Local newsNews

Pretoria-stokers bobaas mampoermakers

'n Mampoerproe-sessie waartydens die bobaas stokers van Suid-Afrika aangewys is en liefhebbers van die fynproewerdrankie enige soort mampoer, van bloubessie tot drakevrugte, kon proe was 'n reusesukses by die Mampoerfees by die Voortrekkermonument.

Cisco van Schaik van die Moot is een van die mampoerkonings wat by vanjaar se Mampoerfees op 6 Julie by die Voortrekkermonument deur die 25 beoordelaars van die Kultuurstokersgilde aangewys is.

Van Schaik het die NS Fourie-skild met kersiemampoer, die Lambert Badenhorst-skild vir sy versnitmampoer en Distillique-trofee vir sy drakevrug-mampoer verower by die Kultuurstokersgilde se Nasionale Kampioenskappe tydens die fees.

“Ek dink my mampoer werk omdat ek dalk in my vorige lewe ’n alchemis was,” sê Van Schaik grappenderwys.

Nog ’n Pretoria-stoker, Bobby van der Westhuizen, het met talle toekennings weggestap: Die Izerka Swart-skild, Miemie Ernst-trofee, Alwyn Swart-skild, die Hennie Labuschagne-skild sowel as die Loftie Ellis-skild. Hy spesialiseer in sitrus-mampoer.

Die kampioenmampoerstoker is Pieter van der Berg van Naboomspruit wat met sy perskemampoer drie dubbelgoue medaljes en een goue medalje gekry het en die Kiep Swart-trofee verower het.

Die kampioen witblitstoker is Marijke Kleinhans van Stilbaai wat die tweede agtereenvolgende jaar die kroon dra.

Die Voortrekkermonument was vir die eerste keer die gasheer van die Gilde se kampioenskappe. Stokers het ook hul voggies en toerusting vertoon. Verskeie proesessies is gehou wat liefhebbers van witblits soms na hul asems laat snak het.

Die hoofbeoordelaar Loftie Ellis van Stellenbosch, was in sy noppies met die meeste inskrywings ooit vir die Gilde se kampioenskappe. Hy is al 39 jaar ’n beoordelaar.

“Die 684 inskrywings van verskeie etikette is ’n nuwe rekord,” sê Ellis.

Hy is in sy noppies met die standaard van die produkte wat beoordeel is.

“Daar is goeie innoverende produkte gewees. Net vyf produkte uit die 684 het nie ’n medalje gekry nie. Daar was werklik geen swak produkte nie,” verduidelik Ellis.

Hy glo die wetenskaplike manier wat die beoordeling geskied, dra veel by tot die regverdigheid van die kompetisie.

“Ons is 25 beoordelaars wat drie dae lank blind proe aan die produkte met ander woorde ons kan geen vooroordele hê nie want die produkte het niks om hulle herkoms aan te dui nie,” benadruk Ellis.

Vanjaar se mampoer-aanbod is onder meer gemaak van appels, appelkose, perskes, vye, sitrus, pruime en druiwe.

Vir Ellis het die produkte wat van vyeblare gemaak is, uitgestaan.

Boet Schoeman se peermampoer en Hennie Badenhorst se pruimmampoer was van die meer tradisionele produkte.

Hoofbeoordelaar Loftie Ellis

Daar was ook meer vernuwend stokers wat minder tradisioneel gedink het en in hul produkte met vrugte soos bloubessies, aarbeie en draakvrugte geslaag het om van die dubbelgoue en goue medaljes te verwerf.

Mampoer was nog lank nie die enigste aanbod van stokers nie. ’n Toekenning is ook vir die beste tradisionele medisinale produk aan Martie Schoeman gemaak en die innoverende lemoenlikeur, orangechello, van Annelize Campher is met die Hannes de Klerk-trofee bekroon.

Die wenners van die kampioenskappe sluit in Raylene van der Westhuizen, Danie en Dawie Swan, Annelie Crail, Rooie Campher, Boet Schoeman, Hennie Bronkhorst, Alwyn Swart, Martie Schoeman, Bobby van der Westhuizen, Annelize Campher, San Bronkhorst, Izerka Swart, Cisko van Schaik, Coetzee Laubscher, Hana Johnson, Arno Vogt en Maryke Kleynhans.

Die mampoerkonings gee natuurlik nie maklik wenke of geheime weg nie maar Hendrie van Rooy glo hoe meer gereeld jy jou produk proe, hoeveel beter is die produk.

“Hou net aan proe en jy sal wel weet of die eindproduk reeds gereed is,” verduidelik die mampoerstoker wat ’n voorkeur het om druiwe of rosyne in sy produkte te gebruik.

Vir Apie Breedt, bekend vir sy bloubessie-produkte, gaan dit oor die toegewydheid.

“Jy moet die passie hê om te stook en daarmee saam kom die geduld om jou tyd te neem. Goeie veroudering is die geheim,” sê Breedt.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button