‘Rotte so groot soos katte’ pla oues van dae
Inwoners van 'n ouetehuis in Pretoria-Noord wat huur betaal aan 'n behuisingsmaatskappy van die metro se klagtes oor 'n rotteplaag val op dowe ore.
Die inwoners van ’n ouetehuis aan die agterkant van ’n vullisbestrooide probleemerf in Pretoria-Noord, is al maande genoop om rotte met grawe en gieters dood te slaan nadat ’n rotteplaag ontstaan het.
“Vullisherwinnaars kom dop die sakke met vullis op die privaat erf uit om dit vir items van waarde deur te soek en verwyder dan nie die sakke nie. Die sakke en kratte lê dan vir dae aaneen rond en is ’n kitskoseetplek vir die rotte,” vertel een van die inwoners wat verkies om anoniem te bly.
Die stand van sake duur nou al glo twee jaar in die omgewing.
“Die rotte is so groot soos katte,” vertel die inwoner.
Daar is al op die inwoner se venster met ’n windbuks geskiet en gate in ’n tuinslang gemaak deur beweerde booswigte in die buurt wat via die probleemerf deur ’n gat in die heining toegang kry. Stoepplante word ook na bewering gereeld gesteel.
Een so inwoner woon al langer as tien jaar in die ouetehuis en voel die buurt en area het deur die jare agteruit gegaan met erwe. Veral hierdie probleemerf waarop daar wel ’n bewoonde huis staan, maar geen toesig oor die omstandighede en werksaamhede is nie.
“Dis só ’n gesondheidsgevaar,” waarsku die inwoner.
Ander inwoners van die ouetehuis maak nie meer hul deure van hul grondvloerwoonstelle oop nie en hou net hul venster driekwart oop vir vars lug om te verhoed dat die rotte die woonstelle binnekom.
Een van die inwoners sê ’n rondloperkat het hom nou gelukkig op haar stoep kom tuismaak en sy kan weer haar deur laat oopstaan.
Inwoners het ook met die skoonmaak van ’n kamer, nadat een van die inwoners afgesterf het, op twee dooie rotte afgekom.
“Dit is so verontrustellend,” vertel ’n inwoner.
Bo en behalwe om die rotte dood te slaan, span die inwoners ook rottegif in alhoewel hulle bang is dit kan weer diere soos troeteldiere en voëls doodmaak.
Die ouetehuis met sy meer as 20 eenhede word meesal bewoon deur bejaardes wat op ’n maatskaplike toelaag moet lewe.
Volgens een inwoner is daar nie werklik finansies om aan enige ekstras te spandeer nie. “Ons kan dit werklik nie op ons eie bestry nie. Die oorsaak moet weggeneem word.”
Verskeie klagtes en oproepe om hulp vir ’n langtermyn en volhoubare oplossing is al ter plaatse aan die opsigter van die terrein gemaak wat in ’n opslaanhuis op die terrein woon.
“Niks word aan ons klagtes gedoen nie,” vertel nog ’n inwoner.
Huur moet maandeliks aan die behuisingsmaatskappy, Housing Company Tshwane, wat deur die metro gekontrakteer is om huurgeld in te samel, betaal word. Die huur beloop normaalweg tussen R300 en R600, en R900 word aan krag uitgegee.
Kommentaar is van die Tshwane metro aangevra maar nog nie ten tye van publikasie ontvang nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.


