Pretoria inwoners deel hulle planne vir Valentynsdag
Moenie die manne se verbeelding onderskat wanneer dit by Valentynsdag kom nie. Van 'n rugmassering tot 'n kom-ons-maak-pasta-aand is op die kaarte vir die aand van die liefde.

Romantiese Pretorianers span reeds hul verbeelding en vernuf in om op Valentynsdag, 14 Februarie, ’n liefdesmaat te verras met ’n bederfie.
Die mite is dat die manne soms nie weet hoe om die verbeelding hiervoor in te span nie en liewers net die dag van rose en vioolmusiek wegwens.
En dat die dag swaar op die beursie kan wees, veral in die kort maand na broekskeurmaand, Januarie.
Rekord het egter ’n paar romantici onder die Adams gevind en ’n paar Valentynsvieringe vir onder R300.
Vir ’n bekende in mediakringe, inwoner van Pretoria-oos en eienaar van Feeste.com, Sarel du Plessis, het die dag van die liefde oor sy en Amanda se 45 jaar van getroude lewe nog altyd spesiale betekenis gehad.
Du Plessis vertel hoe sy gebare en geskenke selfs sy minder romantiese vriende laat opmerk het dat mans soos hy laat ander ietwat onkundig rondom Valentynsdag lyk.
Een geskenk wat in sy geheue uitstaan is ’n goue medalje wat hy vir sy eggenote op Valentynsdag ’n paar jaar gelede gegee het. Hulle ken mekaar reeds 50 jaar.
“Almal sê sy verdien een om met my uitgaande persoonlikheid uit te hou!” vertel Du Plessis. “Toe gee ek die medalje maar vir haar. Ek gaan nie weer so iets simpels doen nie!”
Vanjaar gaan hy vir Amanda, wat lief is vir plante en hul gesin, ’n spesiale plant koop. Hulle gaan ook heerlik met hul kinders, ook die twee in Los Angeles, gesels.
“En natuurlik ontbyt in die bed met ’n spesiale rugmassering!” sê Du Plessis met ’n knipoog.
Vir enkellopende sanger, omroeper en skrywer, van Pretoria-oos, Riaan Grobler, is dit die sewende jaar wat hy en ’n groep enkellopendes saam as ’n groep vir aandete op Valentynsdag uitgaan.
“Sommiges van ons het al lewensmaats ontmoet en uit die groep gegaan, maar dan val daar weer nuwes in. Ons vier ons lewens as enkellopendes op hierdie manier elke jaar,” lag Grobler.
“Mens moet maar die geleentheid aangryp voor jy die strop om die nek kry!” spot Grobler.
Vir impressario en bestuurder van die Centurion-teater, Tiaan Kirsten-Lubbe, is die kombuis ’n plek van liefde.
Hy het gesorg dat twee van sy liefdes, die maak van pasta en teater, gekombineer word op die dag.
“Ons bied ’n aand aan om lieflinge te leer om saam pasta te maak. Ek weet dit gaan vir myself ook ’n onvergeetlike ervaring wees,” vertel Kirsten-Lubbe.
Vir kosafleweringstoepassing-entrepreneur en vuurvegter Marius Adams van die Moot, is die aand ’n goeie tyd om ook sy drie kinders te leer hoe mens so ’n dag vier.
“Ons is op ’n Daniëlvas en ek beoog om ’n heerlike vrugte en groente maaltyd vir ons voor te berei. Ons sal ’n mooi plek dek in die lapa en die kinders sal kelners speel. Ek glo my vrou Nikki sal die bederf geniet,” verduidelik Adams.
Sjokolade bly maar die kos van die liefde vir vele.
Vir sjokolademaker en apteker van Pretoria-oos, Hannes Snyman, is ’n sjokoladeruiker bestaande uit pralines met smullekker vulsels of ’n sjokolade vonkelwynbottel met ’n persoonlike boodskap net die geskenk om harte verower.
“Egte sjokolade bevat teobromien wat jou baie energie gee en jou sprankelend laat voel,” verduidelik hy.
“Sjokolade blink op jou oog, ruik verruklik, knak in jou vingers, smelt in jou mond en laat jou besonders voel,” glo Snyman.
Valentynsdag en die tydjie daarrondom hoef jou egter nie veel uit die sak te jaag nie.
Daar is ook maniere om die dag ’n viering van die lewe en die liefde te maak vir R300 of minder.
– Die Pretoria Dog Rescue-organisasie bied op Saterdag, 24 Februarie vanaf 09:00 tot 14:00 ’n Valentynskuierdag by hul versorgingskampies vir honde aan in Piet Retiefweg in Pretoria-Wes. Die ingangsfooi is ’n blikkie kat- of hondekos.
– ’n Outydse fliek inry-ervaring teen R300 per kar is dalk vir sommige romantici net die tikkie nostalgie wat die Februarie-liefdestyd nodig het. Geliefdes en gesinne kan die ikoniese Dirty Dancing dansfilm op die aand van 17 Februarie by die Pretoria Boeremark se opskiet-inryteater om 19:00 meemaak. Eie piekniekmandjies welkom.
– Vir fiksheidsliefhebbers is daar ’n Valentynspretwedloop op 14 Februarie 18:00 teen R60 vir 7km se stap en 3.5km teen R30. Die wegspringplek is Run/Walk For life, 58 Van der Merwestraat in Rietondale.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.