News

Laerskool Mayville vra ouers se ondersteuning

Klagtes is oor en weer gelê by onderwysliggame deur die beheerliggaam van die Laerskool Mayville en 'n juffrou wat ontslaan is.

Die Laerskool Mayville sê in ’n brief van Dinsdag aan ouers dat die skool 100% funksioneel is en dat personeel steeds gefokus is op leerders en hul daaglikse taak as opvoeders.

“Ons eerste prioriteit is die welsyn van ons skool en ons leerders,” lui die brief.

Die brief volg op ’n vergadering wat op Maandag by die skool vir ouers en personeel gehou is na onlangse berigte in die media oor ’n beweerde fisiese verhouding op die skoolterrein tussen die skoolhoof, Jacques Joubert (47), en ’n 24-jarige personeellid, wat sedertdien afgedank is.

Klagtes is deur die beheerliggaam van die skool sowel as ’n ontslane personeellid by onderwysliggame hieroor aanhangig gemaak.

Die brief verduidelik die skool se beheerliggaam het reeds in die eerste kwartaal klagtes vanaf personeel en ouers rondom die bewering ontvang.

Die brief bevestig dat bewyse tydens ’n ondersoek versamel is en tydens die beheerliggaam vergadering van 15 Julie oorweeg is.

Joubert is volgens die brief ingelig van die bewerings en bewyse wat ontvang is.

Op 14 Augustus het die betrokke onderwyseres haar klagstaat ontvang vir ’n tugverhoor wat twee dae later onder die voorsitterskap van ’n arbeidskonsultant, Anerike Schutte, gehou is.

Schutte, ’n prokureur, het volgens die brief die onderwyseres namens die beheerliggaam op 21 Augustus skuldig bevind en sy is onmiddellik ontslaan.

Vyf dae later het die beheerliggaam alle klagtes en bewerings rondom moontlike voorvalle spruitend uit die fisiese verhouding op die skoolterrein aan die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders gerapporteer.

Die brief meld op die versoek van die onderwyseres, is ’n buitengewone vergadering aangevra met die skool se tugkomitee waartydens sy skuld beken het op al die aanklagte.

Die Laerskool Mayville het op 5 September ’n formele klag by die Gautengse Departement van Onderwys teen die juffrou ingedien waarna die departement alle bewyse en klagstate aangevra en ondersoek het.

Die departementele ondersoek het op 7 Oktober afgeskop met onderhoude met personeel en is ook op 14 Oktober hervat.

Woordvoerder van die departement, Steve Mabona, het bevestig dat ondersoeke oor Laerskool Mayville onderweg is.

“Die ondersoek gaan oor beweringe wat deur die ontslane leerkrag teen die hoof, Jacques Joubert, en die onderhoof, Albertus Kluyts, gemaak is,” sê hy.

Die klag teen Kluyts deur die ontslane leerkrag hou verband met sy rol in die dissiplinêre proses van die beheerliggaam.

Mabona verduidelik die uitslag van die ondersoek sal bepaal watter aksies geneem sal word.

Hy sê omdat die aanstelling van die ontslane leerkrag ’n beheerliggaam-aanstelling is, lewer die departement nie kommentaar oor aangeleenthede rondom die leerkrag nie.

Steve Erickson van Erickson Professional Services, wat die ontslane juffrou verteenwoordig, het aan Rekord gesê in opdrag van sy kliënt, word die media se vrae nie meer beantwoord nie.

“In die lig van verskeie koerantberigte en artikels in die media, is daar genoegsame inligting wat gedeel was en voel my kliënt nie om enigsins verder met die pers te praat nie,” verduidelik Erickson.

Die brief van die Laerskool Mayville aan ouers benadruk dat geen lid van die beheerliggaam die media oor die aangeleentheid gekontak het nie.

Die voorsitter van die skool se beheerliggaam, Ronnie Robbertse het alle navrae van Rekord na die Gautengse Departement van Onderwys verwys.

’n Ouer wat die vergadering by die skool bygewoon het, maar anoniem wil bly, sê dat sy teleurgestel is. Sy sê die proses rondom die klagtes en bewerings is bespreek en ’n oproep is op ouers gemaak om nie verder met die media te praat nie en hande te vat gedurende die uitdagende omstandighede.

“Daar is nie gisteraand ’n woord oor die hoof nie en onderhoof gepraat nie. Ek sou tog nog meer inligting oor hul rol in die saak wou gehad het.”

Rekord het die skool telefonies sowel as per e-pos gekontak om die skoolhoof en adjunk-skoolhoof geleentheid te gee om hul saak te stel, maar teen tyd van publikasie is geen antwoord ontvang nie.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button