Local newsNews

Pleidooi gelewer vir kommentaar op omstrede bewaringstrategie

Pretoria se bewaringsgesindes is aangemoedig om voor die sperdatum van 15 April kommentaar op 'n omstrede beleidsdokument vir die toekoms van die land se bewarings- en wildlewe-ekonomie te lewer.

Pretoria se bewaringsgesindes het Saterdag, 6 April by ’n vergadering van die Filosofiekafee Klub saamgestem die nuwe strategiedokument vir bewaring soos deur die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing voorgelê het te veel tekortkominge.

Bekroonde Media24-omgewingsjoernalis, Elize Tempelhoff, het die bespreking van die gepubliseerde dokument rondom die toekomstige kommersialisering van Suid-Afrika se biodiversiteit gelei.

Sy het ’n pleidooi gerig aan lede van die klub om voor 15 April hul kommentaar oor die voorstelle daarin aan Minister Barbara Creecey te stuur.

Die dokument het onlangs tydens ’n konferensie van die department tot breedvoerige besprekings gelei deur bewaringsorganisasies en jag-instellings, sowel as ander rolspelers.

Tempelhoff het uit haar wye ervaring met bewaring, sowel as wetgewing rondom die omgewing, geput om die gehoor in te lig oor hoe die biodiversiteit-raamwerk deur die strategie in plek gestel gaan word.

Sy het nie goeie moed vir talle van die voorstelle se uitvoerbaarheid nie en voel die bewoording opsigself is verwarrend.

“Daar is omstredenheid rondom die woord ‘consumption’ in die wetgewing en die beleidsdokument. In Afrikaans kan dit of verbruik of gebruik beteken, nie een wat werklik op die doelwit van die wetgewing naamlik bewaring dui nie,” sê Tempelhoff.

Sy het verduidelik dat na die ondertekening van verskeie internasionale verdrae Suid-Afrika sy wildlewebedryf- en bewaringswetgewing asook ingesteldheid sal moet aanpas om aan die vereiste te voldoen dat 30% van die land se grond eenkant gesit moet word vir bewaring teen 2030.

Anita du Plessis en Rensche Louw van Waverley

“Hierdie herstrukturering kom neer op die aankoop van duisende hektare grond deur die regering waarvoor daar nou fondse voor gevind moet word,” sê Tempelhoff.

Sy het die uitvoerbaarheid van verskeie voorstelle bevraagteken, soos onder meer die voorstel dat die Blou en Groen Skerpioene meer mag en fondse moet verkry om regulasies rondom die strategiedokument en wetgewing toe te pas.

“Mens kan hulle nie eers in die hande kry om oortredings te rapporteer nie. Wat nog te sê dat hulle die beleid se wetstoepasssing moet doen?” vra Tempelhoff.

Sy voel ook sterk daaroor dat die feit dat nege provinsies se provinsiale wetgewing en bewaringsbeleidsrigting so drasties verskil ten opsigte van dieselfde bewaringskwessies, ’n ernstige struikelblok is vir die uitvoering van die nasionale beleid.

“Daar is te veel teenstrydighede in hierdie dokument en die uitvoering daarvan.

Sy meen daar moet van vooraf daaroor besin word “om beter en meer gefokuste voorstelle vir openbare kommentaar voor te lê”.

Sy het ook op nuwe wetgewing en beleid rondom die uitbreiding van Suid-Afrika se wildlewe-ekonomie gewys.

“Aan die een kant sê die beleid ‘bewaar, bewaar’. Aan die ander kant sê dit egter ‘kom ons teel wildlewe-spesies sodat trofeejagters kan kom skiet’. Dit maak eenvoudig nie sin nie,” verduidelik Tempelhoff.

Oor meer gelykheid in terme van voordele vir almal uit ’n bewarings- en wildlewe-ekonomie, verduidelik Tempelhoff dat gemeenskappe, veral naby bewaringsgebiede uit die kommersialisering van nasionale parke, soos met die bou van verblyfplekke, voordeel sal trek.

“Hierdie proses sal versigtig benader moet word sodat volhoubare planne in werking gestel kan word. Kitsoplossings gaan nie werk nie,” glo Tempelhoff.

Marian Kruger en SJ Grobler van Pretoria-oos

Bewaringsgesindes van Pretoria is veral bekommerd oor die feit dat emosionele sentimente eerder as wetenskaplike argumente die beleidsdokument rig.

Du Preez de Villiers van Pretoria-oos verwys na hoe emosionele besluite rondom die uitdunning van olifante in die Kruger-wildtuin daartoe gelei het dat gedeeltes van die wildtuin in veld sonder enige bome kan verander.

“Hier is vir my gans te veel emosiegedrewe besluite in hierdie dokument. Ons sal eerder verantwoordelike besluite moet neem op sterkte van navorsing en beproefde stelsels en prosesse,” meen De Villiers.

Ander punte wat deur die gehoor gemaak is, sluit in dat die bewaringsorganisasies van die regering in die land ’n bestuursrewolusie sal moet ondergaan alvorens die beleid uitgevoer kan word.

Magaliesberg-bewaringsgesindes is ontsteld dat geen planne rondom die area in die beleidsdokument vervat is nie, terwyl daar in terme van biosfere en korridors vir bewaring na vele ander areas se ontwikkeling verwys word.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button