Local newsNews

Metropolisie moet let op howe se beslissings oor afpersing

Die verhoor van drie metropolisiebeamptes is uitgestel tot Maart nadat die Nasionale Vervolgingsgesag opdrag gegee het dat ‘n senior aanklaer die ondersoekbeampte help om die saak af te handel.

“Ek hoop alle metropolisielede sal twee keer dink voordat hulle die publiek probeer afpers.”

Dit is die kommentaar van die burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid, Grandi Theunissen, oor die hofsaak in die eerste week in Februarie waarin drie metropolisie-amptenare – Emmanuel Thovhakale, Michael Soomo en Lerato Molope – tereg gestaan het op aanklagte van korrupsie en afpersing.

“Daar is reeds twee sterk hofuitsprake gemaak in ander stede soos Potchefstroom en Durban oor metropolisielede wat afdreiggeld gevra het en dat tronkstraf deel van die uitsprake was. Hierdie optrede deur die howe stuur ’n sterk boodskap uit.”

Die beweerde optrede het tydens ’n voorval in 2022 in Erasmuskloof plaasgevind.

Die saak is na hul verskyning in die Pretoria-streekhof uitgestel tot 12 Maart.

Daar sal na verwagting nog aanklagte bygevoeg word.

Die Nasionale Vervolgingsgesag het besluit om senior aanklaer advokaat Rachelle van der Walt aan die hoof te laat staan van die ondersoek en die saak teen hierdie drie beamptes.

Theunissen sê twee van die amptenare se interne dissiplinêre verhore is reeds afgehandel en hulle is ontslaan. Die derde dissiplinêre verhoor sal eersdaags afgehandel wees.

“Bruikbare getuienis in die dissiplinêre verhore is gelewer. Ons verwag dat die kriminele verhoor in die hof ook ’n positiewe uitslag vir die metro sal oplewer,” glo Theunissen.

“Ek dink daar is voldoende getuienis om bo alle redelike twyfel te bewys hulle het hul aan die misdrywe skuldig gemaak.”

Sy betrokkenheid by die saak spruit ook uit die feit dat hy toevallig verby die voorval gery en stilgehou het om by die slagoffer, Uvaldi Theologo, te verneem of alles in orde is.

Theologo is glo op 10 Julie 2022 deur die drie beskuldigdes afgetrek terwyl sy in Solomon Mahlangu-rylaan gery het.

Sy beweer dat die beamptes haar daarvan beskuldig het dat sy haar voertuig sonder ’n amptelik gestempelde permit bestuur het.

Die beamptes het glo R3 000 kontant geëis om te verhoed dat haar motor geskut word.

Theologo het geïntimideer gevoel en beweer dat die beamptes haar na ’n OTM gevolg het, maar sy kon nie die kontant onttrek nie.

Sy beweer die beskuldigde het haar daarna huis toe gevolg en beweer dat sy buite haar huis ’n selfoonnommer gekry het waarheen sy R3 000 met behulp van ’n eWallet-fasiliteit moes oorplaas.

Terwyl die beamptes langs die pad met Theologo besig was, het Theunissen homself as die burgemeesterskomiteelid van gemeenskapsveiligheid voorgestel.

In hierdie stadium het die beamptes na bewering nog nie omkoopgeld van Theologo geëis nie.

Die beamptes het Theunissen verseker dat hulle hul pligte uitvoer soos dit van hulle verwag word.

Theologo het Theunissen na die tyd gekontak om hom te vertel wat gebeur het ná hy weg is.

Theunissen het haar aangemoedig om ’n strafsaak teen dié drie beamptes te open en het haar verder daarmee ondersteun.

Advokaat Gerrie Nel, hoof van die AfriForum-privaatvervolgingseenheid, is deur die slagoffer genader om in ’n waaksaamheidsopdrag op te tree in hierdie saak.

Hy is vol vertroue dat die staat ’n sterk saak het.

“Om ’n einde aan korrupsie binne wetstoepassingsagentskappe te bring, is dit noodsaaklik dat diegene wat van sulke misdade beskuldig word, skuldig bevind en toepaslik gevonnis word. ’n Klimaat van straffeloosheid laat korrupsie toe om te floreer,” sê hy.

Nel het bygevoeg dat Theunissen se betrokkenheid nie net deurslaggewend is vir hierdie saak nie, maar vir elke aangeleentheid waar sulke bewerings metropolisie-amptenare in die gesig staar.

“Die plaag van korrupsie kan slegs uitgeroei word waar daar politieke wil en deursettingsvermoë van leierskap binne wetstoepassingsagentskappe is. Gelukkig vervul burgemeesterskomiteelid Theunissen daardie rol,” sê Nel.

LEES: Pretoria inwoners deel hulle planne vir Valentynsdag

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button