Departement stop befondsing van organisasies oor moontlike mensehandel
Die Department van Maatskaplike Ontwikkeling gaan in die toekoms self hul mandaat vir aanneming van kinders uitvoer en nie meer befondsing aan welsynsorganisasies daarvoor toeken nie.
Organisasies wat aanneming van kinders hanteer, gaan in die toekoms deur ’n nuwe reëling van die Gauteng Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, gekortwiek word.
Themba Gadebe, woordvoerder van die Gauteng Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, sê die departement het onlangs ’n aantal welsynsorganisasies se finansiering van welsynwerkers wat aannemings doen, gestaak.
Sulke aannemingsorganisasies is in April hiervan in kennis gestel.
Volgens hom is een van die redes dat aanneming van kinders nie as ’n kommersiële aktiwiteit bedryf moet word nie.
“Sommige organisasies sien aanneming as sulks. Hierdie organisasies verkoop kinders ten duurste aan internasionale paartjies of individue,” sê Gadebe.
Hy benadruk dat indien die owerhede hierdie diens rondom aanneming oorneem en gratis lewer, kan dit verhoed dat kinderaanneming op hierdie manier gekommersialiseer word.
Lees: Moot-gemeenskap bekommerd oor stukkende straatligte
’n Maatskaplike werker in privaat praktyk vra van R20 000 tot R25 000 per aanneming.
“Dit help ons om te verseker dat kinders nie verkoop word nie,” sê Gadebe. “Ons is in die posisie om aannemingsdienste gratis te lewer en kan dus alle kliënte help om ’n kind aan te neem, desnieteenstaande hul finansiële omstandighede.”
Gadebe het nie bevestig hoeveel hierdie bydrae van die department tot sulke organisasies se welsynwerkers in die verlede behels het nie.
Hy bevestig wel dat daar teenstand is teen die department se planne om die aannemingsdienste oor te neem.
“Van die organisasies weet hulle sal besigheid verloor, aangesien die departement hierdie diens gratis sal verskaf,” sê hy.
“Wanneer ons met aanneming te doen het, moet die prioriteit wees om hulle by die beste familie te plaas. Die kommersialisering van kinders bevorder aktiwiteite soos mensehandel, waaroor ons almal bekommerd moet wees,” verduidelik hy.
“Ons voel ter wille van die kinders moet ons almal hande neem om te verseker dat aanneming gratis is om enige belangstelling in kinders se kommersiële waarde uit te skakel,” benadruk Gadebe.
Hy beklemtoon verder die reëling word ook gemaak omdat die departement nou meer klem daarop wil lê om sy mandaat uit te dra om sekere maatskaplike dienste aan gemeenskappe te lewer.
“Dis ook om te verhoed dat nie-winsgewende organisasies langer op befondsing aandring. Hulle glo omdat hulle die departement se werk doen, is dit hulle reg,” verduidelik Gadebe.
Hy wys daarop dat die departement tans sy arbeidsmag uitbrei om aan sy statutêre funksies te voldoen.
Lees: Pretoria-oos haarkapper wil 527 koppe se hare laat waai
Tans het die department 136 geakkrediteerde welsynswerkers waarvan 58 aannemingsdienste lewer.
Dr Ronel Aylward, algemene bestuurder van die CMR Noord, het bevestig daar is voorvalle in Pretoria bekend waar aanneming van kinders as mensehandel gesien kan word.
“Die Valke is tans besig om ’n saak te ondersoek ten opsigte van ’n maatskaplike werker in privaat [praktiseer]. Die saak was eers aan die CMR Noord bekend, maar ons het nie die aanneming aanbeveel nie. Die voornemende aanneemouers het hul toe na genoemde maatskaplike werker in privaat praktyk gewend,” verduidelik sy.
Sy raai Jan Publiek aan om enige vermoede rondom moontlike mensehandel, nie slegs ten opsigte van aanneming nie, maar ook in die algemeen direk by die SAPD se kinderbeskermingseenheid en Departement van Maatskaplike Ontwikkeling aan te meld.
“Die CMR Noord sal sodanige mensehandel-aanmeldings in elk geval verwys omdat dit lewensgevaarlik kan wees om daarby betrokke te raak,” sê Aylward.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
