Vermaaksterre met Pretoria-bande skitter by Silwerskermfees
Pretoria mag dalk nie die mekka van die Suid-Afrikaanse film en TV-bedryf wees nie, maar indien die aantal toekennings by die kykNET Silwerskermtoekennings vir Film en TV getel word, is die hoofstad wel die woon- en grootwordplek van vele sterre en kunstenaars.
Verskeie media- en silwerskermsterre van Pretoria asook voormalige Pretoria-inwoners, het ’n ryke oes van toekennings by die kykNET Silwerskermtoekennings vir Film en TV ontvang.
Die gesogte toekennings is tydens ’n gala op Saterdag, 31 Augustus by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum oorhandig.
In die kategorie van beste aanbieder in ’n vermaaklikheidsprogram het die bekende aanbieder en oud-omroeper sowel as restaurant-eienaar van Centurion, Rian van Heerden ’n toekenning ontvang vir sy aanbiedersrol in die program Wie word ’n miljoenêr?
Van Heerden het aan Rekord gesê: “Dis goed om te weet dat die kykers die program geniet en die baie klein rolletjie wat ek speel!”
Hy is opgewonde oor ’n Afrikaanse gruwelrige slagtersrolprent (slasher) wat gedeeltelik in Pretoria verfilm is en teen die einde van Oktober vrygestel word.
Oudleerling van Hoërskool Overkruin en Pretoria-inwoner, Bennie Fourie, het die toekenning ontvang vir beste akteur in ’n komedie vir sy rol in die TV-program Taktiek.
As die beste aanbieder in ’n joernaalprogram het oudleerling van Die Hoërskool Menlopark, Kabous Meiring, as ankeraanbieder van Prontuit ’n toekenning ontvang.
Oud-Tukkie Lourensa Eckard het as die beste aanbieder in ’n aktuele program vir haar ankeraanbiederwerk een van die gesogte toekennings gekry sowel as in die kortfilmkategorie ’n toekenning vir beste draaiboek vir ’n kortfilm.
Pretoria-aanbieder van die TV-program Die GROOT Ontbyt, Pierre Breytenbach, het gewys hy is ook ’n man van vele talente met sy toekenning vir beste manlike byspeler in ’n speelfilm vir sy rol in Som van twee.
Pretoria-ma van twee, Simoné Pretorius, het gesorg vir die beste draaiboek van hierdie speelfilm (Som van twee) wat ook met talle ander toekennings weggestap het.
Vanjaar is die gesogte Silwerskermbeeldjies weer uitgedeel aan akteurs, aanbieders en persoonlikhede wat tussen 1 April 2023 en 31 Maart 2024 vir uitmuntende vermaak op die kykNET-kanale gesorg het.
Daar is ook erkenning gegee aan legendes in die vermaaklikheidswêreld.
Hans Strydom, wat al van 1973 af diep spore in veral Afrikaanse flieks getrap het en die patriarg At Koster in Binnelanders speel, en die veelsydige Denise Newman, deesdae veral bekend vir haar ikoniese rol as Bridgette in Suidooster, is beide vir hul lewensbydraes vereer.
Die TV-vervaardiger Roberta Durrant is ook vir haar lewenslange toewyding aan die bedryf gehuldig.
Kliek hier om ’n voorskou van die rolprent te sien wat die meeste toekennings gekry het:
Som vir twee: https://www.facebook.com/Silwerskermfees/videos/1529383504315471
Ander wenners:
In die TV-kategorie:
Beste byspeler in ’n komedie: Taktiek – Mandri Sutherland
Beste aanbieder in ’n leefstylprogram :Ommighellie – Frazer Barry
Beste nuweling in ’n telenovela of sepie: Wyfie – Mienke Ehlers
Beste aktrise in ’n komedie: Magda Louw – Desiré Gardner
Beste aanbieder in ’n realiteitsprogram: In die sop – Bertus Basson
Beste ensemble-aanbiederspan: Toks en Tjops – Breyton Paulse, Hamilton Wessels, Rika Nieuwoudt, Rikus de Beer, Janina Oberholzer, Jean de Villiers, Jonathan Mokuena, Jannie du Plessis, Tommy Dickson (Chef Vaatjie)
Beste byspeler in ’n telenovela of sepie: – Wyfie – Marguerite van Eeden
Beste manlike byspeler in ’n drama: Koek – Dawid Minnaar
Beste vroulike byspeler in ’n drama: Koek – Sandra Prinsloo
Beste aanbieder in ’n dokumentêre realiteitsprogram: Grondpad geloof – Dana Snyman
Beste aanbieder in ’n geselsprogram: Hannes aan huis – Hannes van Wyk
Beste akteur in ’n drama: Koek – Jacques Bessenger
Beste aktrise in ’n drama: Koek – Cindy Swanepoel
Beste aktrise in ’n telenovela of sepie: Suidooster – Jill Levenberg
Beste akteur in ’n telenovela of sepie: Arendsvlei – Jody Abrahams
Persoonlikheid van die Jaar: Rachelle Fourie
Wenners in die speelfilm-kategorie
Beste draaiboek van ’n speelfilm: Som van twee – Simoné Pretorius
Beste oorspronklike klankbaan in ’n speelfilm: Som van twee – Snoozefest, Hunter Kennedy
Beste klankontwerp in ’n speelfilm: Die Kwiksilwers – Sound Surgeon Studios, Morné Marais
Beste kinematografie in ’n speelfilm: Hier.Na – Ebrahim Hajee
Beste redigering in ’n speelfilm: Som van twee – Dries Scholtz
Beste grimering en haarstilering in ’n speelfilm: Die Kwiksilwers – Hanri Neethling
Beste kostuums in ’n speelfilm: Hier.Na – Ayesha Khatieb
Beste vroulike byspeler in ’n speelfilm: Hier.Na – Trudy van Rooy
Beste regie in ’n speelfilm: Som van twee – Simoné Pretorius
Beste akteur in ’n speelfilm: Som van twee – James Borthwick
Beste aktrise in ’n speelfilm: Hier.Na – June van Merch
Beste speelfilm: Som van twee
Wenners in die kortfilm-kategorie
Beste draaiboek van ’n kortfilm deur ’n opkomende filmmaker: Marie se laaste dag – Mercy Kannemeyer en Lourensa Eckard
Beste regie van ’n kortfilm deur ’n opkomende filmmaker: Die Skynwerper – Dewet van Rooyen
Beste kinematografie in ’n kortfilm: Marie se laaste dag – Tom Marais
Beste redigering in ’n kortfilm: Baas se honne – Leon Visser
Beste akteur in ’n kortfilm: Die Skynwerper – Ben Albertyn
Beste aktrise in ’n kortfilm: Selah – Erica Wessels
Beste Shotgun-kortfilm: Baas se honne
Die wenners in die dokumentêr kategorie:
Beste kort dokumentêr: Maak stil die geblaf
Beste regie in ’n kort dokumentêr: Maak stil die geblaf – Marisa van Tonder
Beste redigering in ’n kort dokumentêr: Vergeet van my – Pierre-Arnold Theron
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.




