Local elections news

Peilings wys DA het meeste steun in Tshwane

Die jongste peilings plaas die DA as die party met die meeste steun in Tshwane maar die finale uitslag sal deur kiesers bepaal word. Vir inwoners van die Moot en omliggende Pretoria-gebiede is dit belangrik om ingelig te stem, hul plaaslike kandidate te beoordeel en die OVK se reëls te respekteer.

Nuwe peilings gepubliseer op 19 Oktober wys die DA as die party met die meeste steun in Tshwane, maar ’n volstrekte meerderheid bly buite die party se bereik volgens die peilings.

Die jongste peiling van die Social Research Foundation (SRF), in samewerking met ontledings van die platform The Common Sense, plaas die Demokratiese Alliansie (DA) op 32% steun in die Tshwane metro.

Die African National Congress (ANC) volg met 26%, ActionSA met 12%, en die EFF en Vryheidsfront Plus (VF Plus) elk op 7%. Die uMkhonto weSizwe-party staan op 4%.

Die syfers is bevestig deur die provinsiale kommunikasiehoof van die DA, Franco van den Berg.

Die stigting en platform se analise en bevindings dui daarop dat die DA steeds steun van ander partye sal moet oorweeg om aan bewind te kom indien die uitslag soortgelyk aan die peiling is.

Cilliers Brink, DA-burgemeesterskandidaat het aan Rekord gesê dat “na 4 November sal Tshwane óf ’n DA-geleide regering hê óf ’n ANC-geleide regering. Die DA is reeds die grootste party in Tshwane en ander Gauteng-munisipaliteite. Ons kan die ANC en sy meeloperpartye klop, en sodoende die koalisie-chaos stopsit. Maar dan het ons ’n sterk mandaat nodig. Die DA se gemiddelde steun oor al die SRF-peilings landwyd is 40%. Ons glo ons kan dit 50% maak.”

Cilliers Brink, burgemeesterskandidaat het sterk ten velde getrek teen beweerde korrupsie in die metro deur die ANC. Foto: Verskaf.

Die ANC het die geloofwaardigheid van die meningspeiling oor die komende plaaslike verkiesing bevraagteken en volgehou dat die party sterker steun geniet as wat voorspel word.

ANC-woordvoerder Joel Masilela het die peiling as onbetroubaar beskryf en beweer dit skep ’n wanindruk dat die DA die voorkeurparty onder kiesers is.

Volgens Masilela het die DA Tshwane se finansies tydens sy bewind verswak. Hy het ook verwys na omstrede ouditbevindinge en die waterbesoedelingskrisis in Hammanskraal.

“Ons is nie paniekerig nie. Ons het ons werk gedoen,” het Masilela gesê.

Joel Masilela, ANC-woordvoerder Foto: Elize Parker

Willie Spies, Vryheidsfront-Plus burgemeesterskandidaat, beklemtoon die party is opgewonde oor die meningspeilings wat goed lyk vir die party se steun.

“Histories het meningspeilings nog altyd die VF Plus se steun onderskat. Ons ervaring op die grond is selfs beter as wat die peilings aantoon. Ons sien uit na stemdag,” meen Spies.

Willie Spies, Vryheidsfront Plus-burgemeesterskandidaat.

Wat het in die vorige verkiesing gebeur?

Die 2021-plaaslike verkiesing wys volgens statistiek van die OVK hoe verdeeld Tshwane se politieke landskap geword het.

Die ANC het toe ongeveer 34.63% van die stemme ontvang, teenoor die DA se 32.03%. Die EFF het 10.69% behaal, ActionSA 8.64% en die VF Plus 7.87%.

In 2021 het 45% van 1.5 miljoen geregistreerde kiesers in die Tshwane metro gestem.

Geen party het ’n volstrekte meerderheid behaal nie, wat koalisiepolitiek noodsaaklik gemaak het.

Vir die meeste inwoners van Pretoria is die uiteindelike vraag nie bloot watter party die meeste stemme kry nie, maar of die metro betroubare dienslewering kan verseker.

In die Moot, East Lynne, Jan Niemandpark, Waverley, Queenswood, Rietfontein en Gezina is plaaslike dienslewering ’n belangrike verkiesingskwessie.

Inwoners wil weet hoe kandidate probleme soos kragonderbrekings, infrastruktuuronderhoud, vullisverwydering, padslaggate en veiligheid gaan hanteer.

Die Moot word in verskeie wyke opgedeel onder meer in wyke 1, 52, 53, 54 en 84. Die presiese grense en stemlokale moet egter op die OVK se amptelike stelsel nagegaan word, aangesien die geregistreerde woonadres die bepalende faktor is.

Kate Bapela, OVK-woordvoerder Foto: Facebook/Kate Bapela

Moenie aanvaar dat ’n stemlokaal wat tydens die vorige verkiesing gebruik is, noodwendig steeds die regte een is nie.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se onpartydigheid en die integriteit van die kieserslys is noodsaaklik vir ’n geloofwaardige verkiesing en OVK-woordvoerder, Kate Bapela, benadruk dat kiesers moet versigtig wees vir boodskappe wat vals stemdatums, verkeerde stemlokale of misleidende registrasie-inligting versprei.

Vals nuus kan ook met kunsmatige intelligensie geskep word, onder meer deur gemanipuleerde video’s, stemopnames en beelde wat lyk asof dit van ’n politieke leier of die OVK afkomstig is.

Die veiligste benadering volgens Bapela is om verkiesingsinligting direk by die amptelike OVK-webwerf, www.elections.org.za, te bevestig voordat dit op WhatsApp, Facebook of ander platforms gedeel word.

Kiesers moet ook versigtig wees vir vals werwingsadvertensies wat voorgee dat die OVK poste aanbied. Moenie persoonlike besonderhede of geld aan onbekende persone oorhandig op grond van ’n sosiale media advertensie nie. Gebruik die OVK se amptelike kanale om vakatures en aankondigings te verifieer.

Nog ’n belangrike waarskuwing handel oor die kieserslys. Om doelbewus ’n valse woonadres te verskaf of registrasie-inligting te manipuleer, kan volgens die OVK ernstige regsgevolge hê. Kiesers behoort hul besonderhede eerlik en volgens die geldende registrasiereëls te verskaf

Major political party support on the Tshwane Metro. Graphic: Dylan Moss

Moets:
1. Bevestig jou registrasiestatus, stemlokaal en die vereiste identiteitsdokumente vooraf by die OVK.
2. Rapporteer vermoedelike onreëlmatighede kalm aan die voorsittende beampte of die toepaslike owerheid. Volgens die OVK kan onreëlmatighede by ’n stemlokaal onder andere die volgende insluit:

Kiesersbeïnvloeding: As iemand probeer om jou te dwing of te oortuig om vir ’n spesifieke party te stem terwyl jy in die stemlokaal of die afgebakende gebied buite is.

Probleme met stembriewe: Stembriewe wat nie die amptelike OVK-stempel op die agterkant het nie, of stembusse wat nie behoorlik verseël is nie.

Identiteitsbedrog: As iemand probeer stem met ’n ID-dokument wat nie aan hulle behoort nie of probeer om meer as een keer te stem.

Omkopery of intimidasie: Enige vorm van dreigement, geweld of materiële aanbiedinge (soos kos of geld) in ruil vir stemme.

Partydige optrede: As verkiesingsbeamptes of partyagente nie die gedragskode nakom nie en openlik kant kies of kiesers ontwrig.

Moenies:
1. Moenie ’n gemerkte stembrief afneem of ’n foto daarvan op sosiale media plaas nie; beskerm die geheimhouding van jou stem.
2. Moenie onbevestigde uitslae, gerugte of bewerings oor bedrog versprei asof dit feite is nie. Rapporteer enige verdagte WhatsApp-boodskappe of ander verdagte inligting op die Real411-platform. Real411 is amptelik in die Staatskoerant opgeneem as die platform waar mense vals inligting kan rapporteer wat daarop gemik is om kiesers te mislei of verkiesings te ontwrig. Alle verkiesingsverwante klagtes word direk met die OVK se Direktoraat vir Verkiesingsmisdrywe gedeel. Die skakel is www.real411.org.za.
3.Weet wat waarnemers in ’n lokaal mag doen: hulle het nie die bevoegdheid om stemlokaalpersoneel opdragte te gee, prosedures te verander of self verdagtes in hegtenis te neem nie. Hulle moet binne hul akkreditasie en die toepaslike reëls optree.

Nuttige inligting
1. Verkiesingsdag is tot ’n openbare vakansiedag verklaar.
2. Bevestig jou geregistreerde stemlokaal by die OVK. Stuur jou ID-nommer na 32810 per SMS om jou lokaal en wyk te identifiseer.
3. Jy moet by die stemlokaal stem waar jy geregistreer is.
4. Neem ’n geldige, aanvaarde identiteitsdokument saam. Baie voornemende kiesers dink steeds bestuurderslisensies of ’n paspoort is voldoende. Slegs ’n groen ID-boekie met ’n strepieskode, slimkaart-ID of ’n amptelike Tydelike Identiteitsertifikaat (TIC) sal jou toelaat om jou stembriewe in te vul.
5. Volg die instruksies van die verkiesingsbeamptes.
6. Verifieer verkiesingsnuus op die dag van die verkiesing voordat jy dit aanstuur.
8. Rapporteer probleme aan die toepaslike verkiesingsowerhede. Telefonies: Skakel die OVK-kontaksentrum by 0800 11 8000. Aanlyn: Stuur ’n e-pos na info@elections.org.za.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button