Ouers dankbaar seun kry uiteindelik na vele vertoë sy sewende amputasie
Familielede in twee afsonderlike gevalle voel beweerde wondvergiftiging en septiese wonde by die Steve Biko-hospitaal na amputasies het tot verdere onnodige amputasies en pyn vir hul geliefdes gelei.
Die ouers van Andries Neethling (34) van Roodewal wat in die Steve Biko-hospitaal reeds ses amputasies na ’n motorfietsongeluk moes ondergaan, is dankbaar dat daar uiteindelik aan hul versoek van nog ’n amputasie voldoen is.
Hul seun het sy sewende amputasie in ses maande ondergaan toe sy regterbeen bo sy knie op 19 Februarie geamputeer is.
Dit nadat die wond van ’n vroeër amputasie laer af in die been erge pyn veroorsaak het en wondvergiftiging na bewering dermate ingetree het. Maaiers het in die wond krioel.
Neethling se ma, Elsa van Zyl, sê daar was geen ander uitweg as om in te stem tot nog ’n amputasie nie.
Sy beweer die hospitaal was met vorige operasies en vyf ander amputasies oor ’n tydperk van ses maande nalatig met die versorging van haar seun se wonde.
Neethling het na die motorfietsongeluk in Pretoria-Noord in Zambezirylaan skuins voor middernag, sy linkerarm met ’n amputasie afgestaan.
Volgens Van Zyl, kon ’n ambulans hom eers twee ure na die ongeluk na die Steve Biko-hospitaal in Arcadia vervoer. Hy is in die noodgevalle-afdeling opgeneem.
“Sy lewe was in gevaar. Hy sou doodgaan as sy arm nie afgesit is nie. Dit was sy lewe of sy arm,” sê Van Zyl.
Na die hospitaalopname en eerste amputasie van sy arm, moes hy verdere amputasies kry – ook by Steve Biko.
Sy linkervoet is bo sy enkel afgesit en toe nog ’n stuk van die linkerbeen. Met sy regterbeen het hy eers sy regtergroottoon, daarna die toon daarnaas en toe die helfte van sy voet verloor.
“My hart is stukkend wanneer ek my 1.89m lange seun daar sien lê,” sê Van Zyl.
Hy het tydens sy verblyf in die hospitaal, volgens haar, ook ’n beroerte gehad en ’n prosedure is gedoen waartydens ’n aar vervang is.
“My kind is in ontsaglike pyn en die amputasie van sy regterbeen bo sy knie is nou hopelik die laaste. Die medici bly belowe hierdie prosedure sal van die pyn ontslae raak, maar selfs nou het hy steeds ernstig pyn na die laaste amputasie. Hy huil baie,” sê Van Zyl.
Neethling is verlede Woensdag ontslaan, maar is weer Saterdag opgeneem in Saal 6.2 nadat dit geblyk het hy het wondvergiftiging as gevolg van maaiers in sy wonde rondom die amputasie aan sy regtervoet.
Sy meen die pyn is as gevolg van die infeksies in die wonde rondom die amputasies..
Van Zyl is deurgaans na die hospitaal om toe te sien dat haar seun wel die nodige behandeling ontvang en het by medici aangedring om telkens aangehoor te word oor haar seun se toestand.
Woordvoerder van die Department van Gesondheid, Motalatale Modiba, het aan Rekord gesê dat Neethling op vorige geleenthede fisioterapiedienste geweier het.
“Hierdie dienste was krities vir sy herstel en welwees,” verduidelik Modiba.
Volgens hom het die familie vroeër verlede week aangedui dat hulle oorweeg om hom na private sorg te skuif. “Ons het in die lig hiervan die komende operasie gekanselleer,” bevestig Modiba.
Van Zyl sê sy kon egter nie private sorg gereël kry nie.

Na die berig oor Neethling se behandeling is Rekord ook deur Susan Gouws gekontak.
Sy beweer dat haar pa ook maaiers in sy wonde gekry het nadat sy linkerbeen bo sy knie geamputeer is in Maart 2023 by die Steve Biko-hospitaal.
“Hy was in erge pyn en die wond het net nie genees nie. Hy was telkemale terug oor pyn. Sy wond het etter met ’n afskuwelike reuk gelek,” vertel Gouws.
Sy beweer die medici het hom elke keer huis toe gestuur met net pynmedikasie en selfs een keer sonder verbande.
Sy been is na beweerde erge infeksie na die eerste amputasie nog 7cm korter gemaak, volgens Gouws.
“Hy moes weer met ’n herstelproses begin nadat die tweede amputasie se wond ook lank geneem het om te genees,” sê Gouws.
“Hy is tans weer vir twee weke terug in die Steve Biko-hospitaal. Die medici het aan ons gemeld sy liggaam is oortrek met bloedklonte,” sê sy.
Sy is hewig ontsteld oor die beweerde afskeepbehandeling wat haar pa glo kry.
“Ons belastinggeld betaal vir dienste wat ons ouers moet kry wat nie medies kan bekostig nie en ’n skrale pensioengeldjie kry,” sê Gouws.
“Regtig, mense van Suid-Afrika, maak julle oë oop en kyk wat aangaan in publieke hospitale,” maan Gouws.
’n Woordvoerder van die Gautengse Departement van Gesondheid, Tshepo Tshawa, sê weens die vertrouensverhouding tussen dokter en pasiënt, kan inligting oor ’n pasiënt se siekte of toestand nie sonder toestemming van die pasiënt verstrek word nie.
Tshawa wou nie verder kommentaar lewer oor Neethling se geval nie.
Vrae is ingedien by die departement oor Gouws se geval maar antwoorde is nog nie teen druktyd ontvang nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
