Ses Pretoria-vroue se naam op kultuurtrust se ererol
Altesaam 25 vroue is vereer met benoemings op 'n ererol van 'n gedenktrust.

Vir Vrouedag vanjaar op 9 Augustus is die name van 25 vroue landswyd in ’n gedenktrust vir kultuur, die Cordis Trust, se erkenningsrol bekend gemaak.
Die ererol is erkenning aan persone wat bygedra het tot deernisprojekte, Afrikaanse woordkuns en projekte ter verruiming van die geestelike lewe van individue en gemeenskappe.
Ses vroue van Pretoria is op die ererol van die Pretoria-gebaseerde trust wat vanjaar sy 25ste jaar bestaansjaar vier: Aniki Joseph van Pretoria-oos, Jopie Koen van die Moot, Margaret Cordier, Rina Cascione, Steffie le Roux en Surita Marais van Lyttelton.
Trust-woordvoerder Fanie Marais verduidelik die trust wil met die benoemings erkenning gee aan verskeie uitsondelike vroue ter viering van Vrouemaand.
“Ek staan telkens in verwondering oor vroue se ywer en toewyding tot resultate in wat hul doen,” sê Marais.

Surita Marais, ’n prokureur, sê sy beywer haar veral vir projekte ter bevordering van die jeug en gee insette oor vernuwende benaderings vir die trust se projekte.
“Ek het ’n ingesteldheid vir deernis. As prokureur kom ek konstant in aanraking met die werklikhede van die lewe en poog ek te alle tye on dit in perspektief te plaas. My hoofrol is egter as ma vir my kinders en streef ek daarna om ’n gebalanseerde lewensperspektief by my kinders te kweek,” benadruk Marais.
Sy dra haar toekenning op aan alle vroue, veral “die vroue wie elke dag in stilte hul eie mylpale bereik”.
Aniki Joseph, bekende kolomskrywer en skrywer, is op vanjaar se lys vir Vrouedag, maar het ook al in die verlede die trust se Orde van die Beiteltjie ontvang.
Sy glo sulke toekennings motiveer die ontvangers.
Sy sê ’n tweede bundel van haar koerantrubrieke is byna gereed vir publikasie, en het vanjaar ingeskryf vir ’n volledige gevorderde kursus in poësie. Verder is sy mede-skrywer in verskeie digbundelpublikasies en beplan sy om vroeg aanstaande jaar haar eerste solo debuutdigbundel te publiseer.
“Hierdie is alles dinge wat voortgevloei het uit daardie gebaar van erkenning. Daar is niks lekkerder vir ’n skrywer as om te weet dat mense jou werk lees en jou hoor nie,” vertel sy.
Haar boodskap aan elke vrou is om nóóit hulle drome te begrawe nie, want “alles is moontlik in God se perfekte tyd”.

Jopie Koen, bestuurder, stigter en eienaar van die Pierneefteater in die Moot, het met groot dankbaarheid die erkenning aanvaar.
“My voorneme is om steeds die voorbeeld en goeie werk voort te sit ten opsigte van liefdadigheidswerk, maar ook met betrekking tot toewyding aan Afrikaans in die algemeen en Afrikaanse gedigte in die besonder.”
Sy is veral dankbaar dat optredes vir persone met gestremdheid by die teater in die jaarlikse Ten Spyte Van-week moontlik gemaak word deur haar verbintenis met Marais.
Digter en skrywer Margaret Cordier van Pretoria-oos sê om betrokke te wees by die identifisering van talentvolle skrywers en digters met minder geleenthede, is ’n voorreg.
“Ek glo ’n platform moet geskep word waar hulle kuns sigbaar word,” vertel Cordier.
Sy is gereeld ’n fasiliteerder van woordkunsprojekte, gefokus op veral inheemse tale wat wesenlik deel is van Afrikaans.
“Die blootstelling aan digters en skrywers asook vertaalde werke in Afrikaans by wyse van skrywerskompetisies is belangrik,” verduidelik Cordier meer van haar ontwikkelingsfokus.
Vir digter Rina Cascione, wat in 2021 gedebuteer het met die debuutdigbundel Meer as woorde, was die benoeming “’n groot verrassing”.
Cascione se naam was al op die kortlys vir die Ingrid Jonkerprys.
Uit haar vertalerspen het Kliniek van verlatenheid, ’n vertaling in Afrikaans van die Italiaanse digter Alda Merini se digbundel met dieselfde naam, in 2022 verskyn en is goed deur kritici ontvang.
“Om erkenning te kry vir werk wat alleen in ’n studeerkamer plaasvind, is ’n riem onder die hart,” sê Cascione.
Steffie le Roux se benoeming is gegrond op haar werk as sanger en akteur.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.