Local newsNews

Pretoria-Noord-ma skryf erfgoed-vir-kleingoed joernaal

'n Geskenkboek aan haar ma wat getrou ingevul is, het 'n saadjie by 'n bemarker van Pretoria-Noord gesaai as 'n ideale nalatenskapjoernaal vir haar eie kinders.

Toe bemarker Anné Pretorius ’n nostalgiese onthoujoernaal raakgeloop het op ’n vlooimark oor hoe om herinneringe neer te skryf, het sy geweet sy sal graag só boek vir haar ma wil gee.

Min sou sy kon raai dat ’n soortgelyke boek met die titel, Memoires van jou moeder, uit haar eie pen sou verskyn.

“Ek het nog altyd gedink ma’s ken ons deurwinterde kleintyd en ander stories en wil dit vir ons aangee, maar kry dalk nie altyd die tyd nie,” sê Pretorius, ’n inwoner van Pretoria-Noord.

Sy glo indien mens ook hierdie stories oor jou kleintyd ken, jy fasette van jouself beter kan leer ontdek.

Sy het die boek in 2010 gekoop en vir haar ma, wyle Myrna van Rooy (née Enslin), as geskenk op haar 60ste verjaarsdag gegee.

Anné Pretorius het ‘n joernaalboek gepubliseer waarin ma’s hul gedagtes vir hul kinders kan nalaat.

Na haar ma se afsterwe in 2019, het sy eers werklik die betekenis van die onthouboek na waarde kon skat.

Daarbinne het sy talle van haar ma se herinneringe, gedagtes en menings, sowel as foto’s en soeweniers gevind.

Sy het by die lees daarvan net weer eens besef “moederliefde is onvoorwaardelike liefde”.

“Met die lees van die boek, het ek my ma se lewensverhaal op ’n nuwe en ander manier ervaar,” sê die ma van twee dogters.

Die feit dat die boek in haar ma se eie handskrif ingevul is, maak die onthoujoernaal nog meer waardevol.

Pretorius se vriende en familie het van die boek te hore gekom en voorgestel sy maak ’n soortgelyke boek.

“Selfs ’n sielkundige het my genader en vertel watter waarde dit sou inhou vir haar pasiënte om op hierdie manier hul idees te orden,” sê Pretorius.

Sy omskryf die nut van so ’n onthouboek so: “Dis vir die oomblikke wanneer jy wonder ‘wat het my ma nou weer hieroor gesê?’”

Anné Pretorius met die boek wat haar geïnspireer het om ‘n onthoujoernaal die lig te laat sien.

Sy sê glimlaggend so ’n boek kan ook egter ’n kant van jou ma onthul waarvan jy min geweet het.

Uit haar ma se neergepende gedagtes kon sy veel meer as tydens haar lewe aflei van hoe sy oor landsake gedink het.

Sy het ook troos gevind oor hoe om moeilike verhoudingsituasies met vriendinne te hanteer uit haar ma se gedagtes rondom vriendskappe.

Pretorius het besef van hoeveel waarde so ’n boek vir ander kan wees. Sy het Johan Coetzee van Naledi-uitgewers genader om die projek aan te pak.

“Daar was sulke Engelse boeke beskikbaar, maar vir my het dit net nie die regte gevoel oorgedra nie. Ek dink mens moet en wil in jou hartstaal skryf,” verduidelik sy.

Sy het die bal aan die rol gesit om ook uitsonderlike kunswerke in die boek aan haar lesers te bied.

Sy het besluit om Marie Vermeulen-Breedt, die ervare skilder en beeldhouer in die Oos-Kaap, te nader.

“Ek wou die onthouboek ’n spesiale aanslag gee: dit moes mooi, vroulik en sag wees,” sê Pretorius.

Die vennootskap met Vermeulen-Breedt het ook vir die deernisvolle Pretorius veel saak gemaak.

Via Vermeulen-Breedt se dogter, Adelai, sou hulle van die kunswerke in die boek op lap kon druk en daarvan produkte, soos boeksakkies vir die joernaal, kon maak.

“Dis waarlik kunswerke op lap,” vertel Pretorius.

Die werk hierrondom, asook die verpakking en versending daarvan, sal vroue van die Suid-Kaap sowel as mense met gestremdhede betrek.

Sy het die boek so ontwerp dat daar twee stewige koeverte, een voor en een agter in die boek in is waarin foto’s en briewe en ander memorabilia geplaas kan word.

Sleutelsinne, leidensvrae, en van haar eie gedigte is ook as voorbeelde van moontlike skryfwerk gegee.

“Daar is ook gedagteprikkelaars vir diegene wat nie so maklik self skryf nie. Maar ek is nie voorskrywend nie. Ma’s moet tuis en veilig voel om gedagtes neer te pen,” verduidelik sy.

Alhoewel sy al op skool lief was vir skryf, het Pretorius nooit gedink so ’n boek sal uit haar pen verskyn nie.

“Maar as mens met die tale van die hart skryf, leef en dink, is enigiets moontlik.”

Pretorius het ’n omgeehart vir diegene met uitdagings in die lewe.

Sy het tydens haar jare as sitrusboer op Marble Hall, saam met haar eggenoot, Stéfan Pretorius, toegesien dat ’n plaasskool, Lesedi Day Care, in die lewe geroep word.

– Lees meer oor die nalatenskapjoernaal op www.memoirebooks.co.za.

– Luister na die skrywer:

https://www.facebook.com/61556815559420/videos/1192030268450051

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button