Local newsNews

Koos Doep sielvol gehuldig op 40e herdenking van sterwensdag

Hy was bekend as die "Diep Seun" van Afrikaanse musiek met tydlose liedjies wat na 40 jaar op die herdenking van sy sterwensdag sielvol vir sy bewonderaars deur 'n span musikante vertolk is.

’n Huldigingskonsert vir geliefde en ikoniese Afrikaanse sanger en liedjieskrywer, Koos du Plessis, op die 40e herdenking van sy sterwensdag op 15 Januarie 1984, was ’n sonderlinge viering.

Verskeie kunstenaars het die tydloosheid van sy musiek tydens die opvoering Doep is nie dood nie in die Atterbury-teater gevier met vertolkings, verwerkings en staaltjies.

Die eerste gedeelte van die vertoning met sanger Jannie du Toit, Susan Mouton op tjello en Chanie Jonker op klavier, het ’n blik gegee op veral die nostalgiese musiek van een van Afrikaans se grootste skeppende geeste.

Du Toit se puik vertolking van publisiteitsku en inkennige Du Plessis se lewe deur die vertolking van sy gedigte sowel as die sing van sy liedere, het menige musiekliefhebber van die vindingryke en verbeeldingryke era in Afrikaanse musiek na die laat sewentigs en tagtigerjare teruggevoer.

Die sjarmante Du Toit se verwerkings van veral klassieke Du Plessis-liedjies soos “Sprokie vir ’n Stadskind”, dui op die tydlose eenvoud daarvan.

Vele van die liedjies, soos ook “Kinders van die wind” het lank behoue gebly.

Du Plessis het veral temas aangespreek soos die broosheid van die mens, alleenheid en die soeke van die mens na die onverklaarbare.

Du Toit se keuse van liedjies om veral hierdie temas uit te beeld, is gepas.

Mouton en Jonker se sprankelende verhoogpersoonlikhede skemer deur.

Hul musikale verwerkings is aanvullend tot Du Toit se vertolkings en wys die liedjies het nie net saamsing-melodieë nie, maar ook elk ’n aangrypende eie stemming.

In die tweede helfte van die vertoning het talle kunstenaars hulde aan Du Plessis se loopbaan gebring deur van hul gunstelingvertolkings oor die jare te sing.

Koos se dogter, Karla, het aangedaan agter die klavier ingeskuif toe die konsertleier en meesterlike vertolker van Du Plessis se oeuvre, Andries Bezuidenhout, haar gevra het om saam met hom te sing.

Bezuidenhout is met Du Plessis se dogter Irma getroud.

Mathys Roets het sy herkenbare musikaliteit met die emosionele vertolking van liedjies na Du Plessis se musiek gebring en gesorg vir die hoogtepunt in die tweede helfte toe hy “Nokturne” en “As almal ver is” gesing het.

Weskus-liefling van Afrikaanse countrymusiek, Wynand Strydom, se lae stem het reg laat geskied aan die liedjies van Du Plessis waar ’n ryk vertolking van die lief en leed van menswees gegee moes word.

Drie ander kunstenaars wat ’n pad met Du Plessis gestap het, die pa-en-seun musikant duo Andy en Murray Lubbe, sowel as vertolkende kunstenaar en akteur Jacques Botes, het ook opgetree.

Die nuwe en tweede uitgawe van Erfdeel met ’n oorsig oor Du Plessis se lewe en werke deur Irma du Plessis (uitgegee deur UJ Press) is ook by die herdenkingskonsert bekend gestel.

Hierdie boek vul ’n leemte aangesien daar nie ’n ander opgaaf van sy werk en vele liedjies se lirieke beskikbaar is nie.

In die boek word ook kitaardrukke aangegee vir liedjies uit die Afrikaanse kultuurskat soos “Sprokie vir ’n stadskind” en “Kinders van die wind”.

Al Koos se lirieke – wat ook as verse gelees kan word – is in die boek ingesluit, asook enkele toonsettings van sy verse deur ander kunstenaars.

Verse uit sy bundels – Om jou verlaas te groet (Human en Rousseau, 1985) en Skink nog ’n uur in my glas (Queillerie, 1995) – is ook heropgeneem saam met ’n vyftiental ongepubliseerde verse.

Erfdeel bevat ook biografiese notas oor sy lewe, foto’s, en besonderhede oor die ontstaansgeskiedenis van sommige van sy bekendste liedjies.

Du Plessis is op 15 Januarie 1984 in ’n motorongeluk op die ou Krugersdorppad dood nadat sy Volkswagen-kewer op ’n laagwaterbrug in Knoppieslaagte naby Centurion die pad byster geraak het. Hy was ná middernag op pad na Nick Taylor, sy musiekregisseur.

Hy is op 10 Mei 1945 op Rustenburg gebore maar het op Springs aan die verre Oos-Rand grootgeword. As koerantman en subredakteur het hy sy taalvaardighede geslyp by die Perskor-dagblaaie Die Vaderland, Die Transvaler en Oggendblad.

Lees: Wonderboom-lughawe: nuwe bestuursplan, anti-korrupsie maatreëls word benodig

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button