Local newsNews

Bolhuis vra hulp om beweerde blonde swendelaar vas te trek

Bobaas-ondersoeker Mike Bolhuis is ontstoke oor 'n blonde swendelaar wat na bewering in Pretoria en omgewing sy naam gebruik om restauranteienaars te bluf en gratis maaltye te kry.

Die bekende ondersoeker van Pretoria, Mike Bolhuis, stel tans ’n dossier op met klagtes van die publiek en sakelui oor wat hy beskryf as “’n swendelaar en wanvoorsteller”.

Die klagtedossier sal na die polisie geneem word om ’n klag van naamskending aanhangig te maak.

Bolhuis waarsku die publiek en sakelui om lig te loop vir ’n aantreklike blonde vrou met verskeie aliases, onder meer Maria Commons.

Ander name sluit ook in: Maria E. Commons, Maria Elizabeth Commons en Maria Commons (Marieks).

“Dis ’n drieledige saak hierdie. Al die partye wat benadeel is, moet saam met ons werk om te wys hoe ek as individu en my maatskappy belaster is. Ons win tans die inligting in,” verduidelik Bolhuis.

Volgens Bolhuis gebruik die blondine sy naam en reputasie om gratis maaltye en akkommodasie by gastehuise te kry.

“Ons het al verskeie projekte aangepak om haar gedrag aan te spreek maar hierdie derde projek om klagtes saam te voeg, pak ons aan omdat ek voel haar gedrag eskaleer nou. Sy raak ’n gevaar vir haarself en die samelewing,” maan Bolhuis.

Hy verduidelik dat haar werkswyse gebaseer is op leuens en wanvoorstellings.

“Sy sal ’n restaurant binnestap en meld dat ek haar daar gaan ontmoet en dat sy vir my wag. Dan sal sy eet en drink en op ’n voorwendsel verdwyn soos dat sy iets in die motor moet kry. Restauranteienaars het my al gebel oor sulke voorvalle,” verduidelik hy.

“As dit nie my naam is wat sy wederregtelik rondgooi nie, kies sy die name van andere wat die restaurant- of gastehuisbaas sal imponeer,” voeg hy by.

Bolhuis het ’n beroep gedoen op restaurant- en gastehuiseienaars wat deur die blonde swendelaar ingeloop is om hom te kontak sodat hulle die dossier kan finaliseer.

Sy gaan volgens Bolhuis ook na verskeie internetkafees om hom met teisterende e-posse toe te gooi.

“Uit hierdie korrespondensie is dit duidelik sy is moontlik uit voeling met die werklikheid,” sê Bolhuis.

Hy het ’n geruime tyd gelede van haar werksaamhede en bestaan bewus geword toe hy deur ’n kliënt in die Pretoria-omgewing genader is wat na bewering deur die vrou op sosiale media geteister is.

“Ek wil dit duidelik stel dat nie ek of my maatskappy, Specialised Security Services, enige bande met haar het nie,” benadruk Bolhuis.

Enige inligting kan aan mike@mikebolhuis.co.za verskaf word.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button