Local newsNews

Sterre skitter helder by 25ste viering

Met soveel nuwe sowel as gevestigde musikante en sangers op die verhoog, kon die Sterrenag-konsert niks anders as 'n skitterende sukses wees nie.

Wie het nou ’n daglange fees nodig as jy ’n veelsydige groep van talentvolle, uiteenlopende sangers op ’n somersaand in Pretoria bymekaar kan kry?

Juanita du Plessis met haar energieke rasieleier-energie wat ’n hele funksiesaal kon kry om saam te sing en te beweeg terwyl sy koningin van die verhoog in ’n swart leerbroek is.

Die sjarmante Willem Botha as seremoniemeester met sy Riversdal bry-stem en positiewe ingesteldheid in ’n wit hemp met ’n beertjie daarop.

Willem Botha

Selfs ’n Mej. Supranational van 2021, Chani Rabe, het haar verskyning gemaak om aankondigings te doen.

Gooi hierby Du Plessis se seun, Ruan Josh, met sy gospeltreffer “Provider” wat hy peinsend op ’n stoel sit en sing het, plus die lenige Leah uit die Kaap, en jy het ’n boerejol “bomb squad”!

Leah se nuutste enkelsnit “Aanhou” het in Augustus verskyn. Sy maak haar gereed om die hoofrol in die Aspoestertjie-pantomime by die AfriForum-teater in Pretoria-oos eersdaags vanaf 4 tot 13 Desember te speel.

Leah

Die Sterrenag-opvoering deur hierdie en ’n verskeidenheid ander kunstenaars was ook die viering van die 25-jarige bestaansjaar van die kunstenaars-agentskap van Pretoria, CO-Productions.

Die agentskap is die fotograaf, grimeringskunstenaar en sanger Willem Botha se agente vir meer as 16 jaar en hy het van die pad met hierdie span vertel.

Onteenseglik egter was die rockkoning van die verhoog, die bondel suiwer kitaardinamiet, Zaan Sonnekus en sy eie orkes.

Zaan Sonnekus

Soos hy tereg sê: “Dis soos Afrikaans sonder backtracks klink!”

Hierdie oud-Bloemfonteiner weet hoe om ’n volle verhoog van hoek tot kant tot sy gehoor se voordeel te gebruik en geniet elke oomblik onder die kalklig.

Sy optrede het gewys hy is ’n gedugte liedjieskrywer en ’n meesterlike vertolker van sy eie lirieke, soos die treffer “Plastiese Swaard” wat nege maande gelede bekendgestel is.

“Hier is ’n song vir al die plastiese mense in jou lewe,” het hy die geesdriftige gehoor meegedeel.

Bloemfontein se verlies is voorwaar Pretoria se wins!

Met ’n growwe pleitstem vol sjarmante liefdespleidooie, is Ivan Roux die sokkietreffersanger in die musiekagentkap met die stout seun-voorkoms wat hartstogtelik sing van hoe die liefde in sy lewe “sy beauty is en hy is haar beast” uit sy liedjie “Doen dit als vir liefde”.

Ivan Roux

Glo my, Ivan Roux is geen monster nie.

Met ’n stem wat so af en toe aan ’n Bryan Adams herinner, kan hierdie pa van ’n eenjarige en verloofde, Dané Venter, dalk meer as net sy “Beauty” se hart verower.

Die verrassing van die aand was melankoliese nuweling Fran Prins wat met sy skraal lyf en emosionele stem Afrikaanse countrymusiek weer nuwe lewe kan gee.

Hy kort net ’n skeutjie selfvertroue. Sy twee maande oue enkelsnit “Hoogtyd” het al 34 000 trefslae op YouTube.

Maar soos gewoonlik is dit Bobby van Jaarsveld met sy kleinseuntjie-sjarme, filmstervoorkoms en ’n vonkel in sy oog, wat die gehoor aan die sing en dans kon kry met sy liedjie “Alles”.

Hy het ook gespot met die lirieke van sy eie liedjie “’n Vrou wil dit hoor” toe hy raad aan die manne in die gehoor gegee het.

“Ek is jammer. Dis dié drie woorde wat elke vrou by haar man wil hoor,” het hy met selfspot gesê.

Die groep musikante het goed saam gejel in die twee medleys en dan veral met musiek uit die blyspel Grease met Leah as Sandy Ollson en Ruan Josh as Danny Zuko.

Bobby van Jaarsveld

Slim rolverdeling van ’n knap musiekregisseur.

Potchefstroom se nuutste rock-chick in leer van kop tot by die soom van haar kortbroek, die voorsanger van die groep Rooksein, Megan Danner, weet ook hoe om met ’n gehoor te werk.

Met die liedjie “Kyk na my hart” het dié flambojante blondekop dikwels haar diep dimpels in haar wange laat inkeep terwyl mede groeplede André Maritz en Renier van der Westhuizen die kitare laat sing het.

Lee Scott

En dan is daar die rustiger oomblikke: Bekroonde kunstenaar Lee Scott het roerend ballades gesing asof hy die ernstigheid van die liefde en die lewe besef. Hy het nie gehuiwer om selfs met hope selfvertroue ’n emosionele vertolking van Britse sanger Adele se welbekende liedjie “Set fire to the rain” te gee nie.

Sterrenag was voorwaar ’n aand van sterre, oud en nuut, waarvan nie een ’n verskietende ster is nie.

– Kliek hier om Zaan Sonnekus op die verhoog te sien:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button