Local newsNews

SAPD se nasionale hoofkantoor moet sluit nadat Solidariteit haglike toestande onthul

Die SAPD se hoofkwartier in Pretoria is toegemaak en ontruim na klagtes ontvang is. Onder hierdie klagtes was daar ook bewerings van lugwegsiektes en allergiese reaksies, vermoedelik weens vuil kantoorspasie en gebrekkige ventilasie, en werkers het ook oor vuil matte en probleme met luise en kakkerlakke gekla.

Die hoofkantoor van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Pretoria is ongeskik vir menslike gebruik verklaar en moes gister inderhaas ontruim word.

So sê Renate Pieterse, woordvoerder van Solidariteit.

Pieterse het bevestig die gebou se adres is Johannes Ramakhoasestraat 152 in Pretoria se middestad.

Sy sê die gebou moet tot verdere kennisgewing gesluit bly tensy ’n inspeksie dit opnuut veilig verklaar.

Pieterse verduidelik Solidariteit se afdeling vir Beroepsgesondheid en -veiligheid (BGV) is gister saam met ’n inspekteur van die Departement van Arbeid na die hoofkantoor by die sogenaamde Telkom Towers.

Die gebou is agt jaar gelede vir nagenoeg R900-miljoen deur die SAPD gekoop en glo opgeknap.

Sy het bevestig dié besoek was die gevolg van talle klagtes en etlike onbeantwoorde skrywes van die BGV-afdeling aan die SAPD en luitenant-generaal SW Chamane, die afdelingskommissaris van die SAPD se regsdienste.

So lyk dit in die gange van die SAPD se hoofkwartier in Pretoria.

Johan Böning, afdelingshoof van die BGV-afdeling by Solidariteit, sê verskeie klagtes is van polisielede ontvang, waaronder ernstige bewerings is as volg:

– die tekort aan skoon drinkwater,
– swak en stukkende lugversorging en ventilasie,
– stukkende en vuil toilette,
– geslote en ongemerkte nooduitgange,
– stukkende hysbakke,
– onvoldoende toerusting vir brandbestryding, en
– algemene vuil en besmette kantoorruimtes.

Onder hierdie klagtes was daar ook bewerings van lugwegsiektes en allergiese reaksies, vermoedelik weens vuil kantoorspasie en gebrekkige ventilasie, en werkers het ook oor vuil matte en probleme met luise en kakkerlakke gekla.

Volgens Pieterse is dié hoofkantoor die plek waar onder meer die SAPD se regs- en korporatiewe bestuursafdelings moet werk.

Die minister van polisie, Bheki Cele, en die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, is volgens haar ook veronderstel om daar te sit.

Sy verduidelik die boonste vloer waar minister Cele se aangewese kantoor is, is nuut oorgedoen en met goeie tegnologiese sekuriteitstoestelle beveilig.

“Dít terwyl die res van die 24 vloere as onleefbaar beskou word,” benadruk Pieterse.

“Nadat die Departement van Arbeid en Solidariteit se BGV-afdeling die inspeksie voltooi het, het die departement ’n onmiddellike kennisgewing van verbetering uitgereik en die gebou is dadelik ontruim.”

Die gebou het voorts nie oor die vereiste okkupasiesertifikate of goedkeuring van die brandweerdepartement beskik nie.

Die SAPD se hoofkantoor mag dus eers weer sy deure oopmaak nadat ’n okkupasiesertifikaat toegeken is en daar ook ’n inspeksie deur die brandweer gedoen is.

Volgens Helgard Cronjé, adjunkhoofsekretaris van die openbare bedryf by Solidariteit, is dit skokkend om te besef dat die amptelike wetstoepassers van die land nie eers basiese veiligheidswetgewing kan nakom nie.

“Tog kan minister Cele polisiegeld en -tyd gebruik om met ’n polisiehelikopter na die ANC se manifesbekendstelling in Durban te vlieg, maar terug by die huis is die hoofkantoor absoluut vervalle,” sê Cronjé.

“So, wat is nou eintlik die prioriteite: ANC-politiek of die veiligheid van landsburgers? Ek dink die antwoord is voor die hand liggend. Én dit is ’n baie ernstige saak. Die impak op werkersmoraal in die SAPD en die effek daarvan op misdaadbekamping is baie erg.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button