Geen genade vir onwettige storters – metro
Die Tshwane metro stel ’n nuwe "zero tolerance" benadering en swaar boetes bekend vir onwettige storting in die Moot.
Die Tshwane metro sê dit gaan streng teen onwettige storters optree.
Die Moot-gemeenskap word geteister deur die onwettige storting van afval, terwyl die metro daarvan beskuldig word dat hulle met gevoude hande sit en niks uitrig nie.
“Daar vind onwettige storting regoor die Moot plaas,” sê wyk 54 se stadsraadlid, Elma Nel.
Die metro het onlangs gesê dit sal onwettige storters geen genade betoon nie.
Met sy “zero tolerance” benadering, sê die metro dat onwettige storters wat gevang word, swaar beboet sal word.
Burgemeester Cilliers Brink sê die metro verskerp sy verordeningstoepassing/provinsiale wette, en sal ook beslag lê op voertuie wat deur storters gebruik word en hulle swaar beboet. “Ons moet saamwerk om Tshwane skoon te hou.”
“Die storting vind spesifiek hier in die gedeeltes van Waverley, Villieria en Bergtuin plaas. Dit is ’n vieslike plek. Ek het self al verskeie kere gemors daar gaan opruim en weggery,” sê Frans Smit, stadsraadlid van Waverley.
Daar word egter inisiatiewe in plek gestel om hierdie probleem aan te spreek.
“As die metro, en om ons dienste te verbeter, het ons ’n afvalbestuurdataverifikasieprojek aangepak om die akkuraatheid van afvaldiensfakturering en ander verwante sake aan te spreek, soos om aansoek te doen vir bykomende asblikke,” sê Brink.

Hy sê onwettige storting hou omgewings- en gesondheidsrisiko’s in en skep ’n onaangename en ongesonde leefomgewing vir inwoners.
“Storting bly maar nog altyd ’n probleem,” sê Elsabe van Staden, GPF-lid van die Moot en Rietfontein. “Veral naby aan die spruite, aangesien die munisipaliteit nie die areas skoonmaak en onderhou nie. Die probleem met die vullis gee ook aanleiding tot sluipslapers.
“Ons benodig lede van die gemeenskap om ons te help en die besonderhede van die voertuie deur te stuur. Die groot probleem met onwettige storting is ook die feit dat dit die voëllewe in die spruit belemmer. Dit is ook ’n ekologiese probleem aangesien die gemors die natuurlike vloei van water verhinder,” sê sy.
Brink sê ook daar is geen verskoning vir onwettige storting nie.
“Die metro het operasionele stortingsterreine wat vir die publiek toeganklik is vir huishoudelike en tuinvullis, en inwoners word aangemoedig om hierdie fasiliteite te gebruik om Tshwane te help skoonhou. Dit is ook belangrik om daarop te let dat vullisdromme gratis aan inwoners verskaf word,” sê Brink.
Johan Scholtz, inspekteur en wetstoepassingsbeampte by die Departement van Afvalbestuur moedig die gemeenskap aan om te help om hierdie probleem aan te spreek. “As jy iemand vang wat besig is om afval onwettig te stort dan moet jy daardie persoon daar probeer hou en die Tshwane metro polisie departement (TMPD) bel.
“Ons moet die persoon fisies vang waar hy of sy gestort het, dan kan ’n boete uitgereik word. Die boete is R15 000. Metro-polisie kan dan ook die persoon se voertuig skut. Ek moedig die gemeenskap aan om hulle raadslede te skakel wanneer hulle onwettige storting gewaar,” sê Scholtz.
“Mense moet ophou om hul afval op die sypaadjies te stort. Wanneer so ’n geval plaasvind, ontvang die skuldige ’n 7 of 14 dae kennisgewing om dit te verwyder. Dit sluit alles in van afval tot bourommel. As die rommel na die tydperk nie skoongemaak is nie, dan ontvang die persoon ook ’n boete. Meestal ruim die mense wel op binne die gegewe tydperk,” sê Scholtz verder.

Die metro vra elke huishouding ’n maandelikse bedrag van R407,04 per asblik om vullis te verwyder.
“In samewerking met die Tshwane-metropolisie, afvalsbestuur- en omgewingsvoldoeningspanne, verhoog ons pogings om verordeninge af te dwing, voertuie te konfiskeer en stewige boetes teen oortreders op te lê,” sê Brink.
Vullisterreine vir die wegdoening van 1.3 ton of minder huishoudelike afval is gratis toeganklik vir alle inwoners, maatskappye of instansies.
Afval wat meer as 1.3 ton weeg, sal met ’n fooi van R230 per ton gehef word.
Nel moedig die publiek aan om onwettige storting aan te meld. “Slegs wanneer onwettige stortings gerapporteer word kan die stad reageer. Skuldige partye kan dan beboet en aanspreeklik gehou word vir die skoonmaak.
“Inwoners moet asseblief TMPD by 012 358 7095/6 kontak wanneer hulle ’n oortreding opmerk en foto’s ter bewyse neem waar moontlik. Dit is makliker wanneer inwoners dadelik hierdie voorvalle rapporteer sodat die skuldiges op heterdaad betrap kan word.”
Plaaslike stortingsterreine sluit Alwyn Straat, Waltloo of Koorsboomstraat, Magalieskruin in.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
