Die Moot vier Vadersdag so:
Moot-gemeenskap deel Vadersdagvieringe, en vertel van hul unieke tradisies en herinneringe.

Vadersdag gee elke jaar aan gesinne ’n geleentheid om die rol van ’n pa te gedenk. Rekord het van ons lesers gevra hoe hul die dag gevier het.

“Ons glo vas daarin dat jy elke dag jou vader moet eer maar dat mens Vadersdag net ekstra spesiaal kan maak met ’n ete en bederfies uit jou hart. Niks is vir ’n pa lekkerder as om sy kinders by hom te hê en hom te bederf nie. Mens moet dankbaar wees vir hulle in jou lewe en jou dankbaarheid betoon met liefde in oorvloed, want môre is vir niemand ’n waarborg nie.”
– Rika van Staden

“Vadersdag is baie spesiaal vir my as ’n seun want ek groei om soos my pa te wees en ek word groot gemaak om in sy voetspore te volg. Ons vier dit deur saam te braai, ietsie te drink en die dag as familie saam te spandeer. Ek dink dit is belangrik om dit saam te spandeer, want die lewe is so kort en kan mens so vinnig iemand verloor, so om soveel as moontlik tyd saam te spandeer is baie belangrik.”
– Werner du Toit

“Vadersdag vir my gesin is ’n spesiale dag waar ons (ek en my twee susters) tyd maak om ons pa te vier en bietjie waardering te wys vir alles wat hy al vir ons gedoen het. Ons begin gewoonlik die dag met ’n lekker ontbyt, en geskenkies oopmaak, en eindig met ’n Sondagmiddag braai. Ons geniet dit om almal net saam te wees en dankie te sê aan ons Pa.”
– JC Esterhuizen

“Vadersdag is nie so groot in ons huis nie. Ons gee net elkeen vir my pa ’n klein geskenkie. Dit is vir ons belangrik om as gesin bymekaar te wees en gesinstyd saam te hê. Dit gaan vir my gesin meer daaroor om tyd saam te spandeer en op die Sondag na kerk lekker saam te kuier.”
– Irmari Venter

“Ons Myburghs vier Vaderdag omdat Piet (oupa), Wouter Myburgh (seun), Wikus Myburgh (seun), Franco Ferreira (skoonseun) almal vaders is wat hul alles gee vir hul gesin sowel as hul families. Almal is so besig met hul eie dinge dat so ’n dag almal weer saambring as ’n familie deur lekker gesinstyd saam te spandeer.”
– Irene Myburgh

“My pa is ongelukkig al ’n rukkie terug oorlede, maar ons het elke jaar as kinders bymekaar gekom op die dag om hom heerlik te bederf met geskenke. Ons het ook daarvan gehou om die dag spesiaal te maak deur te gaan uiteet by ’n lekker restaurant. Nou sit ek elke jaar op Vadersdag ’n foto van my pa op Facebook en ek is lief daarvoor om ietsie mooi oor my pa te skryf.”
– Amanda Erasmus

“Vadersdag is ’n dag waar jy vier wat ’n pa is en wat sy doel is in die gesin. ’n Pa het ’n uiterste belangrike rol binne die gesin en ook in elkeen van sy kinders se lewe. Hy is die een na wie jy opkyk. Ons tradisie is dat al ons kinders vroeg die Sondagoggend ontbyt maak en dan saam geskenkies in die bed uitdeel en oopmaak. Ons gesels net lekker saam en geniet almal ’n koppie koffie en beskuit. Dan hou ons net ’n lekker familie ete om dit saam te vier.”
– Jeanine Bosker
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
