Local newsNews

Raakvatvroue pak lewe in volkleur aan

Die 29ste konferensie van die Vroue Landbou-unie se Jakaranda-streek het meer as 130 lede van alle oorde uit Pretoria getrek.

Meer as 130 lede van 11 takke van die Vroue-landbou-unie se Jakaranda-streek het hul konferensie op 7 Maart in Montana bygewoon.

Die tema was “Leef in volkleur”, ’n tema wat met vrolike papierrangskikkings van blomme en die lede se geblomde rokke op ’n keurige en stylvolle wyse gedra is.

Hester Botha van Pretoria-Noord het as intreespreker op die tema uitgebrei deur te verwys na hoe ’n mens jou dag en jou lewe soos keuses uit ’n pakkie kleurpotlode moet aanpak.

“Mens kan nie net een kleur uitkies nie! Jou lewensverhaal moet in alle kleure ingekleur wees, van bladsy tot bladsy,” het sy die konferensiegangers aangeraai.

Die streeksvoorsitter, Heléne Richter van Centurion, het in haar voorsittersrede en verslag gesê die streek se ledetal het toegeneem. Talle welsynsaksies is deur die takke onderneem soos projekte saam met die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie (SAVF), uitreik-aksies is na krisissentrums onderneem en geskenkpakke is by ouetehuise uitgedeel.

LEES: Venter stars again in Tuks’ victory against Walter Sisulu University

Verskeie pryse is toegeken aan lede wat aan die konferensiekompetisies oor handwerk, handvlyt, fotografie en skryfkuns deelgeneem het.

Dr. Imtiaz Sooliman van die ramp-uitreikorganisasie Gift of the Givers is as die streek se Persoonlikheid van die Jaar aangewys, terwyl Dina Botha as Skrywer van die Jaar aangewys is.

Sjef Maritha Steyn, stigter van Steyns Culinary School in Hatfield, het die gehoor tydens ’n demonstrasie van drie hoenderdisse meer vertel van die stigting van haar skool vir sjefs.

Sy het lede ook ingelig oor nuwe kosmodes soos dat wit peper nou weer met speserye meer gewild by voorste sjefs as swart peper is en dat vrugte soos mango’s gewilde bykosse en souse uitmaak.

Die lede is ook ingelig oor die gebruik van ’n traliesnyer-apparaat by die maak van skilderkorsdeeggeregte.

LEES: Na 18 jaar se vasbyt vat sanger se loopbaan vlam

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button