Local newsNews

Groot liefde met spesiale blink klip verseël

Vir die Afrikaanse sanger met musiek met 'n moderne countrymusiek-ritme, is die liefde na sy huwelik nie net meer iets om oor te sing en te skryf nie, maar 'n gekoesterde werklikheid.

Die driestuks liedjies wat rustige liedjieskrywer en sanger Deon Groot van Centurion geskryf het is onlangs afgerond met die bekendstelling van sy nuwe en reeds gewilde enkelsnit, “Hand op die Bybel”.

Vir hierdie ware romantikus met die spontane glimlag en die hipermoderne bril, was die vrystelling van die liedjie ekstra omdat die driestuks liedjies die verhaal vertel van sy eie soeke na ’n lewensmaat en hoe hy haar gevind het.

“Nou is die trio voltooi,” sê Groot.

Die drie liedjies is: “Hemelpoorte”, “Die Een” en “Hand op die Bybel”.

Hy is veral bekend vir Afrikaanse liedjies met ’n moderne country klank soos “Gee my oor”, “Bietjie”, “Lepellê”, “As ek net jou man kon wees”, “Is die koeël deur die kerk?” en die welbekende “O’lyfie”. Laasgenoemde het meer as 400 000 speelbeurte op musiekstroomdienste gekry.

Groot het sy eggenoot, Lucretia, eers twee jaar nadat hy haar vir die eerste keer opgemerk het, die hof begin maak in 2019.

Sy lag heerlik as jy haar vra hoekom sy so skugter was om hom weer te sien ten spyte van sy herhaalde pogings om haar uit te vra na hul eerste ontmoeting.

“Want hy is ’n Afrikaanse sanger en ons is almal redelik bekend met hul reputasies,” lag sy.

Maar ware Namakwalander wat hy is, het Groot nie opgegee nie.

Na hul herontmoeting na twee jaar by vriende se huis, het die liefde geblom. Groot was die eerste kêrel wat die digitale redigeerder en videograaf huis toe gebring het.

Saam kon hulle die uitdagings van Covid-19-epidemie die hoof bied.

In 2022 het hy met vriende, Natalie en Johan Hanekom, en sy gesin saamgespan om ’n verloofring aan die niksvermoedende Lucretia se vinger te kry.

Hiervoor het hy die samewerking van vriende gekry wat naby Moorreesburg in die Wes-Kaap woon. Op ’n konsert van Groot het hulle toe die vriende ‘toevallig’ ontmoet en ’n uitnodiging gekry om die aand op hul plaas deur te bring.

Hy is die laatmiddag op ’n voorwendsel veld toe saam met die plaaseienaar. Lucretia en die vriend se eggenoot is later agterna. Toe hulle die koppie bestyg, merk Lucretia toe vir Deon op op sy knie op die plek waar hy vantevore belowe het om haar eendag te vra om sy lewensmaat te wees.

Skielik het “eendag” aangebreek. So sprakeloos was Groot, dat hy sy hele voorbereide toespraak vergeet het.

Sowat drie maande gelede het die paartjie troubeloftes voor die kansel aan mekaar gemaak. Gedeeltes van hul trou-video word ook as die agtergrond van die video van “Hand op die Bybel” gebruik.

“Die verlowing het nogal beplanning geverg en die toneelspel van almal wat saam beplan het, maar was elke oomblik werd,” se die nuutgetroude Groot.

Om die regte blink klip vir die ring te kry, was nie ’n reuse-soektog nie. Groot, óók ’n gekwalifiseerde siviele ingenieur, was ’n diamanthanteerder by die Alexkor Diamantmyn in Alexanderbaai.

Sy pa, eens veiligheidshoof by die see-myn waar diamante uit die see se bodem opgesuig word, het Groot lank voor die groot vraag gevra is, gehelp om die regte steen te vind.

“Dit was ’n droom wat waar gekom het om die besonderse diamant te laat set en ook tot sy reg te laat kom,” vertel Groot.

Sy verhoognaam, Deon Groot, het ook ’n sterk band met sy oorlede pa. Sy van is inderwaarheid Laubscher.

Om hom op hul tuisdorp van sy pa, óók genoem Deon, te onderskei was sy pa Groot Deon genoem. Hy het self as Klein Deon bekend gestaan.

Toe die platemaatskappy op ’n verhoognaam aandring, het hy besluit om sy pa in sy naam te vereer vir die bydrae tot sy loopbaan.

“Aan die Weskus het bykans almal mos maar ’n troetelnaam,” verduidelik Groot.

Groot het van die Weskus verhuis vir ’n beter werksgeleentheid en het onder meer vir die Protea Coin Sekerheidsgroep, Denel Land Systems, DHL en Imperial Logistics as risikobestuurder gewerk.

Sy musiekloopbaan het begin toe hy ’n karaokekompetisie gewen het in Centurion. Sedertdien het hy aan talle geleenthede deelgeneem om homself as kunstenaar te vestig in die musiekbedryf.

Soos elke Namakwalander (of Mannakwalander soos die plaaslike mense hulself noem) het sy liefde vir die natuur gebly en weerspieël dit in die woordsensitiewe lirieke van sy liedjies.

“Ons taal kan die natuur so mooi vasvat. Om saans langs die Oranjerivier te wees of kreef by Oranjemund uit te haal, sal altyd besonders bly,” sê Groot.

Hy het ook lief geword vir die see by Franskraal in die Suid-Kaap waar sy ma, Patrys, nou woon.

Voorlopig maak die paartjie planne om iewers in Pretoria-oos op ’n landbouhoewe te gaan woon en selfversorgend met groente en ander kosvoorrad te word.

“Aan die Weskus leer mens by ander hoe mens met min tevrede kan wees. Dit is ons droom om só te leef,” glo Groot.

– Kliek hier om na Groot oor sy nuwe snit te luister: Video with Kaden

– Kliek hier om na die snit “Hand op die Bybel” te luister.

 
Back to top button