Local newsNews

Red ons paaie, vra Doornpoorters

Doornpoort-inwoners het 'n oplossing vir die swaar voertuie wat hul paaie na bewering ruïneer, maar niemand wil daaraan gehoor gee nie.

Doornpoort-inwoners sê hulle is keelvol vir die aantal swaar vragmotors met vragte van tot 20 ton wat al vir ’n geruime tyd die buurt en omliggende area se paaie misbruik as ’n deurgangsroete.

’n Bekommerde inwoner wat anoniem wil bly, sê indien dit maar net ’n paar was, dan kon hy dit verstaan.

“Maar ons praat van maklik tussen 20 tot 30 trokke op een dag. Die trokke gebruik ons buurt se paaie om tolgeld te ontduik. Die tolpaaie sou die aanbevole roete wees vir hulle om te gebruik,” verduidelik die inwoner.

Inwoners voel dat maatskappye en logistieke maatskappye moet, soos alle belastingbetalers, vir tolhekgelde opdok.

Die tolhekke ter sprake in die omgewing sluit die Doornpoort en Dr. Swanepoel tolplazas in.

Tolfooie vir swaar voertuie beloop van R45 tot R62.

“Myntrokke in ’n woonbuurt is absoluut absurd. Airportweg en die systrate in die dorp is nie gebou om die vragte te hanteer nie,” meen ’n ander inwoner.

Verskeie vertoë is al deur inwoners gerig aan verskillende plaaslike en provinsiale owerhede, maar sonder enige sukses.

Oplossings is ook al aan owerhede genoem.

Inwoners voel maksimum toelaatbare vrag-padtekens op die woonbuurte se paaie kan die probleem verlig aangesien die metro dan oortredings deur swaar vragmotors sal kan polisiëer.

’n Doornpoort-inwonersgroep wat hulle hiervoor beywer, beweer egter dat daar nog geen poging van die owerhede se kant was om enige beperking op swaar voertuie in te stel nie.

Metropolisiewoordvoerder, Isaac Mahamba, sê die metro is bewus van die swaar vragmotors, maar het geen statistiek oor die aantal wat daagliks die paaie gebruik nie.

Mahamba skryf die probleem toe aan konstruksie wat tans plaasvind in die buurt en vragmotors wat boumateriaal vervoer.

“Ons het ons beamptes ontplooi vir enige wetsoortreding. As daar bevind word hierdie trokke se bestuurders begaan oortredings, sal hulle beboet word,” sê Mahamba.

Hy bevestig ook dat padwaardigheid van sulke swaar voertuie nagegaan word.

“Ons let ook op na hoe geskik die bestuurders is om die voertuie te bestuur en of hulle al die nodige wetlik vereiste dokumente op aanvraag kan aanbied,” benadruk hy.

Navraag is aan die metro gestel oor die moontlikheid om maksimum toelaatbare gewig kennisgewingborde in die woonbuurte aan te bring, maar geen antwoord is teen druktyd verskaf nie.

Wykraadslid Gé Breytenbach het aan Rekord te kenne gegee hy sal vrae oor die aangeleentheid in Doornpoort beantwoord sodra ’n ondersoek daarna voltooi is.

LEES OOK: Nog klagtes teen beweerde vroueswendelaar van Pretoria

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button