Lesers hoor hoe om moeilike boeke te lees
Leeskringe se gesamentelike byeenkoms is vanjaar ingekleur deur ’n letterkundige wat hulle toegelig het hoe om moeilike boeke se lees makliker te maak.
Leeskringe in Pretoria het ’n geslaagde gesamentlike byeenkoms in Magalieskruin gehou met talle leeskringe soos die Mabel Malherbe Leeskring, Menlopark Leeskring en Glenstantia Leeskring se lede wat geboei geluister het na letterkunde-kenner, prof. Willie Burger.
Burger het die vraag aangespreek oor hoekom skrywers soms hulle stories so ingewikkeld maak.
Van die gevolgtrekkings waartoe hy gekom het, is dat soms word tekse nie op die regte manier gelees nie, taalstrukture deur skrywers ’n teks ook onduidelik kan maak en soms is die gedagtegang van die skrywer eenvoudig te moeilik.

“Daar kan dalk te veel filosofiese gedagtes wees,” sê Burger.
Burger voel die leser moet hom egter nie hierdeur laat ontmoedig nie.
“Veral as verwysings van wêrelde wat hy nie ken nie, deur die skrywer geskets word, kan ’n leser sukkel. As die verwysings moeilik is, hoe kan die boek maklik wees? Maar lees is soms harde werk en dis nodig dat die leser uitgedaag word,” voel Burger.
Hy het telkens na die bekende skrywer en digter NP van Wyk Louw verwys en hom aangehaal oor sy siening dat letterkunde die hele mens moet aanspreek.

“Soms kry ’n mens se verstand kortsluitings en dan raak ’n teks moeilik,” glo Burger.

Hy het daarteen gewaarsku dat lesers net moet lees wat vir hul aanvaarbaar is, hul eie idees en verwysingsraamwerk stroomlyn en eerder van wat hul ervaar as “normaal” moet wegkom.
Wat veral vir lesers ook deesdae moeilik is, is die vervreemding wat dikwels plaasvind wanneer skrywers hul verhale aanbied in ’n vorm wat vir ’n leser onbekend is en dalk nie aan die vereistes van bekende genrefiksie voldoen nie.

“Stories moet saamvat wat in ’n mens se lewe aangaan en betekenis gee aan jou wêreld.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
