Dinokeng-reservaat groet superma jagluiperd en sit metapopulasie-projek voort
Pretoria se Dinokeng-reservaat dra trots by tot die redding van 'n spesie wat deur internasionale bewaringsorganisasies se bedreigde spesies se rooi lyste as "kwesbaar" aangedui word.

Die jagluiperdprojek van die Dinokeng-reservaat sal die trotse tradisie voortsit waarmee die onlangse ontslape superma-legende met die naam Rietvlei hulle gelaat het.
So sê die reservaat se bestuurder, Dawid Boshoff.
Die reservaatbestuur wag nog op die uitslae van die outopsie op die jagluiperdwyfie, maar Boshoff vermoed die oorsaak is ouderdom.
Haar bydrae tot die oorlewing van die spesie is deel van haar trotse nalatenskap.
Die reservaat net buite Pretoria is trots deel van twee metapopulasie-projekte op 19 000 hektaar met hul meer as 20 jagluiperds.
Jagluiperds is tans een van die wêreld se mees bedreigde spesies met ’n skraal kans op oorlewing volgens die statistiek van die Internasionale Vereniging vir Natuurbewaring en word as “kwesbaar” aangegee op hul Rooi Lys van Bedreigde Spesies.
Hierdie bewaringstatus dui aan daar is ’n hoë risiko dat die spesie kan uitsterf.
Volgens die vereniging se 2021-oudit, is daar 6 500 volwasse jagluiperds in die natuur oor.
Bewaringsprojekte soos die jagluiperdprojek op Dinokeng om die spesie se oorlewing te verseker, is veral belangrik in Suid-Afrika waar daar tans slegs ’n geskatte 1 300 volwasse jagluiperds ’n tuiste in die natuur vind.

Boshoff is veral trots op superma Rietvlei se bydrae tot die oorlewing van haar spesie.
Rietvlei het met vyf werpsels 15 jagluiperdwelpies in die wêreld gebring en suksesvol grootgemaak.
“Sy het in die nege jaar en sewe maande van haar lewe ’n onuitwisbare indruk op almal gelaat wat met haar gewerk het. Sy het talle bewonderaars gehad,” vertel Boshoff.
Hy noem haar ’n grasieuse en moedige ambassadeur vir haar spesie.
“Sy het soveel skoonheid gehad en beslis baie persoonlikheid. Besoekers het haar gereeld gesien en baie oor haar gepraat. Sy het die beste nalatenskap waarvoor enige dier kan hoop,” benadruk hy.
Rietvlei se nageslag maak deel uit van die suksesvolle jagluiperdprogram van die reservaat en Suid-Afrika.
Hiervolgens word welpies oorgeplaas na ander reservate in samewerking met die twee metapopulasieprojekte, die Endangered Wildlife Trust-projek en The Metapopulation Initiative van Vincent van der Merwe.
Met die projekte van die twee organisasies het die aantal jagluiperds in reservate in Suid-Afrika van 217 in 2011 in 41 reservate tot 419 in 60 reservate in 2020 gestyg.
Boshoff sê die oorblywende jagluiperdbevolking van Dinokeng bestaan uit ’n aantal volwasse wyfies en dominante mannetjies plus ’n aantal welpies.
Hiënas bly van jagluiperds se grootste vyande terwyl leeus in die natuur verantwoordelik is vir 31% van jagluiperdsterftes.
Hiervan kan Dinokeng se jagluiperds ook getuig.
’n Dinokeng-jagluiperdma is deur ’n leeu doodgemaak nadat sy vier welpies gehad het.
Die vier weeswelpies is saam met vier ander wees-jagluiperdwelpies deur Dinokeng aan die bekende leeufluisteraar, Kevin Richardson, toevertrou om op sy grootkatskuiling naby Dinokeng groot te maak.

Die twee stelle welpies is die Wonderwerk-agt gedoop.
Boshoff sê al agt weesjagluiperdjies het bo verwagting die eerste jaar sonder hul ma’s oorleef.
“Nadat hulle vanaf die skuiling in die natuur hervestig is, het ons vir mekaar gesê as vier die eerste drie maande oorleef, is die projek ’n sukses,” vertel Boshoff. “Ons wonderwerkies moes leer jag, roofdiere vermy en hul moeilike beginjaar as wesies oorkom. Hulle het die uitdaging moedig aangegryp en floreer.”
Die Wonderwerk-agt is mettertyd as deel van die metapopulasieprojek van Vincent van der Merwe uitgeplaas na ander reservate in die Wes-Kaap, Limpopo en die Oos-Kaap.
“Ons is bly ons kon deel wees van ’n suksesvolle rehabilitasie-, hervestiging- en vrystellingsprogram,” sê Boshoff.
Hy glo deel van die sukses van hul volhoubare jagluiperdbevolking is dat die landskap in die reservaat die lewe vir die jagluiperds makliker maak, veral vir die diere in die savannaveld in die suide.
“Ons jagluiperds het nogals ’n voorkeur vir rooibokke, maar sal glad nie nee sê vir ’n stukkie koedoevleis nie,” meen Boshoff.
Hy glo die veiligheid van die reservaat dra ook tot die sukses van die projek by.
“Oor die kort 12 jaar wat die reservaat bestaan, kon ons ook ’n impak maak op jagluiperd- asook swart renosterbewaring omdat ons veiligheid as ’n prioriteit het. Ons maak seker die 180km-heining word gemonitor, kwesbare diere kry satelliethalsbande, monitors hou veldpatrollies en ons gebruik hommeltuie vir veiligheidsmonitering. ’n Ogie word ook gehou op die verwydering van strikke in die veld sodat diere nie beseer word nie.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.