Local newsNews

Lewensredders by Harties benodig meer pienk lewensboeie

Die Nasionale Seereddingsinstituut se Stasie 25 by die Hartbeespoortdam doen 'n beroep op die publiek om hul by te staan om meer lewens te red.

Die Nasionale Seereddingsinstituut sê die pienk seereddingsboeie wat by binnelandse damme en op strande geplaas word, het reeds meer as 178 lewens sedert 2017 gered.

Daar is 12 sulke pienk reddingsboeie op strategiese plekke by die Hartbeespoortdam geplaas.

Maar volgens die instituut is dit nie tans genoeg nie.

Andrew Ingram, Seereddingsinstituut-woordvoerder, sê die stasiekommandeur Arthur Crewe is tans besig met ’n veldtog om meer van hierdie pienk reddingsboeie in die omgewing van die Hartbeespoortdam te laat plaas.

“Die stasie het bevind dat hulle nou al hoe meer en meer daarvan benodig,” wys Ingram uit.

Volgens Ingram het die behoefte aan meer pienk reddingsboeie veel met klimaatsverandering te make.

“Daar word voorspel dat aardverwarming tot meer uiterste weergebeurtenisse kan lei. Dit sal ’n verhoging in storms en vloede in Suid-Afrika tot gevolg hê,” verduidelik Ingram.

Hy gee watergebruikers van die Hartbeespoortdam egter die versekering dat die instituut goed voorberei en op bystanddiens is om alle binnelandse waterverwante noodsituasies te beredder.

Die noodsaaklikheid van die reddingsboeie het onlangs onder die soeklig gekom met die R20 000-skenking van Pretoria-instellings, Die GROOT Ontbyt, GROOTfm 90.5 en Atterbury Trust, aan die instituut.

Met die fondse kon 13 van 28 boeie wat gedurende die Desembervakansie op die Tuinroete gesteel is, vervang word.

Die Seereddingsinstituut by die dam, Stasie 25, het 20 vrywilligers wat op die uitkyk is vir lede van die publiek wat hierdie boeie kan gebruik om lewens te red.

Die span kan ook twee vaartuie – die 7.1m Sealegs en die 5.5m Rotary Endeavor – inspan om lewens by die dam te red.

Die pienk reddingsboeie is sedert November 2017 landwyd beskikbaar.

Die befondsing word deur die publiek gedoen teen R1 500 per pienk reddingsboei wat ook die paal insluit waarteen dit vasgemaak word.

Ingram raai diegene aan wat nie sterk swemmers is nie, maar wel iemand in nood wil red, om die boei na hul uit te gooi en dan dringend om hulp te roep.

“Op elke boei is ook ’n liggingsnommer. Hierdie nommer moet aan ons verstrek word sodat ons presies kan weet waar die noodsituasie is en vinnig daarop kan reageer,” verduidelik Ingram.

Christiaan Venter van Schoemansville Oewer ontvang een van die eerste pienk reddingsboeie wat by die Hartbeespoortdam geplaas is in 2020 van NSRI Stasie 25-kommandeur, Arthur Crewe.

Meer as 1 850 sulke boeie is deur die instituut by damme, riviere en strande geplaas.

Ingram sê van die mees onlangse reddingspogings by Hartbeespoortdam is as gevolg van die geil groei van die waterhiasinte.

Volgens Dion Mostert van Harties Boat Company is die dam tans 30% toegegroei.

Mostert verwag dat die persentasie in die afsienbare toekoms drasties sal styg weens die reënseisoen.

Crewe het ’n beroep op bootgebruikers by die dam gedoen om hulle daarvan te weerhou om deur die dig gegroeide waterhiasintmatte te probeer seil.

“Die waterhiasinte skep veral ’n gevaar vir klein bootgebruikers. Sulke kolle waar dit saam groei, moet nooit deur ’n vaartuig binnegevaar word nie,” waarsku Crewe.

Hy raai bootgebruikers aan wat weens die hiasinte in nood verkeer, nie na hul lanseerplekke terugkeer nie maar eerder na ’n ander lanseerplek waar waterhiasinte nie hul weg blokkeer nie.

Hulle moet eerder vriende en familie skakel om hulle by so ’n lanseerplek per motor te kom haal as om die risiko te loop om die waterhiasintmat binne te gaan.

– Om ’n pienk reddingsboei te borg kontak pinkrescuebuoys@searescue.org.za

– Om meer oor die NSRI se pienk reddingsboeie te wete te kom, kyk:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

 

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button