Suid-Afrikaanse Lugmagmuseum se jaarlikse lugskou neem toeskouers op vlug deur tyd

Lugvaartgeskiedenis op sy beste! Die SALM-museum se jaarlikse lugskou het die skares betower met ou en moderne vliegtuie en opwindende avonture in die lug.

Die Suid-Afrikaanse Lugmag Museum (SALM) se jaarlikse lugskou het op Saterdag 4 Mei nuwe hoogtes behaal toe dit lugvaartentoesiaste sowel as toeskouers met ’n geskiedkundige vertoning bekoor het.

Die geleentheid is aangebied van 07:30 tot 18:00 by die Air Force Mobile Deployment Wing (AF MDW) langs die Ou Johannesburgpad in Valhalla, Pretoria, en het vir ’n dag van opwinding en vermaak gesorg.

Die opgewondenheid was tasbaar terwyl gretige inwoners tougestaan het om die geleentheid by te woon.

Die dag het afgeskop met ’n groot openingseremonie, insluitende ’n parade van polisievoertuie en vragmotors wat die begin van die feesvieringe ingelui het.

Drie van die vlieëniers het ook hul verskyning gemaak deur met valskerms op die landingstrook te land.

Die talle kos- en koffiestalletjies het vir’n vrolike atmosfeer gesorg, maar dit was die skouspel in die lug wat eintlik almal se aandag gesteel het.

Vanjaar se tema, “Flight Through Time – Legends of The Skies”, het aan toeskouers ’n unieke geleentheid gebied om insig in die lugvaart se ryk geskiedenis te kry en die vlug-evolusie te ervaar.

Die bywoners is op ’n boeiende reis deur die lugvaartgeskiedenis geneem, van die eerste vliegtuie se baanbrekersdae tot die nuutste tegnologie van beide die hede en toekoms.

Die lugskou het ’n uiteenlopende reeks lugvertonings met beide ou en moderne vliegtuie aangebied.

Van klassieke dubbeldekkers tot hedendaagse vegvliegtuie, elke vliegtuig het ’n hoofstuk in die vlugverhaal verteenwoordig, wat die moed en vernuwingsgees van diegene wat die lug getrotseer het demonstreer.

Toeskouers het ’n dag van opwindende kunsvliegvertonings, presisievlugdemonstrasies en gesimuleerde gevegsmaneuvers geniet.

Benewens die opwindende lugvertonings, was daar ook statiese vliegtuiguitstallings, wat mense in staat gestel het om die vleigtuie van naby te bekyk.

Hierdie uitstalling het ikoniese oorlogsvliegtuie tot vintage vliegtuie ingesluit.

Die Suid-Afrikaanse Lugmagmuseum se jaarlikse lugskou was ’n onvergeetlike ervaring, wat toeskouers gretig laat uitsien het na volgende jaar.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Exit mobile version