Local newsNews

Brink gaan nêrens na jaar in burgemeesterspos

Brink sê om burgemeester te wees is nie ’n maklike taak nie.

Die DA Gauteng bevestig Cilliers Brink bly aan as Tshwane-burgemeester.

Hy sal nie ’n setel inneem as lid van die Parlement of provinsiale regering nie, tenspyte van die feit dat hy aan die party se kandidaatskeuringsproses deelgeneem het in ooreenstemming met sy reg as partylid, sê DA premierkandidaat, Solly Msimanga.

Die DA het van die party se kandidate vir die verkiesing op Maandag, 25 Maart aangekondig na ’n proses wat10 maande geduur het.

Volgens Msimanga, is Brink hoog geag tydens die kandidaatskeuringsproses.

Brink het dit duidelik gemaak dat hy die stabiliteit van die Tshwane Multipartykoalisie as van kritiese belang sien, nie net vir die hoofstad nie, maar vir die land.

Op Dinsdag, 26 Maart het hy op X gesê: “Groot aankondiging. Ek bly aan as Tshwane-burgemeester. Om wat ons as koalisie begin het af te handel: die finansies te herstel, energie-onafhanklikheid te bou en dienste te verbeter. In die aangesig van kaders, tenderpreneurs and alle andere wat ’n Joburg-tipe leierskap in Tshwane sou verkies.”

Volgens die DA het Brink as LP in Februarie 2023 bedank “om die gemors te herstel wat na dekades van ANC-kaderontplooiing en sistematiese korrupsie agtergelaat is”.

Dit is op 28 Maart vanjaar wat hy die verantwoordelike posisie vir ’n jaar lank beklee nadat hy die burgemeesterspos oorgeneem het van DA-raadslid Randall Williams, wat op 13 Februarie 2023 bedank het.

Brink sê om burgemeester te wees is nie ’n maklike taak nie.

“Nie lank nadat ek verkies is nie was daar ’n massiewe kragmas-ineenstorting, wat algehele dele van die stad verduister het. In die daaropvolgende maande het ons aanhoudende wateronderbrekings van Rand Water ervaar, ’n tragiese cholera-uitbraak en ’n byna-verlammende staking van drie maande. Nietemin, deur om saam te werk as ’n toegewyde multiparty koalisie, het ons deurgedruk, afgesien van die vele uitdagings wat ons hoofstad verlede jaar die hoof gebied het,” sê Brink.

Hy benadruk hy glo dat sy administrasie stabiliteit aan die Tshwane stadsraad gebring het.

“As koalisie kon ons as ’n blok stem en belangrike verslae deurgee tot voordeel van die Tshwane inwoners. As koalisievennote mag daar vele verskille tussen ons wees, maar ons is verenig in ons gedeelde gemeenskaplike doelwitte om Tshwane te red en dienste te lewer,” sê Brink.

Hy sê toe hy verlede jaar sy amp aanvaar het, het hy onderneem om ’n hoofstad te bou wat vir alle inwoners werk.

“Ek gaan nie weg totdat dit gedoen word nie. Ek is hier om te bly en om voort te bou op die vordering wat ons tot dusver gemaak het,” sê Brink.

Msimanga sê Brink bly getrou aan sy woord.

Hy sê in die afgelope jaar het die Tshwane Multiparty-handves ’n nuwe span van senior bestuurders gewerf, stappe geneem om private energie-opwekking in plek te stel en het ook die stad se ouditresultaat verbeter.

“Die stad en die koalisie het sterk en stabiele leierskap nodig. Ons verwelkom Brink se besluit en ondersteun sy aangehoude reddingssending in die hoofstad,” sê Msimanga.

’n Gebrek aan leierskap word geïdentifiseer as een van die groot tekortkominge in die metro.

In die Good Governance Maart-verslag oor Suid-Afrika se beste- en swakste beheerde munisipaliteite, het die Tshwane Metro se leierskap ’n onrusbarende 1 uit 5 moontlike punte vir leierskap ontvang.

Die Good Governance Africa (GGA) 2024 Bestuursprestasie-indeks weerspieël ’n akkurate weergawe van die stand van plaaslike regeringsbestuur in Suid-Afrika.

Wat uitvoering betref was die metro was ook tweede-laaste uit die agt.

Die metro het ’n hoë telling vir dienslewering gekry, maar ’n lae telling vir leierskap en beheer.

Onder die metro’s insluitende Mangaung, Buffalo City, Johannesburg en Nelson Mandelabaai het Tshwane onder gemiddeld presteer.

Die GGA het al Suid-Afrika se 257 munisipaliteite nagevors, insluitende die agt metro’s en het hulle beoordeel volgens hul administrasie, beheer, leierskap en bestuur, beplanning, monitering en evaluering, sowel as dienslewering.

Vir die metro’s is ’n addisionele ekonomiese ontwikkelingsafdeling ingesluit.

Dié is beoordeel volgens ’n gestandaardiseerde skaal van 1 na 5, met 5 as optimaal.

Die GGA sê die verslag kom wanneer “Suid-Afrika se plaaslike bestuursisteem sy mees wydverspreide reekse van veranderinge ervaar”.

Dit sê die 2021 plaaslike regeringsverkiesings het ’n rekord aantal stadsrade en koalisies tot gevolg gehad waar geen party ’n volstrekte meerderheid gehad het nie.

Dit het aanleiding gegee tot politieke onstabiliteit in vele stadsrade, wat veroorsaak het dat nasionale departemente die wetgewing wat hul regeer wou wysig.

Tans is 32 munisipaliteite onder administrasie, terwyl 66 as disfunksioneel bestempel word.

Bevrediging met munisipaliteite onder burgers is veral laag, met die landswye gemiddeld wat op 30% sit.

Die verslag sê Tshwane en Johannesburg “tree op op ’n wyse wat hul hoofstadstatus weerspreek,” en dat Tshwane sukkel met administrasie en beheer, beplanning en kontrole, sowel as met bestuur.

– Lees die volle verslag: https://digitalmallblobstorage.blob.core.windows.net/wp-content/2024/03/Enhanced-GPI-2024.pdf

Lees: Kom geniet ‘n avontuur van smaak by The Wild Café

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie. 

 
Back to top button