Huise na 23 jaar se wag
Een van die inwoners wat die langste gewag het, Veronica Barnes, sê sy is verheug. Sy bedank die raadslede en behuisingbeamptes vir hul hulp.
Na ’n uitmergelende wag van 23 jaar, het inwoners van Hermanstad in Tshwane uiteindelik die sleutels tot hul huise ontvang – ’n gebeurtenis wat met groot blydskap en dankbaarheid begroet is.
Onder diegene wat deelgeneem het aan hierdie oorwinningsdag was raadslede Piet Fourie en Elma Nel, wat onvermoeid saam baklei het vir hierdie oomblik.
Op Dinsdag, 4 Junie het Veronica Barnes, een van die inwoners wat die langste gewag het, uiteindelik vir haar huis geteken en die titelaktes ontvang.
Haar woorde weerspieël die emosie en verlange van soveel jare se wag: “Dit was ’n lang wag na al die jare. Ek kan nie sê hoe bly ek is nie. Ongelukkig is daar van die inwoners wat nou al oorlede is en nie saam kan deel vandag nie. Die eerste keer wat ons vorms ingevul het, was in 2003 en nou kom alles tot ’n einde.”
Barnes bedank die raadslede en behuisingsbeamptes wat gehelp het om hierdie lang proses te voltooi, ten spyte van die talle administratiewe struikelblokke.
“Ek wil dankie sê vir die twee raadslede vir hul bydraes en die behuisingbeamptes wat deurgedruk het,” sê Barnes.
“As die papierwerk nie weggeraak het nie, was daar elke keer ’n ander storie en so het alles gesloer. Daar is altyd gesê die probleem lê by die provinsie en hulle kan niks doen voordat hulle al die opmetings gedoen het en die waarde van die huise bepaal het nie,” vertel sy.
Nel is vol vreugde oor hierdie oorwinning: “Dit was ’n 23 jaar lange wag. Daar is wonderlike mense wat daar woon. Ons het altyd die behuisingsvergaderings by Veronica se huis gehou en haar hande staan vir niks verkeerd nie. Ek is so dankbaar dat die huise uiteindelik nou op al die eienaars se name is. Dit is regtig welverdiend.”
Hoewel sommige ander inwoners steeds wag op hul huise, is daar hoop dat hulle binnekort dieselfde blydskap sal ervaar.
“Daar is nou ’n paar wat hul huise gekry het, die ander moet net wag vir ’n oproep. Hulle sal binnekort gebel word om in te gaan om ook hulle titelaktes te ontvang,” sê Barnes.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.


