Local newsNews

12 boere swaai eersdaags appels in gevegskuns

Boere gaan gevegkunsafrigting kry vir’n paar maande in 12 episodes van 'n werklikheidsreeks om in September op 'n glansaand in ses gevegte teen mekaar te staan te kom.

’n Werklikheidsreeks gaan eersdaags wys hoe 12 landbouers appels kan swaai wanneer hulle in ’n MMA-gevegspromosie van ’n Pretoria-gevegskunsmaatskappy, die Moer-’n-Boer-kompetisie, teen mekaar te staan kom.

’n Debuut 12-episodereeks sal tydens die voorbereiding vir die gevegte sowel as die finale gevegte opgeneem en uitgesaai word.

Die TV-kanaal waarop die program uitgesaai sal word, moet nog aangekondig word.

Die boere-deelnemers sal opgelei word in ’n verskeidenheid gevegsdissiplines, insluitend boks, skopboks, stoei, en Brasiliaanse Jiu-Jitsu om hul kanse in die gevegte te verbeter.

Die 12 boere kom van distrikte soos Brits, Bapsfontein en Hartswater, asook die Mpumalanga-provinsie.

Die deelnemerslys sluit die volgende boere in: Jannie Nel, Steph Meintjies, Ernst Meintjies, Riaan Gouws, Zac Steyn, JW Bergh, Ettiene Erasmus, Danre Prinsloo, Lambertus Scheepers, David Louw, Drikus Jacobs en Eric Basson.

Hul boerderye is uiteenlopend en sluit neute-, groente-, bees- en patatboerderye in.

Die boere sal toegeken word aan van die land se top gemengde gevegkunsafrigters om hulle voor te berei vir die aksiebelaaide gevegsaand met ses gevegte tussen die 12 boere op 14 September by die Heartfelt Arena in Pretoria.

Daar sal ook dié aand drie amateur- en twee professionele gevegte onder die banier van Versus Promosies plaasvind.

Boere sal ook die geleentheid kry om pryse gedurende die kompetisie vir hulself en hul plase te wen.

“Ons is opgewonde om boere ’n unieke platform te bied om hul vermoëns aan die publiek te demonstreer,” sê Cameron Saaiman, UFC-vegter en mede-eienaar van Versus Promosies.

Verskeie landbou-organisasies soos die Suid-Afrikaanse Agri-inisiatief en landbougerigte borge is betrokke.

Saaiman sien uit na die pret wat die kompetisie kan inhou. “Talle van die boere het geen agtergrond in gevegskuns nie, maar gaan sekerlik na 12 episodes veel meer as aan die begin van die program weet. Dit gaan ’n ware toets wees vir hul dissipline, krag en uithouvermoë.”

Professionele en amateur boksers wat as afrigters sal optree sowel as vegters, wat eersdaags deelneem in ’n grootbokstoernooi op 18 Mei, het die bekendstellingsaand bygewoon.

Professionele MMA-atleet Ryan de Jager van Montana en bokser JT Botha van die Moot het solank by die bekendstellingsaand wenke aan die boere gegee.

Een van die voornemende boervegters, Etienne Erasmus van Pekanhoek in die Hartwaterdistrik, sê die kompetisie sal ’n nuwe ervaring vir hom wees.

“Ek sien uit om nuwe kundighede op te bou en weet na die ses maande van opleiding gaan ek ”n ander mens wees,” vertel Erasmus.

Hy dink egter hy is reeds op een gebied toegerus om homself te laat geld.

“Ek kan vinnig dink in moeilike situasies en ek meen dit gaan nodig wees,” glo Erasmus.

Hy sien uit om saam met sy afrigter, Stephan Pretorius, te werk om die kroon na September te dra. “Hy lyk of hy weet waarvan hy praat,” sê Erasmus.

– Kliek hier om die boere te sien wat deelneem:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button