Local newsNews

Metro ontken hy het verpligting om kontrakteurs direk te betaal

Bybetalings aan kontrakteurs wat voertuigherstelwerk vir die metro doen, is reeds vir maande nie gedoen nie maar die stadsraad trek net skouers op en verwys hul na die metro se versekeringsmakelaar.

Kontrakteurs wat herstelwerk doen na ongelukke aan die metro se busse en voertuie, sê die metro se versekeringsmakelaar wat bybetalings aan hulle moet maak, betaal al vir meer as ses maande geen eise nie.

Een van die kontrakteurs wat anoniem wil bly as gevolg van vrees vir viktimisasie, glo dis duidelik die metro het nie die geld om aan die versekeringsmakelaar te betaal sodat hulle fakture vereffen kan word nie.

“Maar die werk moet nog steeds gedoen word. Wat gaan die metropolisie byvoorbeeld sonder voertuie doen?”

Sommige kontrakteurs wat herstelwerk vir die metro doen, is volgens hom reeds al agt maande lank nie betaal nie, alhoewel die nodige papierwerk en herstelwerk aan voertuie reeds gedoen is.

“Agterstallige bedrae beloop R400 000 terwyl ander reeds R1.3 miljoen uitstaande is,” verduidelik hy.

Die basiese bybetaling bedrag in die meeste gevalle voordat ’n kontrakteur kan begin werk, is meesal in die metro se geval R50 000.

Hierdie bedrag behoort ’n voorafbetaling te wees, maar word volgens hom indien ’n kontrakteur gelukkig is, eers maande na die tyd betaal.

In sommige gevalle is fakture wat in November 2022 ingedien is eers ’n jaar later vereffen.

Hy sê wanneer navrae gedoen word by die metro se versekeringsmakelaar oor die betaling van die fakture, word hulle verseker al die fakture is reeds aan die metro deurgegee.

Die versekeringsmakelaar wag egter vir die metro om geld aan hulle te gee om die betalings te doen.

Metrowoordvoerder Selby Bokaba sê die metro is wel verantwoordelik vir die gedeeltelike betaling van versekeringseise soos met bybetalings.

Hy het bevestig hierdie bedrag kan tussen R30 000 tot R50 000 wissel.

“Dis belangrik om die status van die gebeurlikheidsfonds van die metro te verstaan. Betalings aan die versekeringsmakelaar word uit die fonds gemaak. In ons laaste kontak met die versekeraars is daar vermeld dat ’n aanvullingsbedrag in die rekening inbetaal is. Die voorwaarde is dit moet geoormerk word vir eise wat nog nie betaal is nie,” sê Bokaba.

Hy verduidelik dat die metro se begrotingsaanpassings tans bespreek word.

“Hierdie aangepaste begroting is nie ’n herbegrotingsproses nie en fiskale dissipline moet steeds aan gehoor gegee word,” benadruk Bokaba.

Volgens hom moet daar in hierdie voorgestelde begroting gedetailleerde inligting gegee word oor uitgawes en projeksies vir die huidige finansiële jaar.

“Vrae kan dus nie nou gevra word rondom die metro se betalings aan die versekeringsmakelaar nie. Ons stel voor dat die beweringe van die kontrakteurs met die versekeringsmakelaars nagegaan word. Die stad het geen direkte verpligting teenoor die kontrakteurs nie,” sê Bokaba.

Rekord het vrae rondom die stellings van die kontrakteurs en die metro aan die versekeringsmaatskappy (Kunene Makopo Risk Solutions) gestuur maar geen antwoorde is teen druktyd verskaf nie.

Lees: Disgruntled security guards vow to shut down metro

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button