Local newsNews

Wenkoortradisie in die ooste skep ‘wensone’

Trotse koortradisies in Pretoria-oos dra by tot prestasies by nasionale en internasionale kompetisies.

Die wensone van hoërskoolkore in Suid-Afrika is in Pretoria-oos.

Onlangse prestasies het gewys die bakermat van wenhoërskoolkore in Suid-Afrika is binne ’n radius van 2km rondom Lynnwoodweg geleë.

Die 47ste ATKV-Applous-finaal het vanaf 24 tot 27 Julie in Kaapstad plaasgevind en twee Pretoria-hoërskoolkore het in verskeie kategorieë hulself bewys.

Onder die seunskore het Afrikaanse Hoër Seunsskool meer as 90% behaal en is as nasionale kategoriewenner (meer ervare seunskore) aangewys.

Dié koor het ook die algehele tweede plek op die aand, naas die meisieskoor van Hoërskool Stellenberg van Kaapstad se noordelike voorstede, beklee.

AJ Maree

Koorleier AJ Maree skryf die trotse Pretoria-koortradisie toe aan die klem in die hoofstad se koorkringe op deelname eerder as mededinging.

“Die konsep van die belangrikheid van deelname en om die gemeenskap te dien, is belangrik vir Pretoria-kore. By ons en die ander wenskole word alle prestasies, hetsy kultuur of sport, ook oor dieselfde kam geskeer,” wys die wiskunde-onderwyser uit.

Die innemende Maree lei nou al die koor vir nege jaar nadat hy sy werk in die korporatiewe wêreld vaarwel toegeroep het om meer sin in ’n betekenisvolle beroep te vind.

Hy het nie self op universiteit in kore gesing nie. Met die aanvang van sy loopbaan as koordirigent het hy ook geen formele opleiding vir die pos gehad nie.

Hy het wel serenadegroepe op Tukkies afgerig in sy studentejare.

Die administrasie van die koor was sy eerste betrokkenheid daarby. Hy het die dirigeerstokkie in 2015 opgetel toe die dirigentepos beskikbaar raak.

Maree glo passie, deursettingsvermoë en om jou als te gee is ’n wenresep vir ’n koorleier.

Hy is reeds in 2019 genooi om op ’n internasionale koorkonferensie waar groot koorname teenwoordig was, juis sy resep vir ’n wenkoor te verduidelik.

Vir Maree het elke uitvoering ’n ‘sweet spot’. Daai oomblik wat iets in jou en in die gehoor net ‘pieng’ sê. Dan weet jy jy het jou doel bereik om harte met musiek te verower.”

Hy omskryf hierdie oomblik só: “As die koor so kan sing dat die grens tussen die koor en die gehoor met musiek oorbrug word, en die grens mettertyd verdwyn, dan het julle harte aangeraak.”

Vir koorleier Jeanmari van Papendorp van Die Hoërskool Menlopark-koor het die wenkoortradisie van Pretoria ook veel te make met ’n nuwe generasie van koorleiers wat veral in laerskool-voedingskole reeds ’n grondslag lê.

Sy staan al meer as twee dekades met ’n koorleierstokkie in die hand.

“Ongelooflike kinders, ’n toegewyde skoolbestuursliggaam en ondersteuning deur kollegas en ouers, is belangrik vir elke koor se sukses,” benadruk Van Papendorp.

Sy glo veel van die sukses kan ook daaraan toegeskryf word dat die koorlede mekaar nie in die steek wil laat nie. “Hulle gee hul beste vir mekaar.”

Die Hoërskool Menlopark-koor van vanjaar het onder haar leiding in die onlangse ATKV-koorkompetisie in die kategorie vir Gemengde Kore goud verwerf met ’n puntetotaal van meer as 88%.

“Dis ’n bonus as mens as koorleier ook ’n opvoeder is met ’n hart vir kinders. Jy wil dan ook ’n gehoor vir die toekoms oplei en opbou en wil leerders ’n lewenslange liefde vir koorsang gee,” sê Van Papendorp.

Jeanmari van Papendorp

Die wenkoorsone sluit nie net die ATKV-kompetisie se prestasies in nie.

Die vriendelike koorleier van die Afrikaans Hoër Meisiekool Pretoria, Renette Bouwer, sal vanjaar op ’n hoogtepunt van haar koordirigentloopbaan by dié meisieskool afskeid neem na meer as ’n dekade se verbintenis aan die skool.

Bouwer en die koor het in Julie in Sentraal-Europa getoer. Hulle het in Bratislava, Slowakye, opgetree en het by ’n internasionale koorkompetisie (International Youth Festival) skoonskip gemaak.

Die Blou Engele het twee kategorieë gewen. Die koor het die volgende punte behaal: 96% vir Youth Choir Sopranos and Altos en 97% vir Musica Sacra with Accompaniment asook die GRAND PRIX-prys vir kore.

Kore kwalifiseer slegs vir die Grand Prix-prys as hulle ’n punt van 97% en hoër behaal het.

“Ons dogters was uitmuntend,” sê Bouwer.

Ook laerskole van Pretoria het in die ATKV-kompetisie presteer. Die prys vir die Beste Uitvoering van ’n Afrika-lied is deur die Laerskool Pretoria-Oos verwerf terwyl in die kategorie die Beste Uitvoering van ’n Afrikaanse komposisie is die derde plek aan die Laerskool Monumentpark toegeken. In die Prestige-afdeling vir laerskole het die Laerskool Elarduspark ook ’n Beste Uitvoering-kategorie gewen.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Back to top button