Local newsNews

Ontmoet Ghapi: die tromspeler met ’n groot stem

Ghapi is ’n talentvolle tromspeler en sanger wat sedert 2005 opslae in die musiekbedryf maak met sy kragtige stem en indrukwekkende diskografie.

Ghapi, ofte wel Phillip Botha, maak opslae in die musiekbedryf sedert sy debuut in Januarie 2005.

As tromspeler en sanger het Ghapi vir homself ’n nis gegrawe as Afrikaanse rock-sensasie.

Ghapi se indrukwekkende diskografie spog met vier nommer een-treffers: “In die Diepkant In”, “Ek wil jou hê”, “Dis net jy”, en “Wie ek is”. Sy enkelsnit “I like it” het nommer vyf op die Kovsie FM-trefferlyste bereik, terwyl “Wens” nommer ses op OFM bereik het en “Dis net jy” nommer agt op Bay FM verseker het.

Die musikant is al ’n rukkie in die musiekbedryf, nadat hy sy musiekloopbaan in 1983 saam met die familiegroep Love Corporation begin het.

Hy het later, in 1989, saam met sy broers Georgia gestig, wat vinnig een van Suid-Afrika se veelsydigste musiekgroepe geword het.

Met Georgia het Ghapi sy vaardighede as musikant opgeskerp en by talle nagklubs en vakansieoorde opgetree.

Ghapi se eerste solo-CD In die Diepkant In is in 2005 by die KKNK-fees bekendgestel en het wydverspreide lof ontvang.

Die musiekgroep Georgia in 1997. Kitaarspeler, Heath Fouche, sanger en tromspeler Ghapi (Phillip Botha), kitaarspeler en sanger Andries Botha en Conrad Botha op baskitaar en ‘vocals’.

Die CD is opgevolg deur “Wie Ek Is…” in 2008 en “Rock it!” in 2009.

“Ek probeer nie liedjies skryf wat trendy is of wat ek dink gaan verkoop nie. Ek skryf liedjies wat praat oor my lewenservaring en wat uit my hart uit kom. Om trendy te bly is nie regtig binne my beheer nie, maar die luisteraar,” sê Ghapi.

“Ek sien myself nie as ’n gospelsanger nie, maar eerder ’n rocksanger wat lief is vir die Here. En uit my liefde vir die Here skryf ek gospel liedjies. Ek bly ’n rock-n-roller van harte, dis waarmee ek groot geword het.”

Ghapi se talente stop nie by musiek nie.

“Om ’n trommer, sanger, liedjieskrywer, tromonderwyser, akteur, MC en platemaatskappy-eienaar te wees is vir my baie lekker, maar ek put die meeste genot daaruit wanneer ek op die verhoog staan en optree. Al hierdie dinge vat egter saam hande om my loopbaan as ’n geheel moontlik te maak,” meen Ghapi.

Sy eie platemaatskappy, Rock Till You Drop Records, het al sy eie albums vrygestel.

In 2010 het hy selfs die liedjie “Idol” geskryf en gekomponeer wat deur Idols-wenner Dewald Louw uitgevoer is.

Ghapi vertel van sy verhouding met sy bestuurder, Ingrid, wat ook sy vrou is. “Ek is baie bevoorreg dat my vrou my bestuurder is. Sy is die Ghapi agter die verhoog en ek is die Ghapi op die verhoog. Ons maak ’n baie goeie span saam.”

Ghapi en sy vrou, Ingrid Botha.

Waar Ghapi se unieke naam vandaan kom is ook ’n interessante storie.

“Een van my pa se groot liefdes was visvang. Toe ek klein was, was ek vreeslik hiperaktief en ek het ook baie geëet. My pa het toe gesê dat ek, net soos ’n guppy vis, baie eet en baie besig is, en dit is hoe ek die bynaam gekry het. Almal noem my Ghapi, van my familie tot universiteitsvriende,” vertel hy.

Wanneer hy nie op die verhoog sing nie, toer Ghapi saam met ander kunstenaars deur die land.

In 2010 het hy kragte saamgesnoer met Dilana van Queen of Rockstar Supernova vir ’n Suid-Afrikaanse toer.

Hy het toe ook later saam met haar in Afghanistan opgetree. Ghapi sê: “Dit was ’n ongelooflike ervaring en dit is nie iets wat ek vir enigiemand kan verduidelik nie. Ek sal enige tyd weer teruggaan. Dit is altyd ’n groot voorreg om deur ’n kunstenaar genooi te word om saam met hulle op te tree.”

Ghapi se impak op die musiekbedryf is onmiskenbaar.

Met sy aansteeklike energie en charismatiese verhoogteenwoordigheid het hy aanhangers van alle hoeke van die land gewen.

Of hy nou ’n ballade voorhou of op sy tromme speel, is Ghapi ’n kunstenaar wat al vir die afgelope 40 jaar en nog baie lank sal aandag trek.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button