Local newsNews

Sangduo glo in vrede binne-in jouself

Twee sangers voel hul nuwe enkelsnit "Vat My Saam" moet die boodskap oordra dat goeie dinge binne jouself begin. Vir hulle begin liefde by liefde vir jouself en aanvaarding begin by aanvaarding van jouself. Die wyshede het hulle aan die Weskus geleer en ervaar.

Bekende en geliefde sanger voormalig van Pretoria, Tiaan Grundling, en sy sangmaat André Huysamen, se nuwe enkelsnit “Vat my saam” is hul terugkeerliedjie nadat hulle vir tien jaar geen oorspronklike vrystelling gehad het nie.

Maar wys Huysamen uit: “Ons was nooit regtig weg nie. Ons het nog hier en daar optredes behartig, maar dit was meer persoonlik as kommersieël gewees.”

Alhoewel hulle nou Yzerfontein in die Wes-Kaap aan die Weskus as basis gebruik, het beide nog sterk wortels met Pretoria.

Andre Huysamen en Tiaan Grundling

Grundling vertel dat aangesien sy ouers nog in Pretoria woon, sal hy altyd ’n sterk band met Pretoria hê.

“Ek is daar gebore, het daar grootgeword en my vriende en familie woon almal nog daar. Dit is waar my wortels diep lê. My ouers het my nog altyd ondersteun en vir my die vrymoedigheid gegee om ’n loopbaan in musiek uit te kerf. My ouers het my na elke vertoning toe gery en my klank behartig. Ons was ’n span en het elke oomblik saam geniet,” vertel hy nostalgies.

Hoe ouer hy word, hoe meer waardeer en eer hy sy ouers vir die groot rol wat hulle in sy lewe vertolk het, en vandag steeds doen.

“In Pretoria lê my mooiste herinneringe. Ons het die voorreg om tussen twee provinsies te leef en is gereeld in Pretoria,” verduidelik Grundling.

Andre Huysamen

Huysamen het vir 11 jaar in Pretoria gewoon en gewerk.

“Van my familielede het ook oor die jare daar gewoon, so ek voel baie tuis daar. Die jakarandabome bly maar so mooi en betowerend. Ek geniet dit om gereeld daar te wees.

“Kyk, dit was maklik om snoek en patats vir pap en vleis te verruil. Kaiings is net so lekker! Die Kapenaars kan gerus by die Pretorianers kom leer hoe om ordentlike Rugby Mix (biltong) te maak,” spot Huysamen.

Beide het al verskeie toekennings ontvang, onder andere van die ATKV vir hul bydrae tot die bevordering van Afrikaanse Kuns en Kultuur.

Van hul hoogtepunte sluit in ’n optrede vir ’n voormalige president by die Uniegebou in Pretoria en ’n optrede by die FNB Stadion in Johannesburg voor ’n skare van bykans 70 000 mense.

Tiaan Grundling

Grundling se enkelsnit “As die hemel huil” was vir 13 weke lank die nommer-een treffer op ’n plaaslike radiostasie.

In 2014 was Huysamen genomineer as Nuweling van die Jaar by die Bok Radio Musiek-toekennings.

Die groep het al ’n paar toere regoor die land behartig, en by verskeie damesoggende en glansgeleenthede opgetree.

Die saamsingery het begin nadat hul paaie gereeld oor die jare by feeste regoor die land gekruis het.

“Ons het nooit regtig met mekaar gesels nie, net so in die verbyloop tussen verhoë en produksies mekaar gegroet.

’n Gemeenskaplike vriendin het ons aan mekaar voorgestel, en ons het net lekker gekliek en dadelik musiek begin maak. Ons is toevallig albei dieselfde ouderdom en ons families het so baie met mekaar in gemeen gehad, dat ons dadelik ’n tipe van broederskapband gevorm het,” vertel Huysamen.

Yzerfontein is vir hulle ’n goeie blyplek omdat hulle balans daar vind.

Vir beide is die Weskus-verblyf ’n rustige bestaan in ’n stil dorpie weg van die stadslewe en lawaai af.

Grundlingh beskou die dorpie wat met die langste ononderbroke strand in Suid-Afrika kan spog, die 16-mylstrand wat vanaf Yzerfontein tot aan die Weskus Nasionale Park strek, as ’n plek om te kan ontspan, asem te skep en kreatief te kan wees.

Die nuwe enkelsnit gaan juis oor so ’n rustige lewensreis en nie om altyd jou bestemming in die oog te hou nie.

“Die lewe is gemaak om te geniet. Ons kyk partykeer so vas in al ons sorge en probleme, dat ons vergeet om net te laat los en teenwoordig te wees. Als werk altyd uit soos dit moet, en jy gaan meer as oukei wees. Solank jy nog asemhaal, het jy ’n doel. Solank jy weet wat jou doel is, sal elke dag ’n avontuur wees,” vertel Huysamen filosofies.

Die twee wil juis die boodskap met die lirieke oordra dat ’n mens moet aanhou soek na wat jou gelukkig maak en verandering omhels.

Huysamen beskou “As ek opstaan, dan dans die son op my gesig, op jou heilige grond en voor jou aangesig” as van die sterkste lirieke in “Vat My Saam”.

“Elkeen in hierdie wêreld ervaar ’n geestelike herlewing op een of ander manier. Iets wat jou bietjie dieper na die lewe laat kyk sodat jy vrede kan vind binne jouself en baie van jou omstandighede. Dit kweek teenwoordigheid, empatie, deernis en liefde in die lewe. Nie net vir jouself nie, maar ook vir jou medemens. Ons sing nie net nie, en het ook oor die laaste dekade verskeie holistiese kursusse voltooi. Dit is ook hoekom ons ’n dieper boodskap met ons musiek wil oordra, en dit is hoe die konsep van ‘Vat My Saam’ gebore is,” verduidelik hy.

Hulle beplan ’n landswye toer in 2025 om die nuwe musiek te bemark.

“Dit is iets waarna ons baie uitsien. Veral om weer ’n paar gunstelingdorpe en -feeste te besoek, en om ons lojale ondersteuners weer te kan sien. Ons wil ook ’n paar kleiner optredes by teaters en huiskonserte aanpak. Dit is baie lekkerder en meer intiem, en so gee dit ons ook die kans om beter met luisteraars te kan kliek,” glo Huysamen.

Beide werk ook tans aan solo musiek en projekte as ’n duet.

“Ons stemme komplementeer mekaar so goed, dus is dit baie lekker om saam te sing en saam te toer. Daar is baie nuwe musiek op pad waarna ons uitsien,” sê Huysamen.

“Die lewe is so kort en alles kan in ’n oogwink verander. Ons sal nooit die voorreg as vanselfsprekend aanvaar nie. Dus is dit belangrik om te geniet wat jy doen. Ons bepaal ook ons eie sukses. As ons musiek tien mense se harte aangeraak het, voel ons ons is baie suksesvol,” som Huysamen dit op.

– Kliek hier om na die liedjie te luister:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button