Na 18 jaar se vasbyt vat sanger se loopbaan vlam
Na 18 jaar se vasbyt het die lang sanger met die rasperstem van die Moot uiteindelik 'n kontrak van 'n musiekmaatskappy in sy sak.
Sanger en omroeper Fanus Pienaar kon ’n rugbyspeler van formaat vir die Blou Bulle gewees het.
Hy is na skool gekeur om deur die sport se range te beweeg, maar ’n ernstige besering het hom verhoed om enige speelgeleenthede te aanvaar.
Hy is enige kontaksport verbied oor die ondraaglike pyn wat dit in sy skouer veroorsaak.
Rugby se verlies is beslis sy bewonderaars se guns.
Die lang en openhartige groenoog is filosofies hieroor.
“Ek kon dit eers nie verstaan nie, maar mettertyd kry mens berusting,” sê Pienaar met ’n skugter glimlag.
Hy glo hy is ook geseënd omdat hy ’n leerbare gees het.
“Ek het uit Covid-19-tye geleer jy moet jouself kan oopstel om te leer en aan te pas.”
Hierdie uitkyk het hom ook gehelp in die 18 jaar wat hy in die musiekbedryf moes wag om ’n kontrak van ’n gevestigde musiekmaatskappy te kry.
Pienaar se enkelsnit, “Vonk in die Vlamme”, behaal al sedert die vrystelling daarvan in Februarie groot sukses en is reeds aan die klim op musiek- sowel as videostroomdienste. Sy liedjie het 270 000 trefslae op Spotify en 107 000 trefslae op YouTube binne twee weke behaal.
“Dit was 18 jaar se vasbyt deur terugslae. Ek het darem ’n wins gehad. Daar was baie persoonlike groei,” sê die oudleerder van Laerskool Voorpos in die Moot.
In hierdie tyd kon hy nie verstaan hoekom vriende met invloed nié vir hom ’n goeie woordjie doen nie, al het hy skaam daarvoor gevra.
Een so ’n vriend het wel raad vir hom gehad.
“Wag maar net. Jou tyd sal kom en dan sal dit die regte tyd wees,” het hy aangeraai.
Vandag sien hy die wysheid van hierdie ware woorde in.
Pienaar hanteer so twee tot drie optredes ’n naweek tussendeur sy omroepersverpligtinge op Lekker FM 98.3.
“Party dae hardloop ek myself amper dood,” lag hy.
LEES: NGV-baas sê SA is een stap nader aan die NGV
Sy loopbaan as omroeper het met ’n gunsie vir ’n skoolmaat begin.
Sy het hom gevra om haar vir ’n optrede op radio te vergesel en hy het vir haar kitaar gespeel. Hierna het ’n aanbod van die radiobestuur gevolg om ’n omroeper te wees.
“Na ek die stemtoets geslaag het, was ek bietjie aan die diep kant ingegooi maar ek is mos van vasberadenheid aan mekaar gesit,” glo Pienaar.
Hy glo hy het dié karaktertrek by sy pa, Johan, geërf. Sy pa was as vliegingenieur ’n legende in die Moot.
Vandag bied hy twee programme aan op Lekker FM 98.3, beide in gleuwe waar luisteraars na veral sy gewilde onderhoude met ander musikante kan luister. Die radiostasie se ateljees is in Centurion geleë.
Hy het sy sangloopbaan begin deur dikwels vir Gerhard Steyn vir sy optredes te open en was bekend vir sy optredes op legendariese kuierplekke in Pretoria soos die ou Firkins en Eagles.
Sy eerste solo-album, “Luister Na Jou Hart”, is in 2012 uitgereik. Hierdie titelsnit was ’n treffer regoor die land se radio-ranglyste.
Maar dit is nie net die sangers- en omroepersmikrofoon waar Pienaar in die vermaakbedryf presteer nie.
Hy kry in 2012 ’n rol in die film Fanie Fourie’s Lobola sowel as in die Britse TV-reeks Wild At Heart op die Universal-kanaal.
Pienaar kry hierdeur die kans om saam met plaaslike akteurs soos Richard van der Westhuizen en Thapelo Mokoena te werk sowel as saam met internasionale akteurs soos Stephen Tompkinson, Hayley Mills en Robert Bathurst.
Vandag stem Pienaar saam dat oornagsukses dikwels net ’n illusie is.
“Elke liedjie het sy eie tyd om tot sy reg te kom en elke mens ook,” sê hy.
Ook vir hom wil hy die voorbeeld stel van wat jy begin het, moet jy klaar maak.
“Ek is nou betrokke by my seun [Nathan, 12] en leer hom om op te staan en aan te gaan na enige struikelblok,” vertel Pienaar.
Na ’n paar jaar van stilte het Pienaar in 2018 “Rigting Na Jou Hart” en “Vir My Land” vrygestel.
Die liedjies is in 2020 gevolg deur “Myne Noem” en “As Ek Superman Was” saam met Deon van der Merwe.
Een van die vorige liedjies wat Pienaar onafhanklik opgeneem het, “John Deere Hoed” is ’n komposisie wat die aandag van die platemaatskappy, Vonk, getrek het.
“Dis ’n liedjie met ’n prentjie van ’n meisie wat almal al voor oë gehad het. Ek het hom geskryf nadat ek ’n meisie met so hoed gesien het. Dis ’n liedjie oor hoe die perfekte boeremeisie elke man se knieë kan lam maak,” vertel die sjarmante en veelsydige liedjieskrywer laggend.
“Dit is daai meisie wat natuurlik al die boksies reg merk: Sy is mooi, kan werk, kan boer, kan jag, sy’t ’n hart van goud en sy kan enige man onder die tafel in kuier. Sy is die tipe wat jou bang maak want jy weet sy kan alles doen en sy weet hoe om ’n man te vang en jou verlief te maak.”
Kliek hier om na Pienaar te luister:
LEES: Leerders trotseer yswater om wêreldrekord op te stel
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.