” vertel hy.
Charles Rademeyer, die FAK se kultuurkoördineerder in die noordelike streke van die land, is trots op die groep van meer as 20 erfenisbeskermers betrokke by die pasafgelope skoonmaak-aksie.
Verskeie organisasies soos die FAK-Moot-Kultuurnetwerk, die Rapportryerbeweging, AfriForum en ook politieke partye, asook lede van die publiek, het saamgewerk.
“Ons moet uit diegene wat ons vooraf gegaan het se lewenslesse leer tot die verbetering en bevordering van ons eie lewens,” sê Rademeyer.
Vir Theo van Rooyen, een van die skoonmakers, is erfenis en spesifiek Paul Kruger na aan sy hart.
“Dit is my plig as trotse Afrikaner om hierdie tipe goed in stand en netjies te hou – vir ons en vir geslagte wat nog kom,” sê Van Rooyen.
Lees: Drie oosskole as topdrie in Gauteng aangewys
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
