Moontlike brandstigting in Wes-Moot: Vinnig ingrype kritiek
Drie brande het binne drie ure in verskillende strate en dele van buurte in buurte van Pretoria-Wes in die Wes-Moot uitgebreek en is glo opsetlik gestig.
’n Brandstigter, of dalk meer as een, is na bewering moontlik in die Wes-Moot doenig.
So sê AfriForum se woordvoerder, Sampie Steinberg.
Steinberg bevestig die siviele organisasie se Wes-Moot-brandspan het op 4 Julie binne enkele ure drie brande, wat na bewering met opset gestig is, in die Claremont- en Suiderberg-buurte geblus.
Daar was geen beserings en tot dusver geen arrestasies nie.
“Die brande het op dieselfde stuk grond op verskillende plekke begin, wat natuurlik nie sommer moontlik is nie,” verduidelik Steinberg.
Hy wys uit dat individue wat hul beheerkamer skakel met inligting oor brande, is gewoonlik lede van AfriForum Wes-Moot tak wat weet die organisasie het ’n brandspan.
“So ook is daar verskeie WhatsApp-groepe in ons omgewing waarvan ons lid is wat ook weet dat ons ’n brandspan met die nodige toerusting het. Ons het veral noue bande met die Brandbestryding Vereniging van Krokodilrivier in hierdie omgewing,” verduidelik Steinberg.
Hy benadruk die organisasie het ook uitstekende samewerking met die metro se brandweerspan by die Phillip Nel Park-brandweerstasie.
Volgens hom het AfriForum se Wes-Moot-takbeheerkamer omstreeks 15:45 ’n noodoproep rakende ’n veldbrand tussen huise in Claremont ontvang.
“Die Wes-Moot-brandspan het na die toneel gehaas en die brand vinnig onder beheer gebring en geblus. Op hul pad terug na die beheersentrum is ’n tweede veldbrand in Suiderberg opgemerk en met die span se aankoms op die toneel is bevind dat die vuur reeds tot teenaan die aangrensende eiendomme of dalk meer as een eiendom se grensmure versprei het. Vinnige ingrype was derhalwe van kritieke belang en die brandspan kon daarin slaag om ook dié brand spoedig te blus,” verduidelik Steinberg.
’n Derde veldbrand het daarna skaars twee blokke daarvandaan ontstaan, wat die reeds uitgeputte span ook suksesvol kon blus.
Volgens Johan Liebenberg, inligtingspanleier van AfriForum se Wes-Moot-buurtwag, dui alles tans daarop dat hierdie brande met opset gestig is.
“Dié tendens is uiters kommerwekkend en hoewel ons brandspan dié brande gou onder beheer kon bring en kon toesien dat niemand beseer is nie en geen eiendom skade ly nie, het die voorkoms van sterk winde ’n bykomende risiko vir die span meegebring,” verduidelik Liebenberg.
Hy het die brandstigters se optrede veroordeel.
Volgens hom hou sulke brande groot gevaar vir mens en dier in.
“Selfs die voëls wat in die veld tussen die riete nesmaak, moes vlug voor die vlamme,” sê ’n onthutste Liebenberg.
Hy benadruk dat inwoners, deur die onwettige storting van vullis in oop velde, ook dikwels die risiko van die verspreiding van brande verhoog.
Hy voeg by die gereelde opruiming van groenstroke is daarom noodsaaklik, maar rig ook ’n waarskuwing oor die onwettige storting van rommel en die aan die brand steek daarvan. Inwoners word versoek om nie oop areas in buurte hiervoor te gebruik nie.
mn/sl
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.


