Skoolmaats raak nostalgies na 50 jaar se skeiding
'n Skaapbraai het oudskoolmaats ver laat terugdink aan hul skooldae asook aan diegene wat hulle vooruitgegaan het.
Die 1974-matriekreünie van Hoërskool Voortrekkerhoogte op 16 Maart by Fort Schanskop by die Voortrekkermonument was ’n emosionele dag vir talle van die bykans 30 oudleerders wat bymekaar gekom het.
Een van die organiseerders, Doulien Knopjes sê die geleentheid is volgens haar by die monument aangebied omdat dit “naby die hoërskool is waar ons saam met die akedemie gewoeker en matriek geskryf het”.
“Die skapies is bymekaar geroep deur ons organiseerders wat vir ’n heerlike skaapbraai gesorg het. Die liefdesgawes vir hierdie herontmoeting het saam met die reëlings net te voorskyn gekom. Die saal, kos, naamkaartjies en vele meer is deur oudleerders geborg,” verduidelik sy.
Vir Knopjes het die ware geleentheid reeds voor die funksie self begin.
“My emosies was in ’n warboel van opgewondenheid en verlange na 50 jaar van onthou en van meer wil weet,” vertel Knopjes aangedaan.
Van die destydse 135 matrieks kon 40 met ’n klompie eggenote of metgeselle bymekaar geroep word.
“Sommiges kon ons nie in die hande kry nie. Sommiges woon en werk oorsee. Heelwat van ons matriekmaats het ons reeds vooruitgegaan,” verduidelik Knopjes.
Tydens die geleentheid het sy dikwels gedink “êrens het die tyd verbygegaan, maar in ons gedagtes is die skooljare nog by ons”.

Met die uitruil van gedagtes tydens die geleentheid, het sy wonderlike ervaringe herleef.
“Veral van ons as onskuldige jong skoliere wat tydens pouses gedagtes gedeel het. Met so ’n samekoms val baie herinneringe in plek,” mymer sy nostalgies.
Tydens die funksie, vertel sy, het oudleerders se lewens na skool gestalte in stories oor hulle beroepe, blyplekke en gesinne gekry.
“Ons het gehoor van almal wat ons reeds vooruitgegaan het, asook die van ons wat nou pensioenarisse en oupas en oumas is. Dit het gevoel asof die 50 jaar tussen-in nie ’n verskil gemaak het in die gretigheid om te luister na vertellinge nie. Ons het die onthou net weer daar opgetel,” sê Knopjes.
Vir haar was die gedeelde hartseer, ervaringe en belewenisse van maats “kosbare edelgesteentes om vorentoe te bewaar”.
LEES: Bakkie hijacked in Pretoria retrieved en route ‘to border’
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
