Local newsNews

Centurion se Mej. Aarde SA glo in mode met waardes

Sy is 'n voorspraakmaker dat 'n kledingstuk 'n tweede lewe moet kry as jy nie meer self nut daarvoor het nie.

Mej. Aarde Suid-Afrika, Jessica Nel (25) van Centurion, sê sy is opgewonde om Suid-Afrika op die wêreldverhoog in die Fillippyne te gaan verteenwoordig en teen 114 ander deelnemers deel te neem.

Nel is deur beoordelaars gekies vir haar bewustheid van omgewingskwessies en gemeenskapsbetrokkenheid.

Die eerste prinses is Joy Magagula, tweede prinses is Justine Munusamy en die derde prinses is Thembisile Mathebula.

Die Mej. Aarde-kompetisie is vanjaar vir die 21ste keer in Suid-Afrika aangebied.

Nel is ’n sosialemedia-bestuurder by ’n bemarkingsagentskap en het haar eie handelsmerkstempel, Petal and Posy, waaronder sy saam met maar ma, Alison Nel, volhoubare mode bepleit.

Dis juis haar ingesteldheid teenoor die omgewing wat Nel ook altyd fyn na mense laat luister en haar voete op die pad na die wennerskroon geplaas het.

“Ek het koffie bestel. Die barista het uitgespel hoeveel duisende koppies daagliks deur hulle maatskappy weggegooi word net omdat hulle die name van koffiekopers verkeerd gespel het wanneer hulle die name op ’n koppie aanbring om die bestelling reg af te handel,” sê Nel. 

Mej. Aarde Suid-Afrika, Jessica Nel Foto: Facebook/Voortrekker

Die kwaad wat aan die omgewing hiermee aangedoen word, het aan Nel ’n slapelose nag besorg. Toe sy die volgende dag ’n e-pos oor die Mej. Aarde-kompetisie kry, het sy gevoel sy kan dit nie ignoreer nie.

“As alles so mooi saamloop, weet ek altyd die Here is aan die werk,” sê die oudleerling van Hoërskool Zwartkop.

Nel is veral teen sogenaamde “fast fashion” gekant waar massa-geproduseerde klere teen ’n spoed ten koste van menseregte en die omgewing op die rakke van veral groot klerekettingwinkels wêreldwyd beland.

“Die kleurstowwe wat via die prosesse in water beland, veroorsaak groot besoedelingsprobleme,” wys sy uit.

Nel is veral ’n voorspraakmaker dat duur uitrustings soos aandklere nie net in ’n kas hang nie, maar uitverhuur word of op ’n ander manier soos hermodellering van die patroon en materiaal, ’n tweede kans kry.

“Ek en my ma het hierdie gaping in die mark gesien en verlede jaar ’n klerereeks begin opbou om klere weer ’n geleentheid te gee om gedra te word,” verduidelik sy.

Mej. Aarde Suid-Afrika, Jessica Nel Foto: Gerhard Pretorius

By die internasionale Mej. Aarde-kompetisie sal Nel uitrustings dra wat deur New Romantics gemaak is.

Sy is dankbaar dat sy as model ook geleer is dat dit nie altyd nodig is om iets nuuts te dra nie, maar om eerder kreatief ’n uitrusting aan te vul met iets wat jy reeds in haar klerekas het.

“Ek het al vele van my ma se klere en bykomstighede op ’n nuwe ander manier gedra, dikwels tot haar verbasing!” lag sy.

Sy kuier graag in vintage-winkels om te kyk hoe sy bestaande klere in haar eie styl kan oormaak.

Nel vlieg hierdie week na die Fillipyne om in die internasionale kompetisie deel te neem en verwag dat sy standpunt sal moet inneem oor kwessies soos klimaatsverandering en weeruiterstes wat tot brande en natuurrampe lei.

Photo: Twitter / @missearth_sa

 

Sy moet ook ’n video van haar herkomsland na die kompetisie neem en het gekies om die Voortrekkermonument te promoveer.

“As deel van die voorbereiding vir Mej. Aarde moet die wenners uit elke land video’s en foto’s neem waarin hulle hulself aan die wêreld voorstel. Ek het net besef ek kan myself nie voorstel aan die wêreld sonder om my kultuur deel te maak van my video’s nie, en waar beter om dit te doen as by die monument waar ek al soveel jare saam met my familie kuier,” sê sy.

In Suid-Afrika glo sy is een van die oplossings op die omgewingsfront dat daar meer solidariteit en samewerking tussen omgewingsorganisasies moet wees.

“Ons moet almal meer bymekaar begin staan. Daar is tans te veel verskillende omgewingsorganisasies. Saam sal ons meer kan vermag.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button