Local newsNews

Soete harmonie by Duetfees

Vertolkings deur duette van liedjies uit die Grensoorlog-era het tot verskeie hoogtepunte van 'n musiekfees bygedra.

’n Prestige-toekenning en twee blyke van erkenning en waardering is tydens die Elfde Jaarlikse Afri-Duetfees op 17 Oktober in die NG Kerk Elarduspark aan stryders van die Grensoorlog (1966-1989) oorhandig.

Verskeie bekende sangers is in duette ingedeel om tydens hierdie hoogtepunt op die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se kultuurkalender hulde te bring aan soldate en die musiek wat in hierdie oorlogsera tot die Afrikaanse sangskat toegevoeg is.

Die soldate het vanaf 1966 tot 1989 in die Grensoorlog in die noordelike streke van Suid-Afrika geveg.

Van die duetpare vir die aand was Jannie Moolman en Helene Bester, Louis Loock en Loriska Schmidt, Hendri Myburgh en Nadia Beukes sowel as Christopher Vale en Esté Gross.

Nadia Beukes en Hendri Myburg

Die tema van die konsert, Ons onthou, het ruimte gemaak vir liedjies uit die oorlogera soos “Troepie Doepie” en “Ek verlang na jou”.

Bekende liedjies uit die era soos “Die Suidweslied” het lede van die gehoor aangedaan gelaat. Daar was ook ’n vertolking van ’n meer onlangse lied uit die musiekblyspel oor die Grensoorlog, Die Kaplyn.

Liedjies is ook deur die hele span sangers vertolk sowel as individuele vertolkings deur onderskeidelik ’n koor van die mans- en vrouesangers.

Dit is veral die aanpassing van die bekende lied van Josh Groban “You raise me up” om te lui “Now we stand up”, waar bekende sterre soos Loock en Moolman se sterk en herkenbare stemme, vir ’n hoogtepunt gesorg het.

Die hoogtepunt van die fees was die oorhandiging van die FAK-Prestigetoekenning aan generaal-majoor Lawence Smith van die Pro-Patria-museum. Smith het as voormalige adjunk-hoof van die Weermag en nou verbonde aan die Pro Patria-museum, as voorsitter van die museumdireksie, die toekenning in ontvangs geneem.

Hierdie gesogte toekenning is opgedra aan die Suid-Afrikaanse Weermag van 1966 tot 1989 en die Pro Patria-museum. Ten eerste aan die Weermag vir hul dienswerk en opofferings om Suid-Afrika te beskerm, en aan die museum vir hul werk om die geskiedenis van die era te onthou en vir die nageslag te bewaar.

“Hierdie soldate het ook liedere geïnspireer wat die hoop, gebede en emosies van ’n nasie gedra het,” het dr. Danie Langner, besturende direkteur van die federasie, tydens die oorhandiging gesê.

Lawrence Smith en dr. Danie Langner

Smith het die geskiedenis van die totstandkoming van die Pro Patria-museum vir die gehoor geskets. Hy het ook blyke van waardering aan twee soldate uit die era, Gordon Petrus du Plessis en Thinus van Jaarsveld, oorhandig.

Hy het Du Plessis, ’n bekende oogarts in Pretoria, bedank vir sy onbaatsugtige diens in die geneeskundige arm van die Weermag tydens die oorlog.

Van Jaarsveld het tydens ’n operasie in die oorlog sy been in ’n fratsongeluk in ’n vragvliegtuig verloor, maar het ten spyte van ’n beenamputasie sy droom verwesenlik om ’n vliegkwalifikasie te verwerf.

“Jou deursettingsvermoë is vir ons almal ’n inspirasie,” het Smith aan hom gesê.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button