Wonderboom-Suid en Rietfontein gaan gebuk onder kabeldiefstal
Die ekonomiese impak van hierdie diefstalle is aansienlik, met plaaslike besighede wat nie sonder ’n betroubare kragtoevoer kan funksioneer nie.
Inwoners van die Moot gaan steeds gebuk onder kabeldiefstal.
Die areas wat tans in kabeldiewe se visier is sluit Wonderboom-Suid- en Rietfontein in, waar inwoners gefrustreerd en in die duister gelaat word na elke voorval.
Die aanhoudende kragonderbrekings wat deur gesteelde infrastruktuur veroorsaak word, ontwrig die inwoners se daaglikse lewens en plaaslike handel, wat oproepe tot onmiddellike optrede tot gevolg het.
Elsabe van Staden van Rietfontein GPF meen dat daar een groot oorsaak is.
“Die groot oorsaak van kabeldiefstal is omdat die munisipaliteit nie hulle werk ordentlik doen deur straatligte te herstel of te vervang nie. Oral waar daar gevalle van kabeldiefstal voorkom, is dit pikdonker. Wanneer dit so donker is, skep dit ’n geleentheid vir diewe om teen die pale op te klim en die kabels te steel sonder dat enigiemand hulle sien,” sê Van Staden.
“Dit bly ’n groot probleem regdeur die hele Moot en eintlik die hele Pretoria.”
Van Staden sê dat kragonderbrekings vir etlike dae aanhou sonder enige verbeterings. “Ons sit ook met kragonderbrekings wat drie tot vier dae neem om reggemaak te word. Dit is ’n verskriklike gesukkel met die munisipaliteit.”
Sy meen dat ouer mense erg deurloop as gevolg van die kragprobleme. “Ek weet van ’n 80-jarige dame wat 24/7 afhanklik is van suurstof wat vreeslik gesukkel het met die aanhoudende kragprobleme wat onlangs plaasgevind het. Dit het drie dae gevat voor die munisipaliteit uitgekom het om die gesteelde kragkabels te vervang.
“Wat moet hierdie mense doen?” vra sy moedeloos.
“Nog ’n groot faktor wat bydra tot kabeldiefstel is die feit dat tweedehandse winkels steeds hierdie gesteelde kabels koop by die diewe,” sê Van Staden. “Ons hoop om binnekort wetgewing in te stel wat die koop en verkoop van kabels finaal stop sal sit.”
Louis Jordaan, ’n inwoner van Wonderboom-Suid, sê: “Die donkerte in Wonderboom-Suid begin nou sy tol op die inwoners te eis. Ek begin self moedeloos raak, met die kragprobleme in die omgewing. Beloftes word gemaak, maar dit word nie nagekom nie. Iets moet gedoen word,” sê hy gefrustreerd.
Raadslid Elma Nel lig die erns van die situasie uit: “Daar is tans massiewe probleme met kabeldiefstal in Wonderboom-Suid en die Rietfontein-omgewing. Die infrastruktuur word gesteel. Almal is kwaad omdat ons sonder elektrisiteit sit.”
Die ekonomiese impak van hierdie diefstalle is aansienlik, met plaaslike besighede wat nie sonder ’n betroubare kragtoevoer kan funksioneer nie.

Die diefstal van elektriese kabels het gelei tot gereelde en langdurige stroomonderbrekings, wat finansiële verliese veroorsaak en die lewensbestaan van baie beïnvloed.
Nel versoek die gemeenskap om ’n proaktiewe rol te speel in die bekamping van hierdie misdaad. “Ek beveel aan dat meer Moot-inwoners by die GPF aansluit om die strate te help patrolleer en misdaad te help voorkom. Daar is ’n klomp jong mans wat in die Moot bly wat baie bekwaam is en maklik kan aansluit om te help om die strate te patrolleer.”
Nel meen verhoogde gemeenskapsbetrokkenheid kan kabeldiewe afskrik en ’n gevoel van veiligheid in die gebied herstel.
Die burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Jacqui Uys, het op 4 Junie, toe die begroting aangekondig is, ’n totale begroting van R50.6-miljard ter tafel gelê. Die totale begroting bestaan uit ’n bedryfsbegroting van R48.3-miljard en ’n kapitaalinfrastruktuur-beleggingsbegroting van R2.3-miljard vir die 2024/25-boekjaar.
“Wanneer straatligte snags aan is, verteenwoordig dit ’n stad wat lewendig is en werk. Om hierdie redes het ons R24.5-miljoen bewillig vir die Tshwane Openbare Beligtingsprogram om nuwe straatligte te installeer. Ons het ons ook verbind daartoe om 30% hiervan te gebruik om huidige infrastruktuur met sonkragoplossings te vervang om vandalisme te oorkom en koste op elektrisiteitsaankope te verminder,” sê Uys.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
