Moles by spogskool verdeel ouers
Die omstredenheid rondom bewerings van moontlike wanadministrasie en onvanpaste gedrag teenoor leerders en personeellede het ouers van die skool in twee groepe verdeel.
Ouers van leerders van Hoërskool Waterkloof in Pretoria-oos is in twee geskeur oor die bewerings wat daartoe gelei het dat die skoolhoof Chris Denysschen (49) tydelik na die administratiewe kantore van die Gautengse Onderwysdepartement geskuif is.
Dit is as ’n voorkomende maatreël gesekondeer hangende ’n ondersoek na bewerings van onvanpaste gedrag en moontlike wanadministrasie.
Die ondersoek moet binne 90 dae afgehandel word.
Die skool se beheerliggaam het die ouers voor die skoolvakansie se aanvang op 20 September per brief in kennis gestel dat die hoof tans ondersoek word en dat hulle hieroor in gesprek met die onderwysdepartement laat in September sal gaan.
Klagtes teen Denysschen is reeds deur ouers by die department ingedien.
Departementswoordvoerder Steve Mabona het Donderdag bevestig die ondersoek duur voort maar wou nie bevestig of die beheerliggaam al in samesprekings met die department was nie.
Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie wat Denyscchen in die aangeleentheid verteenwoordig se woordvoerder, Paul Sauer, sê Denysschen doen nie tans diens by die administratiewe kantore van die departement nie aangesien hy op mediese verlof is.
Nog sulke klagtes is op pad van twee groepe volgens Steve Hefferman, ’n prokureur van Centurion wat namens die groepe die klagtes saamstel, formuleer en na die onderwysdepartement verwys.
Hefferman het aan Rekord gesê dat hy in die afgelope week met ’n groep ouers sowel as ’n groep onderwysers van die skool samesprekings gehou het oor die weg vorentoe met hul klagtes.
“In hierdie stadium is dit vir ons belangrik dat die klagtes ernstig deur die departement opgeneem word en dat ’n deeglike ondersoek oor die 90 dae vereiste tydperk vir ’n ondersoek, gedoen word.”
Die klagtes van die ouers se kant handel oor die beweerde onvanpaste opmerkings en aanmerkings met veral seksuele innuendo’s wat Denysschen klaarblyklik gemaak het. Van die personeel se kant is daar beweringe rondom glo onvanpaste op- en aanmerkings in die personeelkamer sowel as in ’n privaat hoedanigheid teenoor van die personeel,” sê Hefferman.
Een van die groot besware wat talle van die ouers, volgens Hefferman noem, is ’n aankondiging wat Denysschen na bewering voor ’n dag sou maak waarin die leerders met gewone klere skool toe sou kom.
“Hy het in die aankondiging die meisies aangespreek om nie té kort rokkies aan te trek en hul skouers té kaal te los nie aangesien dit die seuns en onderwysers kan verlei,” sê Hefferman.
“Die ouers voel die leerders is minderjarige kinders met wie jy nie sulke praatjies kan maak nie. Hulle voel hy smokkel met die kinders se koppe,” verduidelik hy.

Hy voel dat die departement ook die besware van ouers rondom die moontlike en beweerde wanadministrasie rondom die bou van die multimiljoen-rand ouditorium in ag moet neem.
“Ouers is bevrees dat as gevolg van moontlike wanaanwending van skoolfondse hiervoor sal hulle in die toekoms meer vir items soos skooltoere moet betaal en dat skoolfooie selfs verhoog sal word. Hulle vrees fondse sal te min wees sodat die beheerliggaam nie meer ander uitgawes van ouers sal subsidieer nie. Die besware raak dus ook die ouers se beursies,” meen hy.
“Van die ouers kan nie die nut van die konstruksie van die nuwe gebou insien nie aangesien die ou skoolsaal voldoende was.”
Die denominasie wat vantevore die skoolsaal gehuur het vir dienste, Every Nation Elarduspark se leier, gospelsanger Retief Burger, het in ’n mediaverklaring die kerk van die omstredenhede rondom die bou van die ouditorium gedistansieer.
Burger sê die skool het sedert November 2023 nie meer die skoolsaal vir dienste gehuur nie en het net die moontlikheid bespreek om in die toekoms die nuwe ouditorium te huur vir dienste. Denysschen is nie ’n lid van dié gemeente nie.
Hefferman se kantoor verwag nie dat die saak in die hof sal gaan draai nie aangesien sy instruksies behels om die klagtes direk aan die department voor te lê.
Hy vermoed dat ouers wat wel vir Denysschen voorspraak maak “bes moontlik nie so ingelig is oor die dag-tot-dag werking van die skool nie en oor wat presies in die gange aangaan nie”.
Onlangs het ’n groep besorgde ouers wel hul lojaliteit op sosiale media teenoor die skoolhoof betuig en ’n verklaring is deur talle ouers gedeel wat so gelui het:
“Ons, die ouers van Hoërskool Waterkloof, wil hiermee ons steun aan die skool en die skoolhoof, mnr. Chris Denysschen, bevestig te midde van die onlangse aantygings in die media. Ons is van mening dat mnr. Denysschen die skool met integriteit, morele waardes, en ’n Christelike leierskapstyl bestuur het. Terwyl ons glo dat enige ondersoek behoorlik sy gang moet gaan, sal ons as ouers steeds soos ’n muur rondom Hoërskool Waterkloof staan om ons kinders, die skool en sy personeel teen enige eksterne aanvalle te beskerm. Ons vertroue in die skool se bestuur bly ongeskonde, en ons is verbind tot die behoud van die skool se goeie naam en voortgesette uitnemendheid. Ons glo vas dat die waarheid uiteindelik sal seëvier en dat Hoërskool Waterkloof sal voortgaan om ’n lig in ons gemeenskap te wees.”
’n Sosiale media-blad met meer as 1 500 lede is ook deur ouers ten gunste van Denyscchen se terugkeer as skoolhoof tot stand gebring op Facebook met die naam Trotskloof.
Een van hierdie blad se deelnemers, het ’n ope brief van bekommerde ouers aan Rekord gestuur waarin hy skryf onlangse gebeure vernietig reputasies en benadeel die leerders van die skool. Hy spreek namens die ouers hul misnoë uit oor die eensydige beriggewing wat die afgelope tyd in die media versprei is en die skade wat dit veroorsaak het.
Die groep voel dit is hul plig om te reageer op die onakkurate en onvolledige verslaggewing wat nie net die reputasie van die skool geskend het nie, maar ook kinders se welstand negatief beïnvloed het.
“Terwyl ’n klein groepie gegriefde ouers hulle klagtes aan die media gerig het, het hierdie klagtes, wat nie in ’n breër konteks geplaas is nie, ’n wanindruk geskep oor die bestuur en kultuur van die skool. As gevolg hiervan, word ’n skool wat oor dekades heen ’n toonbeeld van uitnemendheid was, nou gekonfronteer met kritiek wat nie gebaseer is op die werklikheid nie,” lui die ope brief.
Die brief wys daarop dat sedert berigte hieroor in die media verskyn het, het leerders onseker en bang geword.
“Hulle beweeg deur die gange van die skool met die gevoel dat hulle onder ’n vergrootglas geplaas is. Ons hoor gereeld van kinders wat bang is om in hul skoolklere in die openbaar gesien te word, of wat selfs onseker voel oor hul identiteit as trotse Klofies. Hierdie onsekerheid het ’n klomp emosionele spanning by die kinders veroorsaak, veral met die einde van die skooljaar wat normaalweg gevier behoort te word as ’n tyd van prestasies en samehorigheid. Boonop moet duisende leerders voorberei vir baie belangrike eksamens waar Waterkloof nog altyd topresultate lewer,’ lui ’n paragraaf uit die brief.
Die ouers voel dit is hul verantwoordelikheid om te verseker dat leerders in ’n veilige, ondersteunende en positiewe omgewing kan floreer.
“Ons moet ook beklemtoon dat mnr. Denysschen, die skoolhoof, oor die jare heen ’n uitsonderlike rol gespeel het om Hoërskool Waterkloof se nalatenskap van uitnemendheid te handhaaf. Hy is ’n leier wat deur sy integriteit, Christelike waardes en ’n onwrikbare toewyding aan die ontwikkeling van ons kinders ’n skool bestuur het wat ons almal met trots vervul. Ons sal nie toelaat dat ’n groepie gegriefde individue die goeie naam van ons skool vernietig of ons kinders in vrees laat leef nie. Ons glo dat ons saam sterker is, en dat hierdie moeilike tyd net ’n kortstondige hindernis is in die groter prentjie van wat ons skool kan en sal bereik. Ons vertroue in ons kinders, ons skool, en die onderwysers is onwrikbaar, en ons sal voortgaan om ons ondersteuning te bied in hierdie tyd,” lui die ope brief, onderteken deur “Die ouers van Hoërskool Waterkloof”.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
