Nog klagtes teen beweerde vroueswendelaar van Pretoria
Die polisie versamel tans klagtes van slagoffers teen beweerde vroueswendelaar Jacques Malot wat weer in Maart in die hof moet verskyn.
Die polisie het bevestig onderhoude word tans gevoer met nog moontlike slagoffers en individue met klagtes oor die beweerde swendelgedrag van
Die slagoffers van hierdie beweerde vroueswendelaar is deur die Sinoville-polisiestasie vroeg in Februarie versoek om na vore te kom.
Die Sinoville-opsporingspan het ’n beroep gedoen op die publiek nadat Malot op 29 Januarie in die Pretoria-Noord landdroshof verskyn het waar ’n saak teen hom tot 8 Maart uitgestel is.
Hy is ná ’n polisiesoektog van twee jaar vir beweerde swendelary met vroue in Pretoria in Kaapstad vasgetrek vir klaarblyklike winkeldiefstalvoorvalle.
Malot sal in aanhouding bly tot hy na verwagting formeel om borgtog kan aansoek doen.
Hy staan volgens polisiewoordvoerder adjudant-offisier Johan van Dyk tereg op verskeie ernstige aanklagte soos seksuele aanranding, motordiefstal en ontvoering.
Volgens die polisie was sy werkswyse om vroue op veral internet-afspraakwebwerwe te ontmoet onder die voorwendsel dat hy ’n suksesvolle makelaar en oud-Blou Bul-rugbyspeler is.
Hy sou volgens die opsporingspan se bevindings na bewering vrouens se vertroue wen en hulle besteel en emosioneel mishandel.
Malot se beweerde swendelgedrag het aanlyn afspraakswendels weer onder die kollig geplaas.
Die Suid-Afrikaanse Bedrogvoorkomingsdiens (SAFPS) waarsku dat sulke swendelary rondom romanse aan die toeneem is.
Volgens die globale data en sakeintelligensieplatform, Statista, word daar bereken dat die aantal aanlyn afspraakgebruikers in Suid-Afrika die 6.7 miljoen-kerf teen 2028 gaan verbysteek.
Nazia Karrim, hoof van produkontwikkeling van SAFPS, waarsku individue moet ligloop vir aanlyn skelmstreke rondom afsprake en liefdesverhoudings.
Sy sê daar is talle romantiese swendels wat potensiële slagoffers teiken.
Volgens navorsing van die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) beloop die waarde van romantiese- en besigheidsepos-swendelary in 2022 sowat R125-miljoen.
Karrim verduidelik dat romantiese swendelary se vertrekpunt manipulasie van die slagoffers by wyse van aanlyn afspraakwebwerwe of rekenaartoepassings is.
Sy wys egter daarop dat slagoffers ook geteiken kan word deur bedrieërs wat aan die slagoffers voorgestel word deur mense wat hulle as vriende beskou.
“Hierdie romantiese swendelary het veral tydens die Covid-19 pandemie toegeneem toe Suid-Afrikaners die impak gevoel het om van die res van die samelewing afgesonder te wees,” verduidelik Karrim.
Sy wys daarop dat die internet-afspraakplatforms dikwels ’n gemaksone word waar mense nie meer die nodige veiligheidsnavrae doen nie.
Karrim maan gebruikers van sulke platforms om op te let wanneer individue belangstel in jou lewe, maar vaag is oor hul eie.
“Wanneer vertroue eers gebou is en romantiese emosies ontwikkel, dan het swendelaars ’n hartseer vertelling om op ’n slagoffer se gevoelens te speel. Hierdie vertelling word gevolg deur ’n geldversoek,” maan sy.
Karrim sê voorkoming is beter as nasorg.
“Doen ondersoek. Kyk na die persoon se agtergrond en doen selfs ’n polisieklaring om te sien of die aanlyn inligting met jou navorsing strook. Indien ’n versoek vir ’n persoonlike ontmoeting geweier word, is dit ’n rooi vlag,” waarsku sy.
Sy erken dat om sulke swendelary soms op jou eie te identifiseer is moeilik omdat vele daarvan deur sindikate bedryf word.
“Dit mag ’n uitdaging wees om so ’n swendel onder addisionele hulp en gereedskap te identifiseer en die individu vas te trek,” wys sy uit.
Sy doen aan die hand dat gebruikers die Bedrogvoorkomingsdiens se gratis Yima-platform gebruik wat aanlyn gereedskap aan gebruikers bied om te verhoed dat hulle vir wolwe in skaapsklere en swendelary val.
Sy verduidelik Yima is ’n pro-aktiewe benadering om bedrog te voorkom.
“Gebruikers kan hulself ook daarmee leer om ’n swendelary met ’n produk of rondom ’n individu te identifiseer,” verduidelik sy.
Sy wys daarop dat die webwerf ook ’n spesiale stuk gereedskap het om swendelary rondom romanse te identifiseer.
Die stuk gereedskap is Verify’m wat in samewerkinig met Secure Citizen werk.
“Verify’m werk op ’n biometriese manier om ’n persoon se identiteit teen die rekords van die Departement van Binnelandse Sake na te gaan. As die biometriese gegewens nie met die inligting wat jy het strook nie of daar is geen inligting nie, wees ekstra versigtig,” maan Karrim.
Bedrog van enige soort kan ook op die Bedrog-hulplyn 083 123 7226 aangemeld word.
Karrim raai alle gebruikers aan om wel ook enige bedrog op Yima se webwerf en die hulplyn aan te meld.
“Soms voel slagoffers skaam en betwyfel hulle hul eie mensekennis, maar dit moet hulle nie terughou nie, aangesien die mense wat hulle wol oor die oë getrek het, professionele swendelaars is,” benadruk Karrim.
– Hulplyn van die Bedrogvoorkomingsdiens: 011 867 2234
– Yima hulplyn: 083 123 SCAM (7226)
– Yima webwerf: yima.org.za
Lees: Villieria motorcycle ‘thief’ arrested
Do you have more information about the story?
Please send us an email to bennittb@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
