Terapie-teddiebere troos met durende drukkies
Sagte en snoesige terapie-teddiebere wat effe swaarder as gewone sagte speelgoed is, word gebruik om kinders met trauma te help om te voel of hulle 'n drukkie kry wat aanhou en aanhou.
’n Graad 8-leerder van Hoërskool Waterkloof het onlangs 120 ongewone, effe “swaarwigtige” terapie-teddiebere aan die Kinderkankerstigting se noordelike streek geskenk.
Juané van Rooyen het 25 van die teddies aan kinderkankerlyers by die Dr George Mukhari Akademiese Hospitaal uitgedeel.
Ina Schomper, streekbestuurder van die stigting se noordelike streekkantoor, ’n span van die Atterbury Trust en GROOTfm 90.5 het Van Rooyen vergesel.
Van Rooyen beoog om nog sulke terapie-teddies uit te deel binne die volgende jaar met haar weldoenersprojek van die organisasie sonder ’n winsoogmerk, Fading Dreams – Keep Children’s Dreams Alive.
Sy verkoop gewone teddies as ’n projek om die terapie-teddiebere aan te koop en uit te deel. Sy het ook vroeër vanjaar ’n skenking van R90 000 gekry om met haar projek voort te gaan.

Sy het op 16 Junie vir haar projek met die teddiebere en ander kindergerigte projekte by die South African Children and Youth Awards twee toekennings gekry: die Red Cross Memorial Children Hospital Contribution-toekennning en die South African Children and Youth Foundation Ambassador-toekenning.
Die drukkiebeertjies is deel van haar projek om saam met haar ma Jacqueline sowel as ’n Pretoria-psigometris, Miana Spies, kinders te help wat trauma en leeruitdagings beleef.
Spies verduidelik dat sulke 5kg-teddies, as gevolg van hulle gewig, kan die gevoel van ’n blywende drukkie skep by iemand wat hulle vashou.
Terapie-teddiebere word dikwels met plastiese korrels of pluismateriaal gestop sodat hul swaarder as gewoonlik voel.
“Die terapie-teddies bring verlengde troos deur druk op die heupe, enkels en bene van ’n pasiëntjie uit te oefen, en stuur impulse na die brein wat die strelende effekte van ’n warm omhelsing naboots,” verduidelik Spies.
Sy wys daarop dat daar bewyse is dat hierdie teddiebere merkwaardige terapeutiese voordele inhou.
“Een hiervan is dat hulle ’n gevoel van sekuriteit, gerusstelling en emosionele ondersteuning bied aan kinders wat dit die nodigste het,” vertel sy.
Schomper sê die gebaar word waardeer aangesien die stigting vanjaar hul 45ste bestaansjaar vier en talle soortgelyke projekte aanpak.
Tans word 1 000 tot 1 050 kinders per jaar in Suid-Afrika met kanker gediagnoseer.
Die kankersoorte wat die meeste by kinders gediagnoseer word tans is bloed-, brein-, limf- en nierkanker.
Volgens Schomper is die kinderkanker-oorlewingssyfer in Suid-Afrika sowat 55%.
“Kinderkanker word nog gesien en geag as ’n skaars siekte en daarom word die vroeë simptome dikwels nie raakgesien nie,” sê Schomper.
Van Rooyen se oorblywende terapie-teddies wat sy aan die stigting geskenk het, sal in vier ander onkologiese sale, soos onder meer by Steve Biko Akademiese Hospitaal, uitgedeel word.
Vir meer inligting oor die Kinderkankerstigting, en oor hoe individue betrokke kan raak, besoek choc.org.za.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
