Kleurvolle veldtog laat pawiljoene dreun
Vanjaar se veldtog om die skool in Pretoria te vind met die meeste "gees" het dié boodskap helder laat weerklink: wanneer ’n pawiljoen dreun, is daar pret- kwadraat!
Van Februarie tot Oktober het duisende leerders in Pretoria vanjaar gewys dat skoolgees veel meer as luide gejuig behels.
GROOTfm 90.5 se “Skool met die GROOTste Gees”-veldtog het met PNA as hoofborg en ondersteun deur SPUR en Van Heerden Apteek, skole se trots in ’n vrolike viering omskep.
Die veldtog het meer as 21 000 kinders bereik, met tien skole wat aan die Gees-uitvoering deelgeneem het en nege wat by die Gee-program betrokke was.
Die hoogtepunt vir Laerskool Totiusdal het op Dinsdag, 20 Oktober aangebreek toe die skool as wenner van die R50 000-prys aangekondig is. Die GROOTfm 90.5-span en borge het die skool stilletjies besoek en skoolhoof Marthinus Carr in sy kantoor met die nuus verras.
Daarna het ONTBYT-aanbieders Nina en Doepie die aankondiging oor die interkomstelsel gemaak. Leerders en personeel het vir oulaas op die pawiljoen saamgedrom om die oorwinning te vier.
Die groep Droomsindroom het die geleentheid met ’n verrassingsoptrede afgerond. Die emosie was duidelik op Carr se gesig toe die omvang van die prestasie insink.
Meer as 200 000 stukke goedere is boonop vir verskeie nie-winsgewende organisasies ingesamel.
Agter dié indrukwekkende syfers skuil ’n verhaal van gemeenskappe wat hande vat om ’n verskil te maak.
“Wanneer duisende kinders saamsing, juig en hul skoolwapens met trots dra, is dit veel meer as net skoolgees. Dit is ’n viering van samehorigheid, spanwerk en die besondere rol wat skole speel om ’n verskil in kinders se lewens én in hul gemeenskappe te maak,” sê Sonet Stofberg, skakelbeampte van GROOTfm 90.5.
Laerskole Constantiapark, Kameeldrift, Generaal Nicholaas Smit, Anton van Wouw, Wierdapark, Garsfontein, Totiusdal, Danie Malan, Tygerpoort en Monumentpark het aan die Gees-uitvoering deelgeneem.

Die Gee-program het ’n ander, ewe belangrike kant van sulke projekte beklemtoon.
Voormalige Leeus- en Springbok-rugbyspeler Jaco Kriel en sy eggenoot, Nastasja, het leerders met ’n betekenisvolle motiveringsboodskap geïnspireer. Die fokus was op selfvertroue en die moed om uitdagings aan te pak.
Leerders moes onder meer Madagaskar sissende kakkerlakke met hul monde van afsetpunte na hul bestemming dra en ballonne blaas totdat dit bars. In een uitdaging is skoolhoofde met diere gekonfronteer wat hul persoonlike vrese bewaarheid het. By die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria het Curly, ’n agtjarige tarantula, behoorlik opslae gemaak toe dit by vrees- of verower-uitdagings gekom het.

Die Hoërskool Menlopark, Laerskool Menlopark, Eduplex en sy voorskool, die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria, Hoërskool Eldoraigne, Laerskool Bakenkop, HTS John Vorster en Laerskool Monumentpark was onder die deelnemers aan die Gee-program. Eduplex se deelname saam met sy voorskool was ’n eerste vir die veldtog.
Laerskool Garsfontein het op 28 Oktober ook rede gehad om fees te vier. Die skool het die meeste luisteraarstemme ontvang en die R10 000-kontantprys gewen wat deur Van Heerden Apteek geborg is. Die oorhandiging het vir leerders en personeel ’n onverwagse hoogtepunt gebied.
Projekkoördineerder Annemarie Pretorius beklemtoon dat skole se invloed veel verder as akademiese prestasie strek. Dit is ruimtes waar waardes gevorm, selfvertroue ontwikkel en kinders leer wat moontlik is wanneer mense saamwerk.
“Skole is soveel meer as plekke waar kinders leer lees, skryf en somme maak. Dit is waar waardes gevestig word, selfvertroue gebou word en kinders ontdek wat moontlik is wanneer mense saamwerk. Wanneer ’n skool sy gees wys, sien ons die vreugde en trots van ’n gemeenskap. Wanneer daardie gees ook in gee-projekte omskep word, sien ons hoe groot die impak daarvan kan wees,” sê Pretorius.
– Kliek hier om ‘n video te kyk:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
