Local newsNews

Pretoria-oos haarkapper wil 527 koppe se hare laat waai

Die hare gaan in 'n glasvertrek in 'n restaurant in Pretoria-oos op 15 Junie vir 'n goeie doel waai.

Bekroonde haarstilis van Erasmuskloof in Pretoria-oos, André Green, sien vir baie kans wanneer hy op 15 Junie vanaf 07:00 in die West Café in Maroelanastraat die hare van 527 individue binne 24 uur gaan laat waai.

Green gaan sy skêre en 28 jaar van ervaring as ’n voorste haarstilis inspan om die inwoners van Abraham Kriel Bambanani Langlaagte Kinderhuis daarby te laat baat.

Hy beoog om die moontlike rekord van 527 individue wat elke ten minste 2cm hare sal verloor in die annale van die rekordregistrasie-maatskappy, Guiness World Records, te laat opneem.

Om sy naam só in die rekordboeke verewig te kry, sal die bedrewe en fikse pa van twee elke 3 minute en 30 sekondes ’n individu se hare moet sny.

Tans staan die rekord op 526 individue se hare wat in 24 uur deur ’n Britse haarstilis gesny is.

Die prestasie is nog selde weer aangepak glo Green, hoofsaaklik ook omdat die logistieke van so ’n poging veel vereis.

Die internasionaal bekende haarkapper is nie iemand wat maklik skrik vir ’n uitdaging nie.

Bloot die organisasie van so ’n poging is genoeg om mens hande in die hare te laat sit.

Green werk reeds maande sistematies om als op sy doenlysie vir die poging in plek te stel.

Hy gaan maklik die 527 mense vind om saam te werk, glo Green.

’n Aantal leerders van nabygeleë skole het reeds aangebied om vrywilligers te wees en sy eie, sowel as sy haarkapper-eggenoot Monique se kliënte, staan reg om 15 Junie in die stoel plaas te neem.

’n Kliënt van Green vlieg selfs al die pad van Kaapstad om ook in die stoel vir die min of meer drie minute en 30 sekondes wat toegelaat word plaas te neem.

Hy het reeds voor die Covid-19-pandemie in 2020 uitgebreek het, die kriteria vir so ’n rekordpoging by die organiseerders by die Guinness World Book of Records-maatskapy aangevra.

“Ek was lus vir ’n groot uitdaging. Ons bedryf is dinamies. Uitdagings verander vinnig. Om mense se verbeelding aan te gryp, moet jy werklik iets besonders doen,” meen hy.

Twee gebeurtenisse het bygedra om hom weer na die pandemie rigting met die beplanning van die reuseprojek te laat kry.

Hy het ’n kliënt raakgeloop wat by die kinderhuis se fondsinsameling betrokke is, Annamart Viljoen. Sy het mismoedig in ’n restaurant gesit en begrotings laat probeer klop.

Sy het hom meegedeel hoe die kinderhuis se fondse met meer as R4.5-miljoen vanjaar deur die owerhede verminder is en dat die moontlikhied bestaan dat van hul werksaamhede ingeperk sal moet word.

“Hulle was in die knyp. Ek ken haar reeds 23 jaar en het besluit ons moet [iets] hieraan kan doen,” vertel Green.

Hy het die sanger Bernice West genader. Opsigself sou sy eie salon te klein vir so ’n groot poging wees.

Die haarknipsessie sal in West en haar broer, Renier, se restaurant, West Café, in ’n afgesonderde, maar publieke vertrek omring met glas plaasvind.

Green berei hom tans voor vir die groot dag deur ’n spesifieke eetplan te volg, vyf keer ’n week gimnasium toe te gaan sowel as om die rekordmaatskappy se vereistes in plek te kry.

Foto’s moet vir ouditredes van elke klaargeknipte individu geneem word en elke vier ure moet ’n nuwe toesighouer oorneem om toe te sien dat daar aan al die reëls voldoen word.

Die span wat die hare se voorbereiding voor die knipslag doen, word tans bymekaar gebring.

“Die werk agter die skerms sal soos ’n goed geoliede masjien moet loop,” sê Green oor die vooruitsig om te sien hoe al die hare versorg sal moet word voordat hy ’n enkele skêr sal kan optel.

Vir die vriendelike en bedagsame Green is al hierdie voorbereiding die moeite werd.

Al is hy bykans ’n volle 2m lank, het hy duidelik ’n hart so sag soos ’n malvalekker.

“Daar is meer as 800 kinders in die satelliethuise van die kinderhuis wat kan baat vind by die fondsinsameling. Ons moet hierdie groter prentjie in gedagte hou,” meen hy.

Skenkers sal R527, oftewel R1 per individu wie se hare gesny is, kan bydra. Die inwoners van die kinderhuis sal ook direk by enige ander bydraes en alle skenkings baat.

“Ons kan nie toelaat dat hierdie tuistes toemaak en die personeel op hul knieë gedwing word nie. Ek sien dit as my plig om my vaardighede in te span om hulle te help en ook om Suid-Afrika se haarkapperbedryf op die rekordboeke te plaas,” sê Green.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button